1 KORINTIËRS 15:1-11

1 KORINTIËRS 15:1-11 Bybel vir almal (ABA)

Vriende, ek wil hê julle moet die goeie boodskap baie goed verstaan, die goeie boodskap wat ek vir julle gebring het. Julle het die boodskap geglo, julle is seker dat die boodskap waar is, en dit red julle. Maar dan moet julle aanhou om die goeie boodskap te glo soos ek dit vir julle gebring het. As julle iets anders glo, dan beteken dit niks dat julle glo nie. Die belangrikste dinge wat ek vir julle geleer het, het die ander apostels vir my geleer, en dit is: Christus het ons sondes weggeneem toe Hy gesterf het. Dit het gebeur soos daar in die Ou Testament geskryf is. Christus is begrawe, en God het Hom op die derde dag weer laat lewe. Dit het gebeur soos daar in die Ou Testament geskryf is. Christus het verskyn aan Sefas, en daarna het Hy ook verskyn aan die twaalf apostels. Daarna het Hy aan meer as 500 gelowiges op dieselfde tyd verskyn. Baie van hulle lewe vandag nog, maar party het klaar gesterf. Daarna het Christus aan Jakobus verskyn, en toe aan al die apostels. Laaste het Hy aan my verskyn. Ek was glad nie belangrik nie. Ek is die minste belangrik van al die apostels. Ek is nie goed genoeg om 'n apostel te wees nie, omdat ek voorheen baie slegte dinge gedoen het aan die mense van die kerk van God. Maar God was genadig vir my, daarom is ek nou 'n apostel. Ja, God was genadig vir my, ek het daarna harder gewerk as al die ander apostels. Maar dit is nie ék wat so goed was nie, dit was Gód wat so genadig was vir my en wat altyd saam met my was. Dit maak nie saak wie vir julle preek nie, ek of die ander apostels. Die belangrikste is dat ons almal dieselfde boodskap bring en dat julle dit geglo het.

1 KORINTIËRS 15:1-11 Die Boodskap (DB)

My liewe broers en susters, laat ons vir oulaas weer kyk na die goeie boodskap oor Jesus wat ek vir julle vertel het. Dit is die boodskap wat julle julle eie gemaak het en nou by sal staan of val. Toe julle hierdie goeie nuus gehoor het, het julle mos Christene geword, natuurlik mits julle nie allerhande afdraaipaadjies vat nie, maar dit glo soos ek dit vir julle vertel het. As julle egter ’n ander pad loop, stap julle weg van God af wat julle red en kan julle net sowel ophou glo, want dit alles sal julle niks help nie. Soos ek die boodskap van ander gehoor het, het ek dit ook vir julle vertel. Die hart van alles is dít: Christus het gesterf sodat ons nie self sal moet sterf vir al die verkeerde dinge wat ons voor God gedoen het nie. Dit is presies wat die Skrif voorspel het sou gebeur. Maar die Skrif het ook verder voorspel dat Hy begrawe sou word en dat God Hom na drie dae weer lewendig sou maak. Net so het dit toe ook gebeur. Petrus het Hom eerste gesien nadat Hy lewendig geword het en later het al twaalf sy getrouste volgelinge Hom gesien. Daarna het Hy aan 500 mense gelyk verskyn. Party van hulle is al dood, maar die meeste van hulle lewe nog. Jakobus het toe aan die beurt gekom en daarna die apostels. Heel laaste het Christus aan my verskyn, ek wat op heeltemal die verkeerde tyd gebore is en daarom lank op die verkeerde pad was. As dit by die apostels van die Here kom, staan ek agter in die ry. Eintlik behoort ek nie eens in daardie ry te staan nie, want kyk net hoe het ek die mense van God vroeër vervolg en probeer seermaak. Maar God was wonderlik goed vir my, wat ek natuurlik geensins verdien het nie. Hy het my gemaak wat ek nou is. Hierdie goedheid van God was nie alles vir niks nie. Ek het harder en meer vir die Here gewerk as enige ander een. Dit was nie ek wat so goed was nie, maar die Here wat so goed vir my was. Hy het deur my gewerk. Eintlik maak dit nie saak wie die werk doen nie, solank dit net gedoen word. Of dit nou ek is of die ander apostels, ons het dieselfde goeie nuus vir julle kom vertel en julle het dit julle eie gemaak.

1 KORINTIËRS 15:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Broers en susters, ek herinner julle aan die Goeie Nuus wat ek tevore reeds aan julle verkondig het. Julle het dit aangeneem en hierdie boodskap vorm die vaste basis van julle geloof. Deur hierdie Goeie Nuus word julle verlossing bewerk, dit wil sê as julle daaraan vashou soos ek dit oorspronklik aan julle verkondig het – anders was julle geloof heeltemal nutteloos. Die kern van die boodskap wat ek destyds aan julle deurgegee het, en wat ek weer van hulle voor my ontvang het, was dat Christus, soos in die Skrif staan, vir ons sondes gesterf het. Ook dat Hy begrawe is en God Hom op die derde dag opgewek het, soos in die Skrif staan. Verder dat Hy aan Petrus verskyn het en daarna ook aan die twaalf apostels. Daarna het Hy aan meer as 500 van sy volgelinge tegelyk verskyn. Van hulle leef die meeste nou nog, maar party is reeds dood. Daarna het Hy aan Jakobus verskyn en later aan al die apostels. Heel laaste van almal het Hy ook aan my verskyn, asof ek ontydig gebore is. Ek is werklikwaar die geringste van al die apostels, een wat die naam van ’n apostel nie werd is nie omdat ek God se kerk vervolg het. Maar deur God se genade is ek wat ek vandag is. Hy het sy goedheid nie tevergeefs aan my bewys nie. Ek het harder gewerk as al die ander – en tog was dit ook weer nie ek nie, maar God se goedheid wat my gedra het. Maak ook nie saak wie gepreek het nie. Die belangrike feit is dat dít die Goeie Nuus is wat ons verkondig en wat julle in die geloof aangeneem het.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid