YouVersion Logo
Search Icon

NGK PE Nooitgedacht

Erediens en Jeugkerk - Sondag, 15 Maart om 09:00

Erediens en Jeugkerk - Sondag, 15 Maart om 09:00

Locations & Times

NG Kerk Nooitgedacht, Port Elizabeth, South Africa

24 Brabant Rd, Port Elizabeth, 6025, South Africa

Friday 5:00 PM

hey
Deur God omsluit

Die Duitse filosoof, Schopenhauer het die menslike ras vergelyk met ystervarke wat bymekaar sit op ‘n wintersaand. Hy het gese: hoe kouer dit word, hoe stywer sit ons teen mekaar vir hitte. Maar hoe nader ons aan mekaar kom, hoe meer steek ons mekaar met ons skerp penne. Uiteindelik gaan ons weg van mekaar en vrees die dood in ons eensaamheid. Mens kan natuurlik ook alleen wees tussen mense. Almal lag en gesels, maar jy voel soos ‘n pelikaan in die woestyn. Psalm 139 praat met jou.
Die psalm praat van intimiteit en nabyheid. Die geborgenheid van ‘n moederskoot. Dit getuig van die intimiteit en nabyheid waarna elke mense smag. En wat ons net vind in ‘n lewende en egte verhouding met God, deur Jesus Christus ons Here. Dis waarna ons soek, waarna elke mens smag. Sien my raak. Ken my. Hoor iemand my !
Psalm 139 getuig van God se betrokkenheid by Sy kinders se lewens. Die here ken Sy kinders regtig (139:1b-5). Wat ‘n bevrydende waarheid is dit nie om te weet dat jy in jou verhouding met God nie ‘n rol hoef te speel nie, nie maskers hoef op te sit nie, maar heeltemal kan ontspan. Jy kan vir jouself sê: die Here sien in elk geval dwarsdeur my, Hy ken my, Hy ken my sterk en my swakpunte. Hy weet wat ek doen - of ons sit of staan; of ons op reis is of oorbly, dit is aan hom bekend. Maar hy ken nie net ons dade nie, ook ons gedagtes is aan hom bekend, ons intieme binneste. Selfs nog voordat die gedagtes by ons opkom, ken hy dit alreeds, nog voor ons ‘n woord uitspreek, weet hy al wat ons gaan sê. Die Here ken ons deur en deur, daarom kan ek in my verhouding met Hom in die letterlike sin van die woord ontspan en net myself wees met die wete dat ek aan hom, intiem aan hom, verbind is. Om die waarheid te sê, Jesus Christus het net soos ek geword, uitgesonderd die sonde. In Jesus ken God ons deur en deur, ons angs, ons verwagtinge en ons twyfel.

Die Psalmis put verder sekuriteit uit die wete dat God nooit Sy kinders laat wegraak nie. Ons skryf mense soms af, ons besluit om nooit weer kontak met iemand te maak nie, ons stoot hulle sover moontlik uit ons gedagtes uit, omdat hulle ons miskien teleurgestel het. Dis natuurlik nie hoe Christene behoort te maak nie. God los sy kinders nooit nie, al stel ons hom soms teleur. Elke keer kom haal hy ons by elke afdraaipaadjie van die lewe. Selfs die dom dinge wat ek doen en vir my teenspoed veroorsaak, kan my nie van God vervreem nie. Dit maak mens dankbaar, want jy onthou Christus se belofte dat niemand ons uit sy hand kan ruk nie

Die wonderlike ding van hierdie Psalm is dat God se betrokkenheid nie maar net vir ‘n oomblik is nie, van die wieg tot die graf is die Here intiem by Sy kinders betrokke (vers 13-16). Wat ‘n troos! Jou geboorte was nie maar net ‘n eeue oue natuurproses, wat biologies bepaal het, dat jy hier is nie. Nee, as gelowige weet jy God het jou gevorm - dis Hy wat jou laat mens word het. Dis Hy wat nog altyd op wonderbaarlike wyse by jou betrokke was en is. Kunstig is jy aanmekaar geweef, jy is ‘n kunswerk, ‘n meesterstuk, geskep deur die Allerhoogste. So is elke mens deur God aanmekaar geweef en behoort ons mekaar met respek en agting te behandel, want jou naaste is ook ‘n kunswerk van God.

Dalk betwyfel jy dit alles vandag want jy voel alleen. Jy kyk dalk na jouself in die spieël en sê vir jouself, ek is lelik, niemand hou van my nie. Kyk dan deur God se oë en sien jy is uniek, daar is nie nog een soos jy nie. God het jou perfek gemaak. God kyk na die innerlike en nie die uiterlike nie. En Hy het nie rubbish gemaak nie - God het jou lief. God weet van jou lag en jou traan, jou sit en jou val en jou opstaan. Jou aankoms in die wêreld en jou vertrek uit hierdie lewe na Hom toe.

Waartoe bring hierdie wete van God se liefdevolle omsluiting, dat Hy my ken en my vorm, vir my? Wil jy ook sien wat God sien as Hy in liefde dwarsdeur jou kyk? Die Here wys vir jou dinge wat mooi is maar ook dit wat verkeerd is. Kyk dit in die oë, erken dit teenoor jouself en maak reg. Dis dikwels juis daardie dinge wat tussen ons en God en ons en ons naaste staan, wat maak dat ons vereensaam, dat ons onsself verag. Ons is skaam vir onsself. Ons vlug weg van God se nabyheid. Maay jy hoef nie - Aanvaar Sy vergifnis en Sy genade. God het in Jesus Christus naby aan ons gekom. Jesus hang immers verlate, eensaam aan ‘n kruishout vir die sondes van die ganse wêreld. Net by Hom vind jy rus. Die een wat die harte deurgrond leer jou om te leef. Daar is niemand wat jou ken soos Hy nie, skuil by hom. Hy sal jou nie laat wegraak nie, want Hy tel die hare op jou kop. Die Here ken al jou skerp kante en tog sluit Hy jou in van alle kante. Daarom kan jy Hom en jou naaste, en ook jouself, van harte life hê.
(Uittreksel vanuit Pastoraal.com)
hey