DEUTERONOMIUM 13

13
Moenie agter ander gode aangaan nie
1“Sê nou maar daar is ’n profeet by jou of iemand wat drome droom oor die toekoms. Sê nou so iemand maak beloftes oor tekens en wonders 2en die voorspelde tekens en wonders gebeur en die profete sê dan: ‘Kom ons gaan agter ander gode aan,’ gode wat jy nooit geken of gedien het nie, 3dan moet jy nie na die woorde van daardie profeet of uitlêer van drome luister nie. Die Here jou God toets jou net om te wete te kom of jy Hom met hart en siel liefhet. 4Volg maar net die Here jou God en eer Hom. Gehoorsaam sy gebooie, luister na sy stem en hou vas aan Hom. 5Die vals profete of dromers moet doodgemaak word, want hulle het opstand aangemoedig teen die Here jou God wat jou uit die slawerny van Egipte losgekoop het. Omdat hulle probeer het om jou te laat afwyk van die pad wat die Here jou God jou wil laat loop, moet jy die kwaad uit jou midde uitroei.
6“Sê nou jou eie broer of jou seun of dogter of jou geliefde vrou of boesemvriend kom na jou toe en sê in die geheim: ‘Kom ons gaan aanbid ander gode.’ Dit kan gode wees wat jy of jou voorouers nie geken het nie, 7gode van die omringende volke, naby of ver, gode van enige uithoek van die land. 8As hulle dit doen, moenie toegee of na hulle luister nie. Jy moet hulle ook nie jammer kry nie. Moet hom nie verskoon of beskerm nie. 9Maak hom verseker dood! Jy moet dit begin en dan moet die hele volk jou ondersteun. 10Stenig die skuldiges, want hulle wou jou verlei om die Here jou God te verlaat wat jou uit Egipte, die plek van slawerny, uitgelei het. 11Dan sal al die Israeliete hiervan hoor en bang word. Hulle sal nie weer so ’n verkeerde ding doen nie.
12“Sê nou jy hoor dat daar in een van die stede wat die Here jou God aan jou gee, 13slegte mense is wat die inwoners verlei deur hulle aan te moedig om vreemde gode te aanbid wat jy nie ken nie. 14In sulke gevalle moet jy die saak noukeurig ondersoek. As dit blyk dat dit waar is en jy kan bewys dat so ’n afskuwelike ding inderdaad gebeur het, 15moet jy daardie stad aanval en al sy inwoners met al die diere heeltemal vernietig#13:15 Of met die banvloek tref.. 16Jy moet dan al die buit op die dorpsplein bymekaarmaak en verbrand. Steek ook die hele stad aan die brand as ’n brandoffer vir die Here jou God. Daardie stad moet vir altyd ’n puinhoop bly en mag nooit weer herbou word nie.
17“Jy mag niks vir jouself hou van die buit wat verbrand moet word nie. Dan sal die Here nie langer so kwaad bly nie en sal Hy jou weer genadig wees. Hy sal medelye met jou hê en jou ’n groot nasie maak soos Hy aan jou voorouers beloof het.
18“Luister tog na die stem van die Here jou God, wees gehoorsaam aan al sy bevele wat ek jou vandag gee en doen wat reg is in die oë van die Here jou God.”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid