DEUTERONOMIUM 14

14
Diere wat geëet kan word en dié wat verbode is
1“Julle is kinders van die Here julle God. Daarom mag julle nie ter wille van iemand wat dood is julleself stukkend sny, of die hare op julle voorkoppe afskeer nie. 2Julle is ’n volk wat vir die Here julle God as heilig afgesonder is. Die Here het julle as volk gekies om sy kosbare besitting uit al die volke van die aarde te wees.
3“Julle mag niks eet wat onrein is nie. 4Die diere wat julle wel mag eet, is: bees, skaap, bok, 5takbok, ribbok, hartbees, klipbok, eland, gemsbok en bergskaap.
6“Enige dier met gesplete hoewe en wat herkou, mag geëet word. 7As ’n dier nie aan albei vereistes voldoen nie, mag dit nie geëet word nie. Julle mag dus nie ’n kameel, haas of dassie eet nie. Hulle herkou, maar het nie gesplete hoewe nie. 8’n Vark mag nie geëet word nie, want al het hy gesplete hoewe, herkou hy nie. Al hierdie diere is vir julle onrein. Julle mag hulle nie eet of selfs aan die karkasse van sulke diere raak nie.
9“Wat betref die diere in die water: Julle mag alles eet wat vinne en skubbe het, 10maar julle mag nie waterdiere eet wat nie vinne en skubbe het nie. Hulle is vir julle onrein.
11“Julle mag enige voël wat rein is, eet. 12Die voëls wat julle nie mag eet nie, is: arende, lammervangers, aasvoëls, 13swart-aasvoëls, verskillende valksoorte, 14al die kraaisoorte, 15volstruise, nagvalke, seemeeue, verskillende soorte roofvoëls, 16die klein uile, groot uile, wituile, 17pelikane, klein-aasvoëls, visvangers, 18ooievaars, al die soorte reiers, die hoep-hoep en vlermuise.
19“Alle vlieënde insekte is onrein en mag nie geëet word nie, 20maar alle rein voëls mag julle eet.
21“Julle mag nie iets eet wat ’n natuurlike dood gesterf het nie. Julle mag dit vir ’n vreemdeling gee wat by julle woon. Julle mag dit ook aan ’n vreemdeling verkoop. Maar julle mag dit nie self eet nie, want julle is ’n volk wat afgesonder is vir die Here julle God. Julle mag nie ’n bokkie in sy ma se melk kook nie.”
Die tiendes
22“Jy moet ’n tiende van jou oes eenkant sit, een tiende van alles wat jy elke jaar oes. 23Bring die tiende na die plek wat die Here jou God kies om sy Naam te eer en eet dit daar in sy teenwoordigheid. Hierdie reëling geld vir die tiendes van jou graan, wyn, olyfolie en die manlike eersgeborenes uit jou grootvee en kleinvee. Die doel van die tiendes is om jou te leer om altyd die Here jou God te eer. 24Dit mag wees dat jy besonder geseën was, maar dat die plek waar die Here jou God kies om sy Naam te eer, te ver van jou huis af is. 25As dit so is, mag jy die tiende deel van jou oes en van jou diere verkoop en die geld neem na die plek wat die Here jou God kies. 26Wanneer jy daar aankom, gebruik daardie geld om enigiets te koop wat jy wil: ’n bees, ’n skaap, wyn of bier. Jy en jou huishouding moet dan daar in die teenwoordigheid van die Here jou God feesvier. 27Moenie die Leviete in jou gemeenskap vergeet nie, want hulle het geen erfdeel soos wat jy het nie.
28“Aan die einde van elke derde jaar moet jy die tiende van die opbrengs van jou oes van daardie jaar na die naaste dorp bring en dit daar bêre. 29Gee dit vir die Leviete wat nie ’n erfdeel soos jy het nie, asook vir die vreemdelinge wat tussen julle woon en vir die weeskinders en weduwees in jou dorpe sodat hulle kan eet en versadig word. Dan sal die Here jou God jou voorspoedig maak in al jou werk.”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid