YouVersion Logo
Search Icon

Doxa Deo Meyersdal

Geloof wat aansteeklik is

Geloof wat aansteeklik is

Faith that reaches the lost

Locations & Times

Doxa Deo Meyersdal

10 Grey Villea St, Meyersdal, Alberton, 1448, South Africa

Sunday 8:00 AM

‘n Dokter skakel sy pasiënt: Mnr jy het ongelukkig ‘n baie rare en baie aansteeklike siekte. Dis verskriklik, sê die man. Wat is die behandeling? Ons gaan jou op ‘n streng pannekoek en pizza dieet sit. Dis interessant, sal dit my gesond maak? Nee, sê die Dokter, maar dis al wat ons onderdeur die deur kan kry.

Elkeen van ons ‘n draer van iets wat aansteeklik is. Ek verwys nie na ‘n siekte of ‘n virus nie. Ek bedoel goed soos: vrees en negatiwiteit en angstigheid; of goed soos vriendelikheid en liefde en hoop.

Elkeen van ons is die draer van iets. Die vraag is, is dit wat jy het, Is dit ‘n goeie ding as dit versprei en “viral” raak?

Ons maak vandag klaar met ons reeks: “Faith, that reaches the lost”.
Ons het so bietjie gekyk na die tipe geloof wat ons het en by die 3 gedagtes stil gestaan:
- Geloof wat die dak af ruk;
- Geloof wat waarde verstaan;
- Geloof wat aansteeklik is.

Paulus skryf aan gelowiges in Tessalonisense. Mense wat vervolg was vir hulle geloof en hulself in baie moeilike omstandighede bevind het. Hier’s wat hy skryf vir hulle:

1 Tess 1:2-3 “Wanneer ons bid, dank ons God altyd vir almal van julle. Ons onthou voortdurend hoe julle geloof dade word, hoe hard julle liefde julle laat werk en hoe julle aanhou hoop op ons Here Jesus Christus.”

Paulus sê vir hulle mense daar’s 3 goed wat my hart aangryp wanneer ek aan julle dink: julle geloof, julle liefde en julle hoop.

In vers 5 sê hy: “want die Goeie Nuus wat ons gebring het, het tot julle gekom, nie net met woorde nie, maar ook deur die krag van die Heilige Gees en met groot oortuiging.”

En dan in vers 8 en 9:
“want van julle af het die Here se boodskap nie net in Masedonië en Agaje weerklink nie, nee, oral het julle geloof in God bekend geword! Die gevolg is dat óns eintlik niks hoef te sê nie, want die mense praat self oor hoe positief julle ons ontvang het en hoe julle van die afgode af weggedraai het na God toe om die lewende en ware God te dien…”

Oral het hulle geloof in God bekend geword! Hulle geloof het “viral” geraak.
Hoekom? Want hulle geloof het prakties en sigbaar geraak, hulle liefde vir ander mense was opreg en hulle hoop was standvastig te midde van hulle moeilike omstandighede.

Dis die 3 kenmerke van aansteeklike geloof: sigbare geloof, opregte liefde en standvastige hoop.

Dis waaroor die Here met ons ook praat in Doxa Deo: Geloof wat verlorenes bereik, Liefde wat pyn gesond maak en Hoop wat die gebrokenheid herstel.

As ek net dink wat die laaste paar jaar aan die gang is in ons wêreld, moet ek erken dat dinge het deurmekaar en “scary” geraak. Mense is bang en negatief en vol haat. En die probleem is, die slegte nuus is, dis aansteeklik. Dink gou hoe vinnig en hoe maklik vrees versprei het hierdie afgelope 2 jaar. Hoe aansteeklik dit geword het. Dis erger as die pandemie. Meer mense is met vrees en haat en angstigheid as mense wat covid gekry het.

Die goeie nuus is, dat goeie nuus ook aansteeklik is, kyk net na hierdie mense van Tessalonisense. Hulle was erg vervolg a.g.v. hulle geloof. Kan jy dink hoe dit moet wees om elke dag op te staan en te wonder is vandag die dag wat hulle my gaan dood maak.En tog sê Paulus, julle geloof het mense orals oor geraak.

Dis nie net ‘n storie wat in die Bybelse tyd gebeur het nie. Ek wil vir jou ‘n video speel van aansteeklike geloof in Ukraine. ‘n Storie oor sigbare geloof, opregte liefde en standvastige hoop: Video.

Yaroslav is die leier van die grootste teologiese seminarium in Ukriane, en die sleutel kontak van ons City Changers Movement wat wêreld wyd ‘n impak maak. As die storie jou hart raak en jy wil graag ‘n verskil maak ons het ‘n “Matching donor in Amerika wat 1$ gee vir elke $ wat Doxa Deo stuur vir hulle.

Maar kom ek verwissel eers ratte en bring die storie so bietjie nader aan ons. Ek wil nog ‘n storie van aansteeklike geloof met jou deel wat gaan oor die ontstaan van Doxa Deo.

Die storie begin by ’n tannie, met die naam van Muriel Bouwer.
Tannie Muriel en haar man, oom Petrus, was deel van die sleutel rolspelers in die geboorte jare van Doxa Deo in Brooklyn, Pretoria.
Maar om Tannie Muriel se storie te vertel moet ek jou eers 90 jaar terug vat voor haar geboorte, na ’n man met die naam van oom Hansie Holsher.
Oom Hansie was ’n eenvoudig man wat vir die spoorweë gewerk het.
Oom Hansie, sit eendag en Bybel lees tydens sy etensuur toe die Here met hom praat en sê gaan bid by daardie huis, iemand is siek daar.
Dit was die huis van tannie Muriel se pa en ma en haar ouer suster, wat terminaal siek was. Tannie Muriel was nog nie gebore nie.
Oom Hansie klop aan die deur, ‘n vrou maak oop en hy vra haar: Is daar siekte in hierdie huis? Die Here het my gestuur om te kom bid.
Oom Hansie bid vir die kind en sy word onmiddellik gesond en deur sy geloof wat prakties geraak het, kom beide tannie Muriel se pa en ma tot bekering.
Haar pa is op ‘n vroeë ouderdom oorlede en met sy boedel geld koop haar ma ’n stuk grond en met naaldwerk en musiekles geld samel sy genoeg geld in om ‘n kerk te bou wat vandag nog in Eeufees laan staan in Pretoria Noord.
Intussen het oom Hansie se seun Frits, ’n pastoor geword en plant in Sunnyside ‘n gemeente saam met tannie Muriel en haar man. Later het sy seun, Frits jr, ook pastoor geword en vanuit Sunnyside plant hulle ‘n gemeente in Brooklyn wat uiteindelik ons heel eerste Doxa Deo kampus sou word.
Alan Platt, ons visionêre leier, sê toe hy en Leana by Brooklyn gemeente aankom, was Frits Holsher en tannie Murial Bouwer die 1ste mense wat hulle daar ontvang het.
Vandag is daar Doxa Deo gemeentes in 4 lande, hierdie jaar gaan dit 5 wees Alan plant in September in Charlotte North Carolina nog ‘n Doxa Deo gemeente. Deur ons “City Changers Movement” is ons ook betrokke in ‘n klomp ander lande reg oor die wêreld insluitende Ukraine.

Hoekom vertel ek vir jou oom Hansie en tannie Muriel se storie? Want hulle is gewone mense. Mense soos ek en jy wat buitengewone goed gedoen het. Hoekom? Want hulle geloof was aansteeklik.
Jy’s die draer van iets wat hoogs aansteeklik is. Goeie nuus!
Met hierdie aansteeklikheid moet ons nie sosiale afstand hou nie. Ons dra ook nie maskers nie.

Moenie onderskat wat die Here deur jou lewe kan doen nie, al wat nodig is, is aansteeklike geloof, liefde wat omgee en hoop wat standvastig is.
Groep notas:

1 Tess 1:2-3 “Wanneer ons bid, dank ons God altyd vir almal van julle. Ons onthou voortdurend hoe julle geloof dade word, hoe hard julle liefde julle laat werk en hoe julle aanhou hoop op ons Here Jesus Christus.”

3 kenmerke van aansteeklike geloof: sigbare geloof, opregte liefde en standvastige hoop.

Bespreek die volgende in die kleingroep:
1) Deel met mekaar stories van kinders van die here wat jou lewe beïnvloed het, en dalk ook verantwoordelik was vir jou bekering.
2) Wat was dit in hierdie mense se geloof wat vir jou aansteeklik was?
3) Praat oor die verskillende maniere waarop ons geloof as Christene, aansteeklik kan wees vir ander?

Bid vir mekaar vir geloof wat aansteeklik is en ander nader aan Jesus sal trek.