2 Kronieke 14

14
1Abia het gesterf, en hulle het hom begrawe in die Dawidstad. Sy seun Asa het koning geword ná hom.
Asa
(Kyk ook 1 Kon 15:9-15)
In die tyd toe Asa koning was, was daar tien jaar lank vrede in die land. 2Asa het dinge gedoen waarvan sy God die Here hou en wat reg is. 3Hy het die altare van ander gode en die offer-plekke weggevat. Hy het die klip-pale afgebreek en hy het die gewyde pale stukkend gekap. 4Hy het vir die mense van Juda gesê hulle moet die Here, die God van hulle voorvaders, dien en hulle moet doen wat Hy wil hê en wat Hy vir hulle sê. 5Asa het die offer-plekke en wierook-altare weggevat uit al die stede van Juda. Daar was vrede in die land in die tyd toe hy koning was. 6Hy het in Juda stede gebou wat sterk mure het. Daar was vrede in die land, hy het nie oorlog gemaak nie, want die Here het vir hom vrede gegee. 7Hy het vir die mense van Juda gesê: “Kom ons bou hierdie stede en ons bou mure om die stede en ook torings en poorte met sluitbalke. Die land behoort aan ons, want ons het ons God die Here gedien. Ons het Hom gedien, en Hy het vir ons vrede gegee, daar is nie vyande rondom ons nie.”
Hulle het toe die stede gebou en hulle het alles goed gedoen.
8Asa het 'n leër gehad. Daar was 300 000 manne van Juda in Asa se leër, hulle het groot skilde en spiese gehad, en daar was 280 000 manne van Benjamin, hulle het klein skilde en pyl en boë gehad. Almal was manne wat goed oorlog kon maak. 9Die Kussiet Serag het gekom om hulle aan te val met 'n leër van een miljoen manne en 300 oorlogkarre. Toe hy by die stad Maresa kom, 10het Asa gegaan om teen hom te veg en hy het gereedgemaak om oorlog te maak in die Sefata-vallei by die stad Maresa. 11Asa het tot sy God die Here gebid en gesê: “Here, net U kan help wanneer baie mense oorlog wil maak teen mense wat nie sterk is nie. Ons God die Here, U moet ons help, want ons glo dat U dit kan doen. Ons behoort aan U, en ons glo dat U ons sal help om oorlog te maak teen hierdie klomp mense. Here, U is ons God, U moenie dat mense U keer nie.”
12Die Here het die Kussiete laat verloor in die oorlog teen Asa en die Judeërs. Die Kussiete het gevlug, 13en Asa en sy manne het die Kussiete gevolg en gejaag tot by die stad Gerar. Die Kussiete het almal in die oorlog gesterf. Die Here en sy leër het die Kussiete heeltemal oorwin. Die Judeërs het baie van die Kussiete se goed gevat. 14Daarna het hulle al die stede rondom Gerar oorwin, want almal was baie bang vir hulle. Hulle het alles wat in die stede was, vir hulleself gevat. Daar was baie goed. 15Die Judeërs het ook die kampe aangeval van die mense wat met skape en bokke geboer het. Hulle het baie skape en bokke en kamele gevat en teruggegaan na Jerusalem.

Tans Gekies:

2 Kronieke 14: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid