1 KORINTIËRS 1:10-31

1 KORINTIËRS 1:10-31 NLV

En nou, broers en susters, pleit ek by julle in die Naam van ons Here Jesus Christus om eendragtig saam te staan – één in julle oortuigings. Daar mag nie groepvorming onder julle wees nie. Julle moet van harte saamstem in julle denke en in julle visie. Lede van die huisgesin van Chloë het aan my vertel, my broers en susters, dat daar allerlei struwelinge onder julle voorkom. Ek bedoel dat party van julle sê: Ek volg Paulus; ander weer: Ek volg Apollos; nog ander: Ek volg Petrus; en nog ander: Ek volg Christus. Dink julle regtig Christus kan so in stukkies verdeel word? Paulus is tog beslis nie vir julle gekruisig nie! Of is julle dalk in Paulus se naam gedoop? Ek dank God dat ek niemand van julle gedoop het nie behalwe Krispus en Gaius, want nou kan niemand beweer dat ek mense in my naam gedoop het nie. O ja, ek het ook nog die huisgesin van Stefanas gedoop. Verder weet ek van niemand anders wat ek gedoop het nie. Julle moet verstaan dat Christus my nie in die eerste plek gestuur het om mense te doop nie; Hy het my gestuur om die Goeie Nuus te verkondig – en dit nie met allerlei woordkunsies nie, want daarmee verloor die kruis van Christus sy krag. Ek besef hoe belaglik die boodskap van die kruis moet klink vir hulle wat verlore gaan. Maar vir ons wat verlos word, is dit die krag van God. Soos die Skrif sê: “Ek sal die wyse mense se wysheid tot niet maak; en die skerpsinniges se briljante idees sal Ek van die tafel vee.” Wat het dus geword van die filosowe, die boekgeleerdes, die debatvoerders van hierdie wêreld? God het bewys hoe inherent dwaas die wysheid van hierdie wêreld in werklikheid is. Aangesien God in sy wysheid beskik het dat die wêreld Hom nooit deur menslike slimmigheid sou vind nie, het Hy dit goedgevind om deur die “dwaasheid” van ons prediking dié wat glo, te red. Die Jode wil wondertekens hê om die waarheid van die Goeie Nuus te bevestig en die Grieke wil ’n vertoon van wysheid hê. Maar ons verkondig die gekruisigde Christus. Vir die Jode is dit skokkend en vir die nie-Jode is dit absolute dwaasheid. Maar vir ons almal wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is die gekruisigde Christus die magtige kragwerking van God en die wonderlike wysheid van God. Hierdie Goddelike “dwaasheid” is oneindig wyser as enige menslike wysheid en hierdie Goddelike “swakheid” is oneindig sterker as enige menslike kragvertoon. Broers en susters, dink maar net terug hoe julle eie situasie destyds was toe God julle geroep het. Gemeet aan menslike standaarde was daar maar min intellektueles onder julle, nie baie magtiges nie, nie baie uit vooraanstaande families nie. Nietemin het God doelbewus dit wat vir die wêreld na dwaasheid gelyk het, uitgekies om die slim mense skaam te maak en dit wat vir die wêreld na swakheid gelyk het, het Hy uitgekies om die magtiges skaam te laat kry. Inderdaad, wat vir die wêreld onaansienlik en gering lyk, ja, wat vir die wêreld glad nie ’n faktor is nie, het God uitgekies om wat vir die wêreld wel belangrik is, heeltemal af te skryf. Gevolglik het niemand enige grond om sy bors voor God uit te stoot nie. Dit is deur God alleen dat julle nou aan Christus Jesus behoort. Dit is deur Hom dat Jesus vir ons die wysheid van God geword het, die Een deur wie God ons vrygespreek en vir Homself geheilig en vrygekoop het. Soos die Skrif dit stel: “Die persoon wat graag wil spog, mag net spog oor wat die Here vir hom gedoen het.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid