MARKUS 16:9-20

MARKUS 16:9-20 NLV

Dit was vroeg die Sondagmôre wat Jesus uit die dood opgestaan het. Hy het eerste verskyn aan Maria Magdalena, uit wie Hy sewe bose geeste gedryf het. Sy het dit toe gaan vertel aan die dissipels wat besig was om te rou en te huil. Maar toe hulle hoor dat Hy lewe en dat sy Hom gesien het, wou hulle haar nie glo nie. Daarna het Hy in ’n ander gedaante aan twee van hulle verskyn wat van Jerusalem op pad was na die platteland. Hulle het toe teruggegaan en dit vir die ander dissipels vertel, maar dié het selfs vir hulle nie geglo nie. Nog later het Hy aan die elftal self verskyn terwyl hulle besig was om saam te eet. Hy het hulle aangespreek oor hulle ongeloof – hulle koppige onwilligheid om dié te glo wat Hom ná sy opstanding gesien het. Toe het Hy hulle beveel: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die Goeie Nuus aan almal, oral. Elkeen wat glo en gedoop word, sal verlos word. Maar elkeen wat nie glo nie, sal veroordeel word. Hierdie is die wondertekens wat dié sal beleef wat glo: Hulle sal bose geeste in my Naam uitdryf, en hulle sal in nuwe tale praat. Hulle sal slange ongedeerd kan hanteer en as hulle iets giftigs drink, sal dit hulle nie affekteer nie. Hulle sal siekes die hande oplê, en hulle sal gesond word.” Nadat die Here Jesus klaar met hulle gepraat het, is Hy in die hemel opgeneem en het Hy op die ereplek aan God se regterhand gaan sit. Die dissipels het toe die Goeie Nuus oral gaan verkondig, en die Here het saam met hulle gewerk en hulle boodskap bevestig deur die wondertekens wat daarmee gepaardgegaan het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid