1 KORINTIËRS 1:10-31

1 KORINTIËRS 1:10-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

Ek doen 'n beroep op julle almal, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus, om eensgesind te wees. Daar moet geen verdeeldheid onder julle wees nie. Julle moet een wees in dieselfde gesindheid en met dieselfde oortuiging. Ek sê dit, my broers, omdat van Chloë se mense my vertel het dat daar onenigheid onder julle is. Daarmee bedoel ek dat een sê: “Ek is vir Paulus;” een: “Ek is vir Apollos;” een: “Ek is vir Sefas;” en een: “Ek is vir Christus.” Is Christus dan in stukke verdeel? Is Paulus miskien vir julle gekruisig, of is julle in die naam van Paulus gedoop? Ek dank God dat ek niemand van julle gedoop het nie, behalwe Krispus en Gaius. Niemand kan dus sê dat julle in my naam gedoop is nie. Nee, ek het ook nog die huisgesin van Stefanas gedoop, maar verder weet ek nie of ek nog iemand gedoop het nie. Christus het my immers nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig, en dit nie met woorde van menslike wysheid nie, want dan sou die kruis van Christus sy krag verloor. Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God. Daar staan tog geskrywe: “Die wysheid van die wyses sal Ek vernietig, en die geleerdheid van die geleerdes sal Ek tot niet maak.” Waar is die wysgeer van hierdie wêreld nou? Waar die skrifgeleerde? Waar die slim woordvoerder? Het God nie die wysheid van die wêreld tot onsin gemaak nie? Dit was die bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo. Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit 'n aanstoot en vir die ander is dit onsin, maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God. Wat vir die wêreld die onsin van God is, is groter wysheid as die wysheid van mense, en wat vir die wêreld die swakheid van God is, is groter krag as die krag van mense. Dink maar net, broers, aan wat julle was toe julle geroep is. Volgens die opvatting van mense was daar nie baie geleerdes of baie invloedrykes of baie mense van aansien onder julle nie. En tog, wat vir die wêreld onsin is, het God uitgekies om die geleerdes te beskaam; wat vir die wêreld swak is, het God uitgekies om die sterkes te beskaam, en wat vir die wêreld sonder aansien of betekenis is, ja, wat niks is nie, het God uitgekies om wat iets is, tot niet te maak. Voor God het geen mens dus iets om op te roem nie. Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing. Daarom, soos daar geskrywe staan

1 KORINTIËRS 1:10-31 Bybel vir almal (ABA)

Vriende, julle behoort aan ons Here Jesus Christus. Daarom vra ek mooi vir julle: Julle moet saamwerk met mekaar, julle moenie groepe wees wat teen mekaar werk nie. Julle moet weer wees soos in die begin: Julle moet mekaar aanvaar, julle moet dieselfde dinge wil doen. Vriende, Chloë se mense het vir my vertel dat julle met mekaar stry. Ja, julle stry, want die een sê: “Ek behoort aan Paulus,” 'n ander een sê: “Ek behoort aan Apollos,” 'n ander een sê: “Ek behoort aan Sefas,” en 'n ander een sê: “Ek behoort aan Christus.” Nee, ons kan Christus nie in groepe deel nie. En God het nie vir mý, Paulus, laat kruisig om julle sondes te vergewe nie. En toe julle gedoop is, was dit nie sodat julle aan Paulus sal behoort nie. Ek sê vir God dankie dat ek niemand van julle gedoop het nie, ek het net vir Krispus en Gaius gedoop. Nou kan niemand sê dat julle gedoop is sodat julle aan my sal behoort nie. Ja, ek het ook die huisgesin van Stefanas gedoop, ek is nie seker of ek ook iemand anders gedoop het nie. Christus het my nie gestuur om te doop nie, Hy het my gestuur om die goeie boodskap oor Hom te bring. Ek het die boodskap gebring, maar ek het dit nie gedoen met die slim woorde van mense nie, want as ek dit gedoen het, dan help dit nie dat Christus aan die kruis gesterf het nie. Ja, vir die mense wat verlore gaan, is die boodskap oor die kruis iets wat dom lyk. Maar God het vir óns gered, en die kruis wys vir óns hoe sterk God is wanneer Hy ons red. Want in die Ou Testament is geskryf: Ek sal die planne van die slim mense laat misluk, en die dinge wat slim mense dink, sal Ek laat verdwyn. Die wêreld se slim mense, die skrifgeleerdes en die mense wat goed kan dink en praat, beteken niks by God nie. Alles wat God gedoen het, het gewys die dinge wat slim mense dink, is dom. God was reg toe Hy besluit het dat die slim dinge wat die mense van die wêreld dink, hulle nie sal kan help om Hom te ken nie. Die mense van die wêreld sê die boodskap oor Jesus is iets wat dom lyk, maar God het besluit om die mense te red wat hierdie boodskap glo. Die Jode wil wondertekens sien en die Grieke wil slim dinge hoor, maar ons bring 'n boodskap dat Christus aan 'n kruis gesterf het. Vir die Jode is dit 'n groot probleem, en vir die heidene is dit iets wat dom lyk. Maar God het mense gekies, Jode én Grieke, en vir húlle is Christus die Een wat wys dat God sterk is en dat Hy wysheid het. Want die mense van die wêreld sê die boodskap oor Christus is iets wat dom lyk, maar die boodskap wys dat God meer wysheid het as die mense. En die mense van die wêreld sê God het gewys dat Hy swak is toe Hy Christus laat sterf het aan die kruis, maar toe God dit gedoen het, het Hy gewys dat Hy sterker is as die mense. Vriende, God het julle gekies. Maar kyk wie is julle. Julle is nie slim of belangrik nie, en julle kom nie uit belangrike families nie. Daar is dinge wat dom lyk vir die mense van die wêreld, maar God het daardie dinge gekies om die slim mense te laat verstaan dat hulle niks weet nie. En daar is dinge wat onbelangrik lyk vir die mense van die wêreld, maar God het daardie dinge gekies om die belangrike mense te laat besef dat hulle nie belangrik is nie. En daar is dinge wat vir die mense van die wêreld niks beteken nie, hulle dink dit is onbelangrik, hulle dink dit is niks. Maar God het daardie dinge gekies om te wys dat dit vir Hom anders is: Die dinge wat baie belangrik is vir die mense van die wêreld, beteken nou niks. Hoekom het God dit gedoen? Hy het dit gedoen sodat niemand kan dink hy is vir God beter as iemand anders nie. Dit is God wat julle nou naby Christus Jesus gebring het. Ja, as ons in Christus Jesus glo, dan sien ons die wysheid van God, ons sien dat Hy ons nie meer straf nie, dat Hy ons aan Hom wy en dat Hy ons vrymaak van die sonde. En so word dit waar wat in die Ou Testament geskryf is

1 KORINTIËRS 1:10-31 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

MAAR ek vermaan julle, broeders, in die Naam van onse Here Jesus Christus, om almal eenstemmig te wees, en dat daar geen skeuringe onder julle moet wees nie, maar dat julle verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde mening. Want dit is aan my deur die huisgenote van Chloë bekend gemaak aangaande julle, my broeders, dat daar twiste onder julle is. Ek bedoel dit, dat elkeen van julle sê: Ek is van Paulus, en ek van Apollos, en ek van Céfas, en ek van Christus. Is Christus verdeel? Is Paulus miskien vir julle gekruisig? Of is julle in die naam van Paulus gedoop? Ek dank God dat ek niemand van julle gedoop het nie, behalwe Crispus en Gajus, sodat niemand kan sê dat ek in my naam gedoop het nie. Ek het ook nog die huisgesin van Stéfanas gedoop. Verder weet ek nie of ek iemand anders gedoop het nie. WANT Christus het my nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig, nie met wysheid van woorde nie, sodat die kruis van Christus nie verydel mag word nie. Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God; want daar is geskrywe: Ek sal die wysheid van die wyse mense vernietig en die verstand van die verstandige mense tot niet maak. Waar bly die wyse? Waar bly die skrifgeleerde? Waar die redetwister van hierdie eeu? Het God nie die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak nie? Want aangesien in die wysheid van God die wêreld deur die wysheid God nie geken het nie, het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red; want die Jode vra 'n teken en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus wat gekruisig is, 'n struikelblok vir die Jode en dwaasheid vir die Grieke; maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke: Christus, die krag van God en die wysheid van God. Want wat dwaas is by God, is wyser as die mense; en wat swak is by God, is sterker as die mense. Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing. Daarom, soos geskrywe is: Die wat roem, moet in die Here roem.

1 KORINTIËRS 1:10-31 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Ek pleit by julle, broers, in die Naam van ons Here Jesus •Christus, dat julle almal eenstemmig sal wees, en dat daar nie verdeeldheid onder julle sal wees nie, maar dat julle volkome eensgesind mag wees, met dieselfde denkwyse en dieselfde oortuiging. My broers, ek is deur Chloë se mense ingelig dat daar twiste onder julle is. Wat ek bedoel, is dat elkeen van julle sê, “Ek is van Paulus,” of, “Ek van Apollos, ” of, “Ek van Sefas, ” of: “Ek van Christus”. Is Christus verdeel? Paulus is tog nie vir julle gekruisig nie? Of is julle dan in die naam van Paulus gedoop? Ek dank God dat ek, afgesien van Krispus en Gaius, nie een van julle gedoop het nie, sodat niemand kan sê dat julle in my naam gedoop is nie. Ek het wel die huisgesin van Stefanas gedoop, maar verder weet ek nie van iemand anders wat ek gedoop het nie. Christus het my immers nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig – nie met wysheid van woorde nie, sodat die kruis van Christus nie van sy krag ontneem word nie. Die boodskap van die kruis is immers dwaasheid vir diegene wat verlore gaan, maar vir ons wat verlos word, is dit die krag van God. Want daar staan geskryf: “Ek sal die wysheid van die wyses tot niet maak en die insig van die verstandiges verwerp.” Waar is die wyse man, waar die skrifkenner, waar die redevoerder van hierdie wêreld? Het God dan nie die wysheid van die wêreld dwaasheid laat word nie? Trouens, deur die wysheid van God het die wêreld Hom nie deur hulle wysheid leer ken nie. God het verkies om hulle wat glo, te verlos deur die dwaasheid van die verkondiging. Die Jode vra tekens en die Grieke soek wysheid. Ons egter, verkondig 'n gekruisigde •Christus. Vir die Jode is dit 'n struikelblok en vir die nie-Jode 'n dwaasheid. Maar vir diegene wat geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God. Want die dwaasheid van God is wyser as dié van mense, en die swakheid van God is sterker as dié van mense. Broers, slaan ag op julle roeping: Menslik gesproke, is daar onder julle nie baie wyses, nie baie invloedrykes, of mense van adellike afkoms nie. Maar die dwaashede van die wêreld het God uitgekies om die wyses te beskaam, en die swakhede van die wêreld het God uitgekies om die sterkes te beskaam, en die onbelangrike en veragtelike dinge van die wêreld het God uitgekies – dit wat niks is – om wat wél iets was, tot niet te maak, sodat geen mens iets het waarop hy hom voor God kan beroem nie. Deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons die wysheid geword het wat van God kom, regverdiging sowel as heiliging en bevryding. Daarom, soos daar geskryf staan: “Wie hom op iets wil beroem, moet hom beroem op die Here.”

1 KORINTIËRS 1:10-31 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Ek smeek julle nou, broeders, by die Naam van onse Here Jesus Christus, dat julle almal dieselfde moet spreek en dat daar geen verdeeldheid onder julle sal wees nie; maar dat julle volkome verenig moet wees in dieselfde gesindheid en in dieselfde oordeel. Want dit is aan my van julle verkondig, my broers, deur die wat uit die huis van Chloë is, dat daar twis onder julle is. Dit sê ek nou, dat elkeen van julle sê: Ek is van Paulus; en ek van Apollos; en ek van Céfas; en ek van Christus. Is Christus verdeel? is Paulus vir jou gekruisig? of is julle in die naam van Paulus gedoop? Ek dank God dat ek niemand van julle gedoop het nie, behalwe Crispus en Gajus; Laat niemand sê dat ek in my eie naam gedoop het nie. En ek het ook die huisgesin van Stefanas gedoop; bowendien weet ek nie of ek iemand anders gedoop het nie. Want Christus het my nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig: nie met wysheid van woorde nie, sodat die kruis van Christus nie tot niet mag word nie. Want die prediking van die kruis is dwaasheid vir die wat verlore gaan; maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God. Want daar is geskrywe: Ek sal die wysheid van die wyses vernietig en die verstand van die verstandiges tot niet maak. Waar is die wyse? waar is die skrifgeleerde? waar is die dispuut van hierdie wêreld? het God nie die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak nie? Want nadat die wêreld in die wysheid van God God nie deur wysheid geken het nie, het dit God behaag deur die dwaasheid van die prediking om die wat glo, te red. Want die Jode vra 'n teken, en die Grieke soek wysheid. Maar ons verkondig Christus as gekruisigde, vir die Jode 'n struikelblok en vir die Grieke dwaasheid; Maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke, Christus, die krag van God en die wysheid van God. Omdat die dwaasheid van God wyser is as mense; en die swakheid van God is sterker as die mense. Want julle sien julle roeping, broeders, dat daar nie baie wyse manne na die vlees geroep word nie, nie baie magtiges nie, nie baie edeles nie. Maar God het die dwase dinge van die wêreld uitverkies om die wyse te beskaam; en God het die swakhede van die wêreld uitverkies om die dinge wat kragtig is, te beskaam; En die slegte dinge van die wêreld en die dinge wat verag word, het God uitverkies, ja, en die dinge wat nie is nie, om die dinge wat is, tot niet te maak: sodat geen vlees voor sy aangesig sou roem nie. Maar uit Hom is julle in Christus Jesus, wat uit God vir ons gemaak is wysheid en geregtigheid en heiligmaking en verlossing. Sodat, soos geskrywe is: Wie roem, laat hom roem in die Here.

1 KORINTIËRS 1:10-31 Die Boodskap (DB)

Kinders van die Here, werk asseblief tog saam. Namens ons Here Jesus Christus vra ek julle dit baie mooi, maar baie ernstig. Daar moet nie heeltyd ’n stryery onder julle wees nie. Julle moet met mekaar oor die weg kom. Moenie dwarstrek nie, maar dink en doen liewer soos een man saam. Ek noem dit omdat van Chloë se familie hier by my aangekom en vertel het dat julle so onder mekaar baklei. Laat ek dit so stel: een van julle sal sê: “Paulus is net die man.” Ander sal dan aan die stry gaan en sê dat Apollos of Petrus beter is. “Nee,” sal ander weer sê, “ons volg maar net vir Jesus.” Nou vra ek: Is Christus dan so ’n los klomp stukke? Het ek, Paulus, miskien vir julle daar aan die kruis gehang? Is daar by julle doop miskien gesê dat julle gedoop word omdat Paulus so goed is? Nou is ek eintlik bly dat ek nie te veel van julle gedoop het nie, maar net vir Krispus en Gaius. Daarom kan niemand nou loop en spog dat hy deur my gedoop is asof dit iets besonders is nie. (O ja, amper vergeet ek, ek het nog Stefanas en sy mense ook gedoop. Verder kan ek aan niemand anders dink nie.) Christus het my nie gestuur om mense vir myself bymekaar te maak deur te doop nie. Nee, Hy het my gestuur om vir julle die goeie boodskap oor Hom te kom vertel. Dit moet ek nie doen met vreeslik geleerde en moeilike taal om mense te beïndruk nie. Nie taal nie, maar die werklikheid van die kruisgebeurtenis van Jesus moet mense beïndruk. Daar lê die werklike krag van die boodskap oor Jesus. En dit mag nooit agter slim argumente of geleerde taal weggesteek word nie. Dat Jesus aan die kruis moes sterf, klink wel so onwaar soos ’n feëverhaal vir die mense wat hulle nie aan God steur nie. Hulle is buitendien op pad hel toe. Maar ons wat God leer ken het en nou Syne is, put soveel geestelike krag daaruit. God maak ons sterk deur die boodskap oor wat aan die kruis gebeur het. Daar is geskryf: “God sal vir almal wys hoe verkeerd selfs die slimste mense is. Wat vir hulle so slim lyk, is eintlik maar baie dom.” Gaan roep maar die mense wat sê hulle weet baie. Gaan kry die professore. En waar is die mense met die gladde tong? Het God nie gewys dat al hierdie slimmighede wat mense kwytraak eintlik maar baie dom is wanneer dit kom by dit wat regtig belangrik is nie? Mense met al hulle slimmighede het nie die vaagste benul waaroor dit gaan wanneer dit by die dinge van God kom nie. God het in sy wysheid besluit dat dit so sal wees. Mense dink dalk dat die kruis en wat daar gebeur het nie sin maak nie. Dít is egter die manier waarop God besluit het om mense uit hulle sonde na Hom toe terug te bring. Ek praat van mense wat God vertrou. Die Jode sou wonderlike bomenslike tekens verkies het en die Grieke sou liewer wou gehad het dat alles mooi uitgeredeneer kon word. Maar ons vertel vir almal dat Jesus wat gekruisig is, die manier is waarop God dinge tussen Hom en sondaars regmaak. Die Jode weier botweg om dit te aanvaar en ander mense lag daaroor asof dit sommer ’n storie of ’n feëverhaal is. Onder hierdie klomp spottende pessimiste is daar tog ’n klompie wat God se stem gehoor het en luister. Hulle ken die waarheid. As jy Christus ken, ken jy die krag wat net God kan gee en verstaan jy al God se planne. Menslike dinge kan mos nie met goddelike dinge vergelyk word nie. Om dit so te stel: die “domste” ding wat God volgens die wêreld kan doen, is ver slimmer as die heel slimste ding wat die slimste mens kan uitdink. Al span mense al hulle kragte saam, is dit nog nie eens ’n druppel in die emmer teenoor God se krag nie. My liewe vriende, dink ’n bietjie mooi na oor wie julle regtig was voor God julle uitgenooi het. Volgens mense was die meeste van julle maar dommerig en eenvoudig. Julle was maar gewone werkers sonder enige invloed wat uit die swakker deel van die dorp gekom het. Maar God werk anders. God het juis onbelangrike mense aan wie niemand hulle steur nie, gekies om die beterweterige mense wat dink hulle is belangrik, skaam te maak. God se keuse het geval op mense op wie almal trap omdat hulle sosiaal nie vir daardie mense iets kan beteken nie. Mense wat dink hulle is die room van die samelewing sal skaam en verleë voor hierdie arme onbelangrike mense moet kom staan. God het die maatstawwe van die wêreld totaal omgekeer. Wat volgens mense swak is, het God besluit om sterk te maak. Dinge waaraan mense hulle nie steur nie en wat hulle dink nutteloos is, gebruik God om sy doel te bereik. So word dinge wat mense weer dink iets werd is, nutteloos wanneer dit by God se planne kom. Geen mens kan dus voor God gaan staan en spog dat hy iets met die reddingsplanne van God te doen het en daarvoor geprys moet word nie. God en God alleen het dit vir julle moontlik gemaak om Christus Jesus te leer ken. Jesus is die Een deur wie ons kan sien watter slim planne God gemaak het: deur Hom word ons saak met God reggemaak, word ons mense wat geheel en al net vir God leef. Ja, Hy is die Een deur wie God ons sy vriende maak. Daar staan mos geskryf: “As iemand wil spog, laat hom spog oor wat die Here gedoen het.”

1 KORINTIËRS 1:10-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

En nou, broers en susters, pleit ek by julle in die Naam van ons Here Jesus Christus om eendragtig saam te staan – één in julle oortuigings. Daar mag nie groepvorming onder julle wees nie. Julle moet van harte saamstem in julle denke en in julle visie. Lede van die huisgesin van Chloë het aan my vertel, my broers en susters, dat daar allerlei struwelinge onder julle voorkom. Ek bedoel dat party van julle sê: Ek volg Paulus; ander weer: Ek volg Apollos; nog ander: Ek volg Petrus; en nog ander: Ek volg Christus. Dink julle regtig Christus kan so in stukkies verdeel word? Paulus is tog beslis nie vir julle gekruisig nie! Of is julle dalk in Paulus se naam gedoop? Ek dank God dat ek niemand van julle gedoop het nie behalwe Krispus en Gaius, want nou kan niemand beweer dat ek mense in my naam gedoop het nie. O ja, ek het ook nog die huisgesin van Stefanas gedoop. Verder weet ek van niemand anders wat ek gedoop het nie. Julle moet verstaan dat Christus my nie in die eerste plek gestuur het om mense te doop nie; Hy het my gestuur om die Goeie Nuus te verkondig – en dit nie met allerlei woordkunsies nie, want daarmee verloor die kruis van Christus sy krag. Ek besef hoe belaglik die boodskap van die kruis moet klink vir hulle wat verlore gaan. Maar vir ons wat verlos word, is dit die krag van God. Soos die Skrif sê: “Ek sal die wyse mense se wysheid tot niet maak; en die skerpsinniges se briljante idees sal Ek van die tafel vee.” Wat het dus geword van die filosowe, die boekgeleerdes, die debatvoerders van hierdie wêreld? God het bewys hoe inherent dwaas die wysheid van hierdie wêreld in werklikheid is. Aangesien God in sy wysheid beskik het dat die wêreld Hom nooit deur menslike slimmigheid sou vind nie, het Hy dit goedgevind om deur die “dwaasheid” van ons prediking dié wat glo, te red. Die Jode wil wondertekens hê om die waarheid van die Goeie Nuus te bevestig en die Grieke wil ’n vertoon van wysheid hê. Maar ons verkondig die gekruisigde Christus. Vir die Jode is dit skokkend en vir die nie-Jode is dit absolute dwaasheid. Maar vir ons almal wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is die gekruisigde Christus die magtige kragwerking van God en die wonderlike wysheid van God. Hierdie Goddelike “dwaasheid” is oneindig wyser as enige menslike wysheid en hierdie Goddelike “swakheid” is oneindig sterker as enige menslike kragvertoon. Broers en susters, dink maar net terug hoe julle eie situasie destyds was toe God julle geroep het. Gemeet aan menslike standaarde was daar maar min intellektueles onder julle, nie baie magtiges nie, nie baie uit vooraanstaande families nie. Nietemin het God doelbewus dit wat vir die wêreld na dwaasheid gelyk het, uitgekies om die slim mense skaam te maak en dit wat vir die wêreld na swakheid gelyk het, het Hy uitgekies om die magtiges skaam te laat kry. Inderdaad, wat vir die wêreld onaansienlik en gering lyk, ja, wat vir die wêreld glad nie ’n faktor is nie, het God uitgekies om wat vir die wêreld wel belangrik is, heeltemal af te skryf. Gevolglik het niemand enige grond om sy bors voor God uit te stoot nie. Dit is deur God alleen dat julle nou aan Christus Jesus behoort. Dit is deur Hom dat Jesus vir ons die wysheid van God geword het, die Een deur wie God ons vrygespreek en vir Homself geheilig en vrygekoop het. Soos die Skrif dit stel: “Die persoon wat graag wil spog, mag net spog oor wat die Here vir hom gedoen het.”

1 KORINTIËRS 1:10-31

1 KORINTIËRS 1:10-31 AFR83

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid