YouVersion Logo
Search Icon

NGK PE Nooitgedacht

Kwarantyn Kerk – Huisgeloof vir Sondag, 18 Julie 2021 en Maandag tot Vrydag, 19 tot 23 Julie 2021

Kwarantyn Kerk – Huisgeloof vir Sondag, 18 Julie 2021 en Maandag tot Vrydag, 19 tot 23 Julie 2021

Geestelike samesyn en geloofsvorming vir kleiner groepe, gesinne en individue.

Locations & Times

NG Kerk Nooitgedacht, Port Elizabeth, South Africa

24 Brabant Rd, Port Elizabeth, 6025, South Africa

Saturday 2:00 PM

hey
Sondag, 18 Julie


Kom tot rus in God se teenwoordigheid –
Doen die oefening soos hierbo. Dit is iets wat mens kan help as mens oorweldig, bekommerd of bang voel. Jy kan elke dag hiermee begin en afsluit. Of enige tyd doen as jy dit nodig het.

Steek ’n kers aan as simbool van God se teenwoordigheid by jou en kom tot rus.


Gebed -

O Genadige God, wat dié wat arm is, antwoord,
Antwoord ons.
O Genadige God, wat dié wat bedruk is, antwoord,
Antwoord ons.
O Genadige God, wat dié met gebroke harte, antwoord,
Antwoord ons.
O Genadige God,
Antwoord ons.
O Genadige God,
Wys u deernis met ons.
O Genadige God,
Verlos.
O Genadige God,
Red.
O Genadige God, bewys u barmhartigheid,
Nou,
Gou,
Baie gou.
Amen.

Lees die teksgedeelte, Psalm 23.
hey
Kinderoomblik -

Ons is steeds in Koninkrykstyd en dink hierdie week aan diensbaarheid as ‘n manier om verhoudings in God se huisgesin te versterk. Een van die leesrooster tekste van hierdie Sondag is Efesiërs 2:11-22 en die beeld van ‘n huisgesin / gemeente wat saamwerk en mekaar dien kan hierby aansluit. Dit is ook vandag Internasionale Nelson Mandela dag. Vandag vier Suid-Afrika en die res van die wêreld Internasionale Nelson Mandela dag. Nelson Mandela was ‘n voormalige president van Suid-Afrika en sy verjaarsdag was op 18 Julie. In 2009 is dié dag deur die Verenigde Nasies aangekondig om sy nalatenskap te vier. Hy het 27 jaar in die tronk spandeer in sy stryd teen apartheid en ongeregtigheid en daarna het hy sy lewe gewy om eenheid en versoening te bewerkstellig. Nelson Mandela het op sy 90ste verjaarsdag ‘n oproep gemaak tot wêreldwye diens en medemenslikheid. Wêreldwyd vier mense nou die 18de Julie deur 67 minute van diens te lewer –
Ons as Christene het die voorbeeld en opdrag van Jesus Christus wanneer dit kom by diensbaarheid en liefde vir ander mense. Jesus het sy dissipels aangespoor om vir armes te sorg, om om te gee, lief te hê en diensbaar te wees. Dink maar aan hoe Hy hulle voete gewas het. In Koninkrykstyd dink ons veral hoe ons, as sy dissipels, diensbaar kan wees. En daarom kan ons op 18 Julie, maar ook enige ander dag, aan praktiese maniere dink waarop ons ander kan dien.

Reënboog speletjie - Gebruik ‘n prentjie van ‘n reënboog. Laat almal ‘n kleur kies – rooi, oranje, geel, groen, ligblou, blou, of pers en sê vir die persoon langs jou watter kleur jy gekies het. Nou kom die uitdaging – die kleur verteenwoordig die manier waarop jy hierdie week diensbaar kan wees.
- Rooi – bel ‘n bejaarde en hoor hoe dit gaan
- Oranje – WhatsApp iemand wat siek is en vra of hulle hulp benodig (dalk inkopies)
- Geel – Gee ‘n paar skoene of ‘n kombers weg
- Groen – Maak toebroodjies vir iemand wat honger is
- Ligblou – Maak tee vir iemand in jou huisgesin en spandeer tyd met hom/haar
- Blou – Lees ‘n storie vir ‘n kind (dit kan ook per WhatsApp video call wees)
- Pers – Bied aan om iemand te help om iets prakties te doen

Bid: Bid vir die verskillende barmhartigheidsaksies van julle gemeente en diensorganisasies waarby julle betrokke is (bv. Maranatha Streetworkers Trust en MTR Smit)
Jy kan ook vir jou so skaap teken met die woorde van Psalm 23 in. Sit dit iewers in jou huis waar jy dit elke dag kan sien.
hey
Agtergrond -

Psalm 23 is baie bekend en dit is baie mense se gunsteling gedeelte in die Bybel. Hierin hoor ons dat die Here ons Herder is. Hy gee vir ons wat ons regtig nodig het. Hy gee vir ons rus, vrede, leiding, rigting, betekenis, lewenskrag en Hy is met ons selfs in die moeilikste, donkerste tye kom. Die lewe is nie net maanskyn en rose nie, maar ons het hoop want ons is nie alleen nie. Die Here is lief vir ons en is daar vir ons.
Psalm 23 is dus 'n feespsalm en 'n troospsalm. Dit is 'n psalm vir die lewe en die dood. Dis vir al die seisoene van die lewe. Dit is besonders dat Dawid vir God as sy Herder beskryf. Herders moes weerlose skape in ‘n vyandige omgewing beskerm. Nie net moes hulle keer dat wilde diere die skape verskeur nie, maar hulle moes die skape ook help as die skape in slegte situasies gekom het, bv. as hulle weggeraak het of in ‘n bos vasgehaak het, of in water geval het, en die wol so baie water geabsorbeer het, dat hulle kon verdrink. Die herder moes vir hulle voorsien vir kos en water en ‘n veilige rusplek.
In sy lewe het Dawid iets daarvan in God se sorg, liefde en leiding ook ervaar. Daarom kon hy bely dat God sy Herder is. Dawid kon nie dit skryf as hy nie die sorg en getrouheid van die Here ervaar het nie. Hierdie Psalm is gebaseer op Dawid se diep gewortelde belewing van die Here. Hy het die verskillende seisoene van die lewe ervaar, maar nogsteeds geweet waar sy hulp werklik vandaan kom. In Johannes 10 sê Jesus hy is die Goeie Herder. Ons moet Hom vertrou, volg en gehoorsaam wees. Hy sal vir ons gee wat ons regtig nodig het.


Praktiese aktiwiteite vir die week -

Maak ‘n lys van alles wat julle het wat julle kan deel (soos boeke, speelgoed, klere, kos ens.) Plak hierdie lys iewers op en kies hierdie week een item wat julle met ander mense gaan deel.
Bak koekies, versier dit saam as gesin of op jou eie, maak dit op in pakkies en gee dit vir ander.
Leer iemand om iets te doen soos om brood te bak, tuin te maak of so. Jy kan dit ook oor die selfoon doen om kontak te vermy.


Gebed -

Mag die Here Jesus Christus by jou wees om jou te beskerm;
binne-in jou wees om jou te verfris;
rondom jou wees om jou te bewaar;
voor jou wees om jou te lei;
agter jou wees om jou te regverdig;
bo jou wees om jou te seën.
Hy wat saam met die Vader en die Heilige Gees
leef en regeer – God vir ewig en altyd.
hey
Weekprogram vir 19 tot 23 Julie 2021


Maandag, 19 Julie

Kom tot rus in God se teenwoordigheid en steek ’n kers aan as simbool van God se teenwoordigheid by jou.

Lees die teksgedeeltes, Efesiërs 2:11-22 en Psalm 89:20-37. (Dit verskyn heel onderaan, na Vrydag se gedeelte.)


Moontlike vrae -

Wat sê die gedeeltes vir jou van God en die mens?
Wat staan vir jou uit in hierdie gedeeltes?
Wat daag jou uit of wat gee jou hoop?
Hoe word jou lewe geraak?
Waarmee is God besig in die wêreld en hoe kan jy aansluit daarby? Waarmee is God besig in jou lewe?


Dink na -

Paulus het in sy verkondiging van die evangelie gewoonlik die ritme gevolg van dit wat was (sonde en gebroke verhouding); dit wat nou is (nuwe skepping in Christus), en ‘n uitnodiging om te leef uit dit wat is. Die Efesiërsbrief is gerig aan meerdere gemeentes in Klein-Asië - gelowiges uit ‘n nie-Joodse agtergrond. Paulus fokus op die feit dat hulle uitgesluit is. Die “heidene” was “vreemdelinge” in terme van die verbondsbeloftes, maar deur die kruis wat vrede bewerk en mure afbreek, is hulle versoen en het hulle nou dieselfde status as die Jode. As deel van hierdie nuwe huisgesin van God is ook hulle nou die tempel waarin God bly - hulle wat nooit in die tempel van Jerusalem welkom was nie.

Sluit af met gebed.
Dinsdag, 20 Julie

Kom tot rus in God se teenwoordigheid en steek ’n kers aan as simbool van God se teenwoordigheid by jou.

Lees die teksgedeeltes, Efesiërs 2:11-22 en 2 Samuel 7:1-14. (Dit verskyn heel onderaan, na Vrydag se gedeelte.)


Moontlike vrae -

Wat sê die gedeeltes vir jou van God en die mens?
Wat staan vir jou uit in hierdie gedeeltes?
Wat daag jou uit en wat gee jou hoop?
Hoe word jou lewe geraak?
Watter uitnodiging kom deur die Here na jou?
Waarmee is God besig in die wêreld en hoe kan jy aansluit daarby? Waarmee is God besig in jou lewe?


Dink na -

“Van vreemdelinge na familie” is Paulus se boodskap aan gelowiges uit ‘n nie-Joodse agtergrond. In Christus is daar nuwe skepping, nuwe gemeenskap. Die verhouding tussen Jode en heidene was een van uitstoot en afkeer. Die boodskap aan nie-Jode dat hulle nou deel van God se huisgesin is, was nie vir hulle Joodse broers en susters goeie nuus nie. Ons hou nie altyd van die implikasies van die evangelie nie - ons wil nie altyd vir God en God se genade deel nie.

Sluit af met gebed.
hey
Woensdag, 21 Julie

Kom tot rus in God se teenwoordigheid en steek ’n kers aan as simbool van God se teenwoordigheid by jou.

Lees die teksgedeelte, Efesiërs 2:11-22 en Markus 6:30-34, 53-56. (Dit verskyn heel onderaan, na Vrydag se gedeelte.)


Moontlike vrae -

Wat sê die gedeeltes vir jou van God en die mens?
Wat staan vir jou uit in hierdie gedeeltes?
Wat daag jou uit, wat gee vir jou hoop?
Hoe word jou lewe geraak?
Waarmee is God besig in die wêreld en hoe kan jy aansluit daarby? Waarmee is God besig in jou lewe?


Dink na -

In Koningkrykstyd bedink en vier ons die implikasies van die evangelie vir kerkwees. Die kerk staan in die teken van vrede, wat die afbreek van vooroordele en vyandskap veronderstel. Vrede is nie die toeplak van ‘n wond met ‘n pleister nie. Dis die oopbreek, uitbloei en herstel van verhoudings. Christus se vrede het sy lewe gekos. Die kerk het ‘n fondament en hoeksteen in die geroepe profete en apostels en Christus self. Die kerk is ‘n heilige tempel en woonplek van God, maar is nie ‘n gebou nie. Dit bestaan uit mense en volkome nuwe verhoudings.

Sluit af met gebed.
Donderdag, 22 Julie

Kom tot rus in God se teenwoordigheid en steek ’n kers aan as simbool van God se teenwoordigheid by jou.

Lees die teksgedeeltes, Efesiërs 2:11-22 en 2 Samuel 7:1-14. (Dit verskyn heel onderaan, na Vrydag se gedeelte.)


Moontlike vrae -

Wat sê die gedeeltes vir jou van God en die mens?
Wat staan vir jou uit in hierdie gedeeltes?
Wat daag jou uit en wat gee jou hoop?
Hoe word jou lewe geraak?
Waarmee is God besig in die wêreld en hoe kan jy aansluit daarby? Waarmee is God besig in jou lewe?


Dink na -

Waar in jou lewe is daar vyandskap? Is daar ‘n verhouding waarin jy maar net die vrede bewaar en glad nie wil konfronteer om te herstel nie? Vrede gebeur nie oornag nie. Ons kan egter daarna verlang in ons daaglikse verhoudings juis omdat God met ons vrede gemaak het. Word bewus van wat in jou gemoed na herstel verlang en van wat daarteen vasskop.

Sluit af met gebed.
hey
Vrydag, 23 Julie

Kom tot rus in God se teenwoordigheid en steek ’n kers aan as simbool van God se teenwoordigheid by jou.

Lees die teksgedeeltes, Efesiërs 2:11-22 en Markus 6:30-34, 53-56. (Dit verskyn heel onderaan.)


Moontlike vrae -

Wat staan vir jou uit in hierdie gedeeltes?
Wat daag jou uit en wat gee jou hoop?
Hoe word jou lewe geraak?
Watter uitnodiging kom deur die Here na jou?
Waarmee is God besig in die wêreld en hoe kan jy aansluit daarby? Waarmee is God besig in jou lewe?


Dink na -

Markus 6 help ons om Christus se dood en die vrede wat Hy bring te verstaan binne die konteks van sy deernis. In Markus ontdek ons sy innige meegevoel wat daartoe lei dat Hy die skares leer en kosgee. Hy is die Voedsel en Vrede vir ons wat deel van God se huisgesin is.

Sluit af met gebed.
hey