2 Kronieke 15

15
Die goeie dinge wat Asa gedoen het
1Daar was 'n profeet Asarja, hy was die seun van Oded. Die Gees van God het op hom gekom, 2en hy het na koning Asa toe gegaan en vir hom gesê: “Asa en al die mense van Juda en Benjamin, julle moet luister. Die Here sal by julle wees as julle Hom dien. As julle Hom wil dien, dan sal Hy tevrede wees, maar as julle Hom los, dan sal Hy júlle los. 3 Israel het 'n lang tyd nie die ware God gedien nie. Hulle het nie 'n priester gehad wat vir hulle kon leer nie en hulle het nie die wette van God geken nie. 4Maar wanneer dit sleg gegaan het met hulle, dan het hulle teruggekom na die God van Israel en dan wou hulle Hom dien, en Hy was tevrede. 5In daardie tyd kon 'n mens nie veilig rondgaan in die land nie, want in al die lande was daar probleme. 6Volke en stede het mekaar aangeval, want God het hulle bang gemaak en Hy het hulle laat swaarkry. 7Maar julle, julle moet sterk wees, julle moenie moedeloos wees nie, want julle sal beloning kry vir die dinge wat julle doen.”
8Toe Asa die boodskap hoor wat die profeet Oded gebring het, het hy besluit wat hy wil doen. Hy het die afgodsbeelde laat wegvat uit die hele land Juda en Benjamin en uit die stede wat hy in die Efraim-berge gevat het. Hy het die altaar laat regmaak wat voor die voorportaal van die tempel was. 9Toe het hy gesê al die mense van Juda en Benjamin moet bymekaarkom, en ook al die mense van die stamme Efraim, Manasse en Simeon wat in Juda en Benjamin kom woon het en wat daar vreemdelinge was. Baie mense van Israel het na Asa toe gekom toe hulle sien dat sy God die Here by hom is. 10Hulle het bymekaargekom in Jerusalem in die derde maand van die vyftiende jaar nadat Asa koning geword het. 11Hulle het daardie dag vir die Here offers gebring. Hulle het diere van die Kussiete gevat, en hulle het van daardie diere gegee om te offer. Dit was 700 beeste en 7 000 skape en bokke. 12Hulle het 'n ooreenkoms gemaak met mekaar. Hulle het belowe om die Here, die God van hulle voorvaders, te dien met hulle hele hart en siel. 13Hulle het besluit dat almal moet sterf wat nie die Here wil dien nie. Dit maak nie saak of hulle jonk of oud, man of vrou is nie. 14Hulle het hard geskree en gejuig en hulle het trompette en ramshorings geblaas toe hulle dit alles belowe het en gesê het die Here is die getuie. 15Almal in Juda was bly omdat hulle dit belowe het, want hulle het dit belowe met hulle hele hart. Hulle wou regtig die Here dien, en die Here was tevrede. Hy het vir hulle vrede gegee, daar was nie vyande rondom hulle nie. 16Koning Asa het ook vir sy ouma Maäka gesê sy sal nie meer belangrik wees omdat sy 'n koning se ma is nie, want sy het 'n afgodsbeeld laat maak van die godin Asjera. Asa het die beeld omgegooi en stukkend geslaan. Hy het dit laat verbrand in die Kedron-vallei. 17Daar was nog altyd offer-plekke in die land Israel, maar Asa het sy hele lewe lank aangehou om die Here te dien.
18Asa het die gewyde presente van sy pa en sy eie gewyde presente in die tempel gebring. Dit was goud en silwer en ander goed. 19Asa was 35 jaar lank koning, en in daardie tyd was daar nog nie oorlog in die land nie.

Tans Gekies:

2 Kronieke 15: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid