YouVersion Logo
Search Icon

NGK PE Nooitgedacht

Huisgeloof - Sondag, 6 Februarie 2022 en Maandag tot Vrydag, 7 tot 11 Februarie 2022

Huisgeloof - Sondag, 6 Februarie 2022 en Maandag tot Vrydag, 7 tot 11 Februarie 2022

Geestelike samesyn en geloofsvorming vir kleiner groepe, gesinne en individue.

Locations & Times

NG Kerk Nooitgedacht, Port Elizabeth, South Africa

24 Brabant Rd, Port Elizabeth, 6025, South Africa

Saturday 10:00 PM

hey
Sondag, 6 Februarie

Kom tot rus in God se teenwoordigheid –

Steek ’n kers aan as simbool van God se teenwoordigheid by jou en kom tot rus. Jy kan die efening doen soos hierbo.


Gebed -

Here God, ek bring nou al dié mense na U toe wat smag na liefdevolle en kreatiewe verhoudings, maar dit nie vind nie. Baie mense is alleen en eensaam en vind nie standhoudende vriendskap nie; baie getroude mense voel gefrustreerd in hul huwelike, en skei dan om elkeen sy eie pad te loop; baie kinders kan nie met hul ouers gesels oor dinge wat vir hulle belangrik is nie; en baie kinders het vreemd geword vir hulle ouers. Oral om my sien ek mense wat honger is vir liefde, en dit nie beleef nie.
O Here, kyk met deernis na ons, u skepsels, en gee asseblief vir ons u liefde – nie net as 'n abstrakte idee of konsep nie, maar as 'n lewende ervaring. Ons kan mekaar net liefhê omdat U ons eerste liefgehad het. Laat ons daardie eerste liefde ken, sodat ons alle menslike liefde kan sien as 'n weerspieëling van 'n groter liefde, 'n liefde sonder voorwaardes en beperkinge.
Maak asseblief daardie mense weer heel wat binnekant al so vreeslik seergekry het, wat verwerp voel, of voel dat hulle verkeerd verstaan is, of misbruik is. Wys vir hulle u helende liefde en help hulle op die pad van vergifnis en versoening.
Amen.


Lees die teksgedeelte, Johannes 13:12-17.


Moontlike vrae -

Wat sê die gedeelte vir jou van God en die mens?
Wat staan vir jou uit in hierdie gedeeltes?
Hoe laat die gedeelte jou voel?
Wat daag jou uit of wat gee jou hoop?
Waarmee is God besig in die wêreld en hoe kan jy aansluit daarby? Waarmee is God besig in jou lewe?
Hoe kan jy jou ander mense dien by die huis, werk, skool, waar ook al jy gaan?
hey
Kinderoomblik -

Gesels oor die volgende:
● Wat dink julle het die dissipels gedink toe Jesus opstaan en hulle voete begin was?
● Watter opdrag gee Jesus vir sy dissipels (v14)
● Watter dieper boodskap wou Jesus aan sy dissipels oordra deur hulle voete te was? Hoe kan julle mense dien?
Hier is ‘n paar idees:
● Onverwagte diensbaarheid: Doen in die gesin iets onverwags vir mekaar soos om iemand anders se bed op te maak, vir iemand koffie in die bed te neem, iemand se rug te masseer of iemand se kosblik te pak.
● Diensbare vriendskap: Doen as gesin iets diensbaar vir iemand wat siek is, wat so pas ’n nuwe baba ryker geword het of vir ’n eksamen moet leer.
● Diensbaar by die kerk: Help as gesin by julle gemeente. Julle kan mense saniteer as hulle by die erediens aankom of mense verwelkom by die deur. Help by huis sewe van MTR Smit kinderhuis. Gaan help die kinders met huiswerk of speel met hulle.


Agtergrond -

In Johannes 13:1-17, waaruit ons vanoggend gaan lees, wys Jesus dit deur sy dissipels se voete te was.
Na Jesus se publieke bediening, wat gestrek het van Johannes 1:19-12:50, fokus Jesus in Johannes 13:1-17:26 om sy dissipels te leer en te bedien.
In hoofstuk 13-17 hoor mens van Jesus se laaste maaltyd saam met sy dissipels en van die gesprekke wat hulle gehad het. Dit vertel van Jesus se laaste ure op aarde met sy volgelinge, voor sy dood.
In Johannes 13:1-17 was Jesus sy dissipels se voete. Dit was ‘n algemene gebruik in die Bybelse tyd om voete voor ‘n ete te was. Mense het op stowwerige paaie stap en sou sandale of oop velskoene gedra het.
Dit was as ‘n vernederende en lae taak beskou om voete te was. Dar was nie van Joodse slawe verwag om dit te doen nie. Nie-Joodse slawe moes dit doen en as hulle nie teenwoordig was nie, sou vroue en kinders dit doen. Belangrike mense in die antieke samelewing sou beslis nie ander se voete was nie. Dit was die onbelangrikste mense se taak. Juis daarom is dit so merkwaardig dat Jesus sy dissipels se voete was.
Jesus het die waardesisteem van die wêreld heeltemal omgekeer. As volgelinge van Jesus moet ons sy voorbeeld volg en dien.
hey
Praktiese aktiwiteite vir die week -

● Kruietuin vir gaste: Plant kruie in die tuin sodat julle altyd iets het om weg te gee wanneer iemand kom kuier.
● Een dag dienslewering: Bied aan as familie om by ‘n diensorganisasie diens te doen soos ‘n welsynsorganisasie, klerebank of dierebeskermingsvereniging.
● Kook sop: Kook sop en vries dit om te skenk aan ‘n sopkombuis of nagskuiling.
● Insameling veldtog: Vind uit wat ‘n plaaslike diensorganisasie soos ‘n Kinderhuis, vroeë kind ontwikkelingsentrum of maatskaplike dienstak benodig en reël ‘n insameling daarvoor soos byvoorbeeld komberse / speelgoed / sporttoerusting of klere.


Gebed - Franciskus van Assisi

Here, maak my 'n instrument van U vrede.
Waar daar haat is, laat my liefde saai;
waar daar onreg is, vergifnis;
waar daar twyfel is, geloof;
waar daar wanhoop is, hoop;
waar daar duisternis is, lig;
waar daar droefheid is, vreugde.

O, Goddelike Meester, gee dat ek nie soseer sal soek
om getroos te word nie as om te troos;
om verstaan te word nie as om te verstaan;
om bemin te word nie as om lief te hê.
Want dit is deur te gee dat ons ontvang;
dit is deur te vergewe dat ons vergewe word;
en dit is deur te sterwe dat ons tot die Ewige Lewe gebore word.


Seën -

Die Here is voor jou om die pad gelyk te maak.
Die Here is langs jou om jou in sy arms toe te vou.
Die Here is agter jou om die aanvalle van die Bose af te slaan.
Die Here is onder jou om jou dra as jy mag val.
Die Here is rondom jou om jou te beskerm.
Die Here is bokant jou om jou te seën.
Die Here is binne jou om jou te lei met sy Heilige Gees.
Die Here is vir jou, want Jesus pleit vir jou.
Die drie-enige God is by jou, van nou af tot in ewigheid.
Amen.
hey
Weekprogram vir 7 tot 11 Februarie 2022


Maandag, 7 Februarie

Kom tot rus in God se teenwoordigheid en steek ’n kers aan as simbool van God se teenwoordigheid by jou.

Lees die teksgedeeltes, 1 Korintiërs 15:1-11 en Psalm 138. (Dit verskyn heel onderaan, na Vrydag se gedeelte.)


Moontlike vrae -

Wat sê die gedeeltes vir jou van God en die mens?
Wat staan vir jou uit in hierdie gedeeltes?
Wat daag jou uit of wat gee jou hoop?
Waarmee is God besig in die wêreld en hoe kan jy aansluit daarby? Waarmee is God besig in jou lewe?


Dink na -

Volgens 1 Korintiërs 5:9 het paulus al vantevore vir die gemeente in Korinte ‘n brief geskryf, waarop die gemeente met hulle eie brief geantwoord het (1 Kor 7:1). In hulle brief het hulle Paulus oor verskeie kwessies uitgevra, waarvan Jesus se opstanding een was. In die brief wat ons as 1 Korintërs ken, antwoord Paulus breedvoerig op die vrae en hy gee aandag aan probleme in die gemeente waarvan hy verneem het. Hoofstuk 15 verskaf die teologiese onderbou van 1 Korintiërs. Paulus se getuienis oor God se genade as geskenk bereik hier sy hoogtepunt. Vers 12 dui daarop dat die gemeente in Korinte wel aanvaar het dat Jesus uit die dood opgewek is, maar dat hulle onseker was oor wat dit vir hulle beteken.

Sluit af met gebed.
Dinsdag, 8 Februarie

Kom tot rus in God se teenwoordigheid en steek ’n kers aan as simbool van God se teenwoordigheid by jou.

Lees die teksgedeeltes, 1 Korintiërs 15:1-11 en Jesaja 6:1-13. (Dit verskyn heel onderaan, na Vrydag se gedeelte.)


Moontlike vrae -

Wat sê die gedeeltes vir jou van God en die mens?
Wat staan vir jou uit in hierdie gedeeltes?
Wat daag jou uit en wat gee jou hoop?
Hoe word jou lewe geraak?


Dink na -

Epifanie verskuif die aandag vanaf Jesus se geboorte na ‘n Joodse millieu wat sy geboorte, besnydenis en wyding aan die Here insluit. Die leesroostertekste vir hierdie week beklemtoon ook Jesus se gesag as teken dat sy bediening breër was as net die Jode in Palestina. Dink na oor die lys getuies van Jesus se opstanding wat Paulus in 1 Korintiërs 15:3-8 noem.

Sluit af met gebed.
hey
Woensdag, 9 Februarie

Kom tot rus in God se teenwoordigheid en steek ’n kers aan as ‘n simbool van God se teenwoordigheid by jou.

Lees die teksgedeelte, 1 Korintiërs 15:1-11 en Lukas 5:1-11. (Dit verskyn heel onderaan, na Vrydag se gedeelte.)


Moontlike vrae -

Wat sê die gedeeltes vir jou van God en die mens?
Wat daag jou uit, wat gee vir jou hoop?
Hoe word jou lewe geraak?
Waarmee is God besig in die wêreld en hoe kan jy aansluit daarby? Waarmee is God besig in jou lewe?


Dink na -

As gestuurde kerk is ons roeping ingebed in dit waarmee God besig is. In 1 Korintiërs 15:11 wys Paulus daarop dat hy en al die getuies die boodskap van God se genade verkondig; hierdeur het die Korintiërs tot geloof gekom. Christus het vir ons sondes gesterf, is begrawe en op die derde dag opgewek. Dink jy hieroor na?

Sluit af met gebed.
Donderdag, 10 Februarie

Kom tot rus in God se teenwoordigheid en steek ’n kers aan as simbool van God se teenwoordigheid by jou.

Lees die teksgedeeltes, 1 Korintiërs 15:1-11 en Jesaja 6:1-13. (Dit verskyn heel onderaan, na Vrydag se gedeelte.)


Moontlike vrae -

Wat staan vir jou uit in hierdie gedeeltes?
Wat daag jou uit en wat gee jou hoop?
Hoe word jou lewe geraak?
Waarmee is God besig in die wêreld en hoe kan jy aansluit daarby? Waarmee is God besig in jou lewe?


Dink na -

Een van die gewoontes waardeur die geloof en karakter van Jesus se dissipels gevorm en gebou is, was deur stories te vertel met die doel om God se meestersverhaal in fokus te bring. In 1 Korintiërs 15:1-11 beklemtoon Paulus die opstanding as fundamentele element van God se verhaal. Vertel jy ook hierdie verhaal?

Sluit af met gebed.
hey
Vrydag, 11 Februarie

Kom tot rus in God se teenwoordigheid en steek ’n kers aan as simbool van God se teenwoordigheid by jou.

Lees die teksgedeeltes, 1 Korintiërs 15:1-11 en Lukas 5:1-11. (Dit verskyn heel onderaan.)


Moontlike vrae -

Wat staan vir jou uit in hierdie gedeeltes?
Wat daag jou uit en wat gee jou hoop?
Hoe word jou lewe geraak?
Watter uitnodiging kom deur die Here na jou?
Waarmee is God besig in die wêreld en hoe kan jy aansluit daarby? Waarmee is God besig in jou lewe?


Dink na -

Ons het gesien hoe Paulus ‘n lys van getuies oor God se genade opnoem. In Lukas gebruik Jesus die verskynsel van die groot visvangs om sy eerste dissipels te roep om Hom te volg en aan hulle die opdrag te verduidelik. Hy sê vir Simon: “Moenie bang wees nie. Van nou af sal jy mense vang” (Luk 5:10). Hoor Jesus se roepstem, opdrag en versekering vir jou.

Sluit af met gebed.
hey