MARKUS 16:9-20

MARKUS 16:9-20 Bybel vir almal (ABA)

Jesus het vroeg die Sondag-oggend weer begin lewe. Hy het eerste aan Maria Magdalena verskyn. Dit is die vrou uit wie Jesus voorheen sewe duiwels uitgejaag het. Sy het vir die dissipels wat altyd saam met Hom was, gaan vertel dat Jesus aan haar verskyn het. Hulle was nog besig om te huil en te treur. Toe hulle hoor Jesus lewe en Maria het Hom gesien, het hulle dit nie geglo nie. Daarna het Jesus verskyn aan twee van sy dissipels wat buite die stad was. Jesus het toe anders gelyk. Die twee dissipels het teruggegaan na die stad en hulle het vir die ander dissipels daarvan vertel, maar die ander dissipels het hulle ook nie geglo nie. Later het Jesus verskyn aan die elf dissipels terwyl hulle besig was om te eet. Hy het met hulle geraas omdat hulle nie geglo het nie. Hulle was hardkoppig en wou nie die mense glo nie wat gesê het dat hulle Hom gesien het nadat Hy weer begin lewe het. Jesus het vir hulle gesê: “Gaan na die hele wêreld en bring die goeie boodskap vir al die mense. As iemand glo en gedoop is, dan sal God hom red, maar as iemand nie glo nie, dan sal God hom straf. Die mense wat glo, sal wonderwerke kan doen: Hulle sal my Naam gebruik om duiwels uit te jaag en hulle sal nuwe tale kan praat. Hulle sal slange met hulle hande optel, en as hulle iets drink wat giftig is, dan sal dit hulle nie siek maak nie. Hulle sal hulle hande op siek mense sit, en die siek mense sal gesond word.” Nadat die Here Jesus met die dissipels gepraat het, het God Hom na die hemel geneem, en Jesus het langs God gaan sit, op die belangrikste plek. Sy dissipels het oral die goeie boodskap gebring. Die Here het met hulle saamgewerk sodat hulle wonderwerke kon doen. So het God bewys dat die goeie boodskap waar is.

MARKUS 16:9-20 Afrikaans 1983 (AFR83)

Ná Jesus se opstanding vroeg die Sondagmôre, het Hy heel eerste aan Maria Magdalena verskyn, uit wie Hy vantevore sewe bose geeste uitgedrywe het. Sy het dit vir sy dissipels gaan vertel wat oor Hom getreur en gehuil het. Alhoewel hulle by haar gehoor het dat Hy lewe en dat sy Hom gesien het, het hulle haar tog nie geglo nie. Daarna het Jesus met 'n ander voorkoms aan twee van hulle verskyn terwyl hulle op pad was na die platteland toe. Hulle het dit vir die ander dissipels gaan vertel, maar dié het selfs vir húlle ook nie geglo nie. Later het Jesus aan die elftal self verskyn terwyl hulle aan tafel was. Hy het hulle verwyt oor hulle ongeloof en hardheid van hart omdat hulle dié wat Hom ná sy opstanding gesien het, nie geglo het nie. Hy het vir hulle gesê: “Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom. Wie tot geloof gekom het en gedoop is, sal gered word; wie nie glo nie, sal veroordeel word. Die volgende wondertekens sal voorkom by dié wat glo: in my Naam sal hulle bose geeste uitdrywe; in ander tale sal hulle praat; met hulle hande sal hulle slange optel, en as hulle iets drink wat dodelik giftig is, sal dit hulle geen kwaad doen nie; hulle sal siekes die hande oplê, en dié sal gesond word.” Nadat die Here Jesus dit vir hulle gesê het, is Hy in die hemel opgeneem en het Hy aan die regterhand van God gaan sit. Hulle het toe die evangelie oral gaan verkondig, en die Here het met hulle saamgewerk en hulle prediking bekragtig deur die wondertekens wat daarop gevolg het.

MARKUS 16:9-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Nadat Jesus vroeg die oggend op die eerste dag van die week opgestaan het, het Hy eerste verskyn aan Maria Magdalena, uit wie Hy voorheen sewe demone uitgedryf het. Sy het dit gaan vertel vir die mense wat by Hom was, terwyl hulle treur en huil. Toe hulle hoor dat Hy leef en sy Hom gesien het, het hulle dit nie geglo nie. Hierna het Hy in 'n ander gestalte aan twee van hulle verskyn terwyl hulle op pad was na die platteland. Hulle het dit vir die res gaan vertel, maar dié het hulle ook nie geglo nie. Later het Hy aan die elf verskyn terwyl hulle vir ete aangeleun het. Hy het hulle verwyt oor hulle ongeloof en hardheid van hart, omdat hulle die mense wat gesien het dat Hy opgewek is, nie geglo het nie. Hy sê toe vir hulle: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die hele mensdom. Wie tot geloof gekom het en gedoop is, sal verlos word; maar wie nie tot geloof gekom het nie, sal veroordeel word. Hierdie tekens sal hulle wat tot geloof gekom het, vergesel: In my Naam sal hulle demone uitdryf, in nuwe tale praat, en slange met hulle hande optel. As hulle iets dodeliks sou drink, sal dit hulle nie kwaad aandoen nie, en op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word.” Nadat die Here Jesus met hulle gepraat het, is Hy in die hemel opgeneem en het aan die regterhand van God gaan sit. Hulle het toe uitgegaan en oral gepreek. Die Here het met hulle meegewerk en die prediking bevestig met wondertekens wat daarop gevolg het. •Amen.

MARKUS 16:9-20 Die Boodskap (DB)

Vroeg daardie Sondagoggend het Jesus weer lewendig geword. Maria Magdalena het Hom eerste gesien. (Dit was sy uit wie Jesus mos sewe demone verjaag het.) Sy is toe daar weg om vir die ander volgelinge van Jesus te gaan vertel. Hulle almal was nog baie hartseer oor alles wat gebeur het en het gehuil. Toe Maria vir hulle vertel dat Jesus leef en dat sy Hom gesien het, wou hulle nie ’n woord glo wat sy sê nie. ’n Rukkie later het nog twee, wat iewers in die platteland op pad was, Jesus op ’n ander manier gesien. Hulle het vir die ander gaan vertel wat gebeur het, maar dié het hulle ook nie geglo nie. ’n Ander keer was Jesus se elf getrouste volgelinge besig om te eet toe Jesus daar tussen hulle staan. Hy het ernstig met hulle daaroor gepraat dat hulle nie wil glo dat Hy lewe nie en dat hulle so hardkoppig is om nie die ander wat Hom lewendig gesien het te wil glo nie. Hy sê vir hulle: “Gaan vertel vir al die mense die goeie nuus oor My. Almal moet dit hoor. “Elkeen wat julle boodskap glo en by julle as Christene aansluit deur gedoop te word, sal gered word. Iemand wat dit nie wil glo nie, kan maar vergeet: God sal hom straf. “Dié wat glo, sal baie wonderlike dinge doen. Ek sal hulle die krag gee om demone uit mense te verjaag. Hulle sal spesiale nuwe tale kan praat en sal slange met hulle kaal hande optel. Gif en sulke dinge sal hulle ook niks kan aandoen nie. Hulle sal net aan siek mense raak en die mense sal dadelik gesond word.” Daarna is die Here Jesus terug hemel toe om by God self op ’n ereplek te sit. Sy volgelinge het die boodskap oral gaan vertel. Die Here self het hulle gehelp en het gewys dat dit waar is deur wonderlike dinge daarna te laat gebeur.

MARKUS 16:9-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Dit was vroeg die Sondagmôre wat Jesus uit die dood opgestaan het. Hy het eerste verskyn aan Maria Magdalena, uit wie Hy sewe bose geeste gedryf het. Sy het dit toe gaan vertel aan die dissipels wat besig was om te rou en te huil. Maar toe hulle hoor dat Hy lewe en dat sy Hom gesien het, wou hulle haar nie glo nie. Daarna het Hy in ’n ander gedaante aan twee van hulle verskyn wat van Jerusalem op pad was na die platteland. Hulle het toe teruggegaan en dit vir die ander dissipels vertel, maar dié het selfs vir hulle nie geglo nie. Nog later het Hy aan die elftal self verskyn terwyl hulle besig was om saam te eet. Hy het hulle aangespreek oor hulle ongeloof – hulle koppige onwilligheid om dié te glo wat Hom ná sy opstanding gesien het. Toe het Hy hulle beveel: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die Goeie Nuus aan almal, oral. Elkeen wat glo en gedoop word, sal verlos word. Maar elkeen wat nie glo nie, sal veroordeel word. Hierdie is die wondertekens wat dié sal beleef wat glo: Hulle sal bose geeste in my Naam uitdryf, en hulle sal in nuwe tale praat. Hulle sal slange ongedeerd kan hanteer en as hulle iets giftigs drink, sal dit hulle nie affekteer nie. Hulle sal siekes die hande oplê, en hulle sal gesond word.” Nadat die Here Jesus klaar met hulle gepraat het, is Hy in die hemel opgeneem en het Hy op die ereplek aan God se regterhand gaan sit. Die dissipels het toe die Goeie Nuus oral gaan verkondig, en die Here het saam met hulle gewerk en hulle boodskap bevestig deur die wondertekens wat daarmee gepaardgegaan het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid