1 KORINTIËRS 15:1-11

1 KORINTIËRS 15:1-11 NLV

Broers en susters, ek herinner julle aan die Goeie Nuus wat ek tevore reeds aan julle verkondig het. Julle het dit aangeneem en hierdie boodskap vorm die vaste basis van julle geloof. Deur hierdie Goeie Nuus word julle verlossing bewerk, dit wil sê as julle daaraan vashou soos ek dit oorspronklik aan julle verkondig het – anders was julle geloof heeltemal nutteloos. Die kern van die boodskap wat ek destyds aan julle deurgegee het, en wat ek weer van hulle voor my ontvang het, was dat Christus, soos in die Skrif staan, vir ons sondes gesterf het. Ook dat Hy begrawe is en God Hom op die derde dag opgewek het, soos in die Skrif staan. Verder dat Hy aan Petrus verskyn het en daarna ook aan die twaalf apostels. Daarna het Hy aan meer as 500 van sy volgelinge tegelyk verskyn. Van hulle leef die meeste nou nog, maar party is reeds dood. Daarna het Hy aan Jakobus verskyn en later aan al die apostels. Heel laaste van almal het Hy ook aan my verskyn, asof ek ontydig gebore is. Ek is werklikwaar die geringste van al die apostels, een wat die naam van ’n apostel nie werd is nie omdat ek God se kerk vervolg het. Maar deur God se genade is ek wat ek vandag is. Hy het sy goedheid nie tevergeefs aan my bewys nie. Ek het harder gewerk as al die ander – en tog was dit ook weer nie ek nie, maar God se goedheid wat my gedra het. Maak ook nie saak wie gepreek het nie. Die belangrike feit is dat dít die Goeie Nuus is wat ons verkondig en wat julle in die geloof aangeneem het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid