YouVersion Logo
Search Icon

AGS Balfour

Ons Glo: Die Drie-Enige God

Ons Glo: Die Drie-Enige God

Locations & Times

https://www.facebook.com/balfourags

Thursday 6:00 PM

Ons glo – Die Drie-enige God


Drie-Enige God


Algemene vraag: Dit staan nie in die Bybel nie
Die woord Drie-Eenheid of Drie-Enige God kom nie eenkeer in die Bybel voor nie. So hoekom is dit so ‘n groot deel van ons geloof?


Beginsel en Ou en Nuwe Testament
Die doel van Teologie (die studie van God) is om God beter te ken en verstaan. Om dit reg te kry moet woorde soms geskep word om ‘n beginsel te beskryf en meer verstaanbaar te maak. Byvoorbeeld: Inkarnasie – Die vleeswording van Jesus en die wegraping – die gebeurtenis waar alle gelowiges weggevoer word en die Here in die lug ontmoet. Nie die woord inkarnasie of wegraping kom voor in die Bybel nie, maar dit beskryf en verduidelik gebeure in die Bybel. Net so word die Drie-Enigheid gebruik om ‘n belangrike aspek van God te beskryf. Hierdie aspek van God word gesien in die Ou en Nuwe Testament in die Bybel.


Die Skepping: God het gespreek en die heelal gevorm. Die Heilige Gees was teenwoordig en aktief. Jesus was by God in hierdie tyd en het deelgeneem aan die skeppings aktiwiteit (Gen 1:1-2, Joh 1:1-3)
Die doop van Jesus: Die Vader het gespreek en Jesus erken as Sy Seun, en die Heilige Gees het op Jesus neergedaal. (Mat 3:16-17, Mar 1:9-11, Luk 3:22)


Ons sien ook voorbeelde hoe lede van die Drie-Enigheid afsonderlik verskyn
Jesus se lewe op aarde (Mat-Joh)
God ontmoet Abraham (Gen 18)
Die Gees is vaardig oor Simson (Rig 14:6,19; Rig 15:14)
Jesus verskyn aan Joshua (Jos 5:13-15)
Die Gees vul die bovertrek (Hand 2:2)
God praat op die berg waar Jesus verheerlik was (Mat 17:5)


Ons begin dan sien dat die God wat ons aanbid saam en afsonderlik funksioneer. As drie in een.


Alhoewel die aspek van God duidelik is, is dit moeilik om te begryp omdat ons geloof Monoteïsties (ons aanbid slegs een God) is. As ons dan een God aanbid, hoe kan daar 3 Gode wees?


Monoteïsme


Deuteronomium 6:4-5
4.Hoor, Israel, die HERE onse God is ‘n enige HERE. 5. Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag.


Kenmerke van Monoteïsme
Glo in een onsienlike God. Hierdie God is:
· Persoonlik
· Soewerein (die hoogste gesag)
· Oneindig
· Ewig
· Perfek
· Almagtig


Al hierdie eienskappe beskryf ons God, maar dit los ons nog steeds met die vraag.


Hoe kan drie een wees en een drie?
Nie wiskundig nie


Politeïsme teen Monoteïsme
Anders as Monoteïsme glo mense met ‘n Politeïstiese geloof in baie gode. Byvoorbeeld die Kanaäniete en Egiptenare in die Ou Testament, die Romeine en Grieke in Jesus se tyd of selfs die Hindoes vandag.


In ‘n Politeïstiese geloof is daar verskeie gode met verskillende persoonlikhede, kragte en motiewe. As jy na die stories gaan kyk van hierdie gelowe voer die verskillende gode selfs oorlog teen mekaar. Alhoewel hulle aan dieselfde groep behoort funksioneer hulle nie as een nie.
Omdat die verskillende gode so van mekaar verskil was daar verskillende afdelings van die lewe wat onder ‘n spesifieke god geval het (byvoorbeeld Ares was die god van oorlog, Atene die godin van wysheid ens).


Dit het mense gelei om die god te aanbid wat hul behoefte ontmoet. As hulle ‘n goeie oes wou gehad het was die god van die oes aanbid, as hulle siek was het hulle die god van genesing aanbid, ens.


Ons God funksioneer nie so nie. Ons het een God wat na al ons behoeftes omsien.


Die Drie-Eenheid is volkome een: een in doel, gedagte, motief en krag, maar word uitgedruk in 3 persone: God die Vader, God die Seun, en God die Heilige Gees. Elkeen volkome een en elkeen volkome God.


Sonstraal voorbeeld: Hitte, Radiasie en lig, tog een sonstraal.
Eenheid in aanbidding
Waar die eenheid van God vir my sterk na vore kom is in ons aanbidding. Nêrens word daar gesien dat enige deel van die Drie-Enige God Homself probeer verhef bo die ander nie.
God die Vader verhef Jesus Christus en laat Jesus sit aan Sy regterhand. (Hand 7:55–56; Rom 8:34; Ef 1:20; Kol 3:1; Heb 1:3; Heb 8:1)


Handelinge 7:55-56
55. Maar hy was vol van die Heilige Gees en het die oë na die hemel gehou en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat staan aan die regterhand van God. 56. En hy het gesê: Kyk, ek sien die hemele geopend en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan.


Jesus verkondig net dit wat Hy by die Vader gehoor het. Jesus gee ook Homself op as offer sodat die mens se verhouding met die Vader herstel kan word. Jesus het was ook toegewy aan die wil van die Vader.


Johannes 5:19
Jesus het toe geantwoord en vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hy doen, dit doen die Seun ook net so.


Johannes 6:38
Want Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.


Die Heilige Gees verkondig nie Homself nie maar herinner ons aan alles wat Jesus geleer het.


Johannes 15:26
Maar as die Trooster gekom het wat Ek vir julle van die Vader sal stuur, die Gees van die waarheid wat van die Vader uitgaan, sal Hy van My getuig.


Daarom glo ons dat God ewig bestaan in 3 persone: Vader, Seun en Heilige Gees. Elke persoon is ten volle God en daar is een God.