YouVersion Logo
Search Icon

NGK PE Nooitgedacht

Kwarantyn Kerk – Huisgeloof vir Sondag, 27 Junie 2021 en Maandag tot Vrydag, 28 tot 2 Julie 2021

Kwarantyn Kerk – Huisgeloof vir Sondag, 27 Junie 2021 en Maandag tot Vrydag, 28 tot 2 Julie 2021

Geestelike samesyn en geloofsvorming vir kleiner groepe, gesinne en individue.

Locations & Times

NG Kerk Nooitgedacht, Port Elizabeth, South Africa

24 Brabant Rd, Port Elizabeth, 6025, South Africa

Saturday 2:00 PM

hey
Sondag, 20 Junie


Kom tot rus in God se teenwoordigheid –
Doen die oefening soos hierbo.

Steek ’n kers aan as simbool van God se teenwoordigheid by jou.


Gebed -

God, U ken ons en U deurgrond ons, U weet wat ons swakhede en tekortkominge is, vir U hoef ons geen front voor te hou nie.
Tot U kan ons bid:
vir mense, arm en klein,
vir almal wat geen stem het nie,
vir mense na wie niemand luister nie,
vir mense uitgerangeer deur die sisteem,
vir mense wat gebuk gaan
onder skuldgevoelens en angs,
vir mense wat ly in ’n wêreld vol onreg, haat en pyn,
dat hulle U sal ervaar as ’n God wat vergewing skenk en ruimte gee,
’n God wat ook vir hulle ’n nuwe toekoms sal skenk.
vir ons gemeente:
vir die pas gedooptes,
dat hulle mag lewe in ’n wêreld wat u liefde ken,
vir die pasgetroudes,
dat hulle mekaar nooit in die steek sal laat nie,
vir die ernstig siekes,
dat hulle getroos sal word en ander tot troos sal wees.
God, U wat barmhartig en vergewensgesind is, U wat ons ’n nuwe kans gee, luister na ons gebede.
In die Naam van u Seun Jesus Christus. Amen.

Lees die teksgedeelte, Markus 5:21-43.
hey
Kinderoomblik -

https://drive.google.com/file/d/1eCyQsGvD2O_iX9wu5rZIut6HtE06HIsw/view?usp=sharing Wys die video oor vandag se fokusgedeelte.
Doen die weeklikse praktiese aktiwiteit saam as gesin.


Agtergrond -

Vandag se fokusgedeelte is Markus 5:21-43. Hierin word ‘n vrou genees en ‘n dogter opgewek. Markus gebruik ‘n tegniek wat die toebroodjie tegniek genoem word. Hy plaas die verhaal waar die vrou genees is, binne die verhaal van Jairus se dogter wat opgewek word. Die twee verhale in vanoggend se gedeelte is nou verbind. Dit gee geur aan mekaar. Dit maak ook dat die twee verhale met mekaar vergelyk kan word.

Let in die verhale op die geloof en vertroue op Jesus.
- Jaïrus, ‘n vername Jood, leier van die sinagoge van die Jode, waag dit om Jesus te vra om sy dogter te genees, al plaas dit sy werk in gevaar. Hy is bereid om sy werk te verloor, sodat sy dogter kan lewe. En hy hou aan glo toe Jesus dit van hom vra.
- Die vrou, iemand waarmee ander mense niks te doene wou hê omdat sy so siek was, waag dit om Jesus uit te soek en aan te raak om genees te word. Sy laat haar nie afsit deur wat ander van haar sal sê nie, en vertrou dat Jesus haar kan genees. En Hy doen dit.

Ons sien met hierdie twee wonderdade Jesus se goddelike krag, sy geweldige mag bo siekte en dood. Ons sien hoe Jesus grense oorsteek om lewe en genesing te bring vir mense in nood, wat sukkel. Dit is duidelik uit hierdie verhaal dat nie alle Joodse leiers Jesus teengestaan het nie. Hier kom soek Jaïrus Jesus as geneser op om sy siek dogtertjie te kom help.
Die gedeelte vorm deel van ‘n breër geheel in die Markus evangelie wat strek van Markus 1:16-8:26. Hierin tree Jesus met groot gesag op in Galilea; hy doen wonders en onderrig sy dissipels en die skare, hoofsaaklik deur gelykenisse.
hey
Praktiese aktiwiteite vir die week -

Tema: Hartseer en swaarkry tye
Hierdie week dink ons hoe die Here ook by ons is in die hartseer of swaarkry tye. Ons kan Jesus se voorbeeld volg en ander mense wat deur moeilike tye gaan, ondersteun en liefhê. Dit is veral belangrik in geloofsvorming dat kinders beleef dat volwassenes ook hulle hartseer en swaarkry eerlik met God kan deel.

Soet en suur (of bitter) tye:
Hulpmiddels: lemoene en pomelo’s in skyfies gesny of soet en suur lekkers.
Laat vrywilligers proe aan die “lemoene” of lekkers... sommige kry soet en ander suur (of bitter) lekkers/vrugte sonder dat hulle dit verwag. Verduidelik dat ons soms “soet” ervarings het in die lewe (hoogtepunte) en soms ook onverwags “suur” tye het (laagtepunte).

Gespreksvraag in die banke/tuis: Vertel van ’n soet en suur ervaring van jou afgelope week.

Hartseer en swaarkry tye:
Soms gebeur daar nie net “gewone” slegte dinge met ons soos ekstra huiswerk of vuil skottelgoed nie, maar iets wat ons regtig hartseer maak soos siekte, swaarkry of selfs iemand vir wie ons lief is wat sterf. Al verstaan ons nie altyd hoekom sulke dinge gebeur nie, of al voel ons soms dat dit nie regverdig is nie, kan ons vashou daaraan dat Jesus BY ons is en vir ons omgee en sorg in hartseer en swaarkry tye.
Die verhaal van die leesrooster teks kan ook hieraan verbind word – Jesus wys hoe hy omgee vir ‘n siek vrou en ‘n siek dogtertjie (Markus 5:21-43).

Simboliese handeling en gebed
Steek die Christuskers aan en herinner almal daaraan dat Christus lewe en dat God altyd by ons is. Jy kan ook tee-liggies uitpak wat gemeentelede kan aansteek om vir iemand spesifiek wat siek is te bid of ter herinnering aan iemand wat oorlede is.

Wenke en idees
Simboliese aktiwiteite vir families in tye van verlies:https://dinkjeug.co.za/simboliese-aktiwiteite-vir-families-in-tye-van-verlies/

DinkJeug Familie App: Hierdie week kyk ons na verhale van 5 kinders of jongmense in die Nuwe Testament. Elke dag se podcast vertel ook van ’n bekende bordspeletjie of rekenaarspeletjie wat die kinders sal ken wat die tema van die dag bekendstel.
Maandag: Jaïrus se dogtertjie lewe weer & “Among Us”
Markus 5: 21-24a, 35b-43
Dinsdag: ’n Seuntjie deel sy brood en vis & “Settlers of Catan”
Johannes 6: 8-15
Woensdag: Rodé oortuig ander & “Minecraft”
Handelinge 12:12-17
Donderdag: Timoteus het ’n span en “codenames”
1 Timoteus 4:11-16
Vrydag: Jesus leer in die tempel en “Guardians of Anchora”
Lukas 2: 40-52
Laai die app af by:
Google Play:https://play.google.com/store/apps/details?id=com.dinkjeug.dinkjeugapp&hl=en
Apple iStore:https://apps.apple.com/za/app/dinkjeug-families/id1504077715


Gebed - Franciskus van Assisi

Here, maak my 'n instrument van U vrede.
Waar daar haat is, laat my liefde saai;
waar daar onreg is, vergifnis;
waar daar twyfel is, geloof;
waar daar wanhoop is, hoop;
waar daar duisternis is, lig;
waar daar droefheid is, vreugde.

O, Goddelike Meester, gee dat ek nie soseer sal soek
om getroos te word nie as om te troos;
om verstaan te word nie as om te verstaan;
om bemin te word nie as om lief te hê.
Want dit is deur te gee dat ons ontvang;
dit is deur te vergewe dat ons vergewe word;
en dit is deur te sterwe dat ons tot die Ewige Lewe gebore word.


Seën -

Mag die Here Jesus Christus by jou wees om jou te beskerm;
binne-in jou wees om jou te verfris;
rondom jou wees om jou te bewaar;
voor jou wees om jou te lei;
agter jou wees om jou te regverdig;
bo jou wees om jou te seën.
Hy wat saam met die Vader en die Heilige Gees
leef en regeer – God vir ewig en altyd.
Amen.
hey
Weekprogram vir 28 tot 2 Julie 2021


Maandag, 28 Junie

Kom tot rus in God se teenwoordigheid en steek ’n kers aan as simbool van God se teenwoordigheid by jou.

Lees die teksgedeeltes, Markus 5:21-43 en Psalm 130. (Dit verskyn heel onderaan, na Vrydag se gedeelte.)


Moontlike vrae -

Wat sê die gedeeltes vir jou van God en die mens?
Wat staan vir jou uit in hierdie gedeeltes?
Wat daag jou uit of wat gee jou hoop?
Hoe word jou lewe geraak?
Waarmee is God besig in die wêreld en hoe kan jy aansluit daarby? Waarmee is God besig in jou lewe?


Dink na -

Jaïrus, ‘n Joodse raadslid, val op sy knieë voor Jesus en bewys so sy opregte vertroue in Hom. Sy optrede kan hom by ander raadslede in onguns bring. Wanneer die vrou aan Jesus raak en Hy vra wie dit was, is sy eers stil. Haar aanraking maak Jesus onrein omdat sy sosiaal onrein was. Sy is bang vir Jesus se reaksie, maar Hy betoon genade eerder as die verwyt wat sy verwag. Ons hoor dat Jaïrus se dogtertjie gesterf het. Jesus gaan nietemin daarheen, betree die huis en maak Homself as’t ware onrein. Dan verdien Hy menslike spot wanneer Hy sê die dogtertjie slaap net. Jesus wil hulle leer oor vertroue en geloof in God. Hy vra dat hulle nie vir ander vertel van die wonderwerk nie. Jesus wil verseker dat mense Hom volg omdat hulle glo Hy is die Seun van God - nie net omdat Hy wonderwerke doen nie.

Sluit af met gebed.
Dinsdag, 29 Junie

Kom tot rus in God se teenwoordigheid en steek ’n kers aan as simbool van God se teenwoordigheid by jou.

Lees die teksgedeeltes, Markus 5:21-43 en 2 Samuel 1:1, 17-27. (Dit verskyn heel onderaan, na Vrydag se gedeelte.)


Moontlike vrae -

Wat sê die gedeeltes vir jou van God en die mens?
Wat staan vir jou uit in hierdie gedeeltes?
Wat daag jou uit en wat gee jou hoop?
Hoe word jou lewe geraak?
Watter uitnodiging kom deur die Here na jou?
Waarmee is God besig in die wêreld en hoe kan jy aansluit daarby? Waarmee is God besig in jou lewe?


Dink na -

Koningkrykstyd maak ons bewus van God se werk op aarde en hoe ons daarby kan aansluit. Ons sou dinge dikwels anders as Jesus gedoen het. Dalk lag ons ook soms, soos die mense by Jaïrus se huis, vir hoe Jesus dinge doen. Mag ons verby ons eie verwagtings kyk en op Jesus vertrou vir leiding oor hoe om by sy werk aan te sluit.

Sluit af met gebed.
hey
Woensdag, 30 Junie

Kom tot rus in God se teenwoordigheid en steek ’n kers aan as simbool van God se teenwoordigheid by jou.

Lees die teksgedeelte, Markus 5:21-43 en 2 Korintiërs 8:7-15. (Dit verskyn heel onderaan, na Vrydag se gedeelte.)


Moontlike vrae -

Wat sê die gedeeltes vir jou van God en die mens?
Wat staan vir jou uit in hierdie gedeeltes?
Wat daag jou uit, wat gee vir jou hoop?
Hoe word jou lewe geraak?
Waarmee is God besig in die wêreld en hoe kan jy aansluit daarby? Waarmee is God besig in jou lewe?


Dink na -

Dit is opmerklik - veral omdat hierdie twee verhale verweef is - dat Jesus nie bang is om met onrein mense interaksie te hê nie. Jesus was ‘n Jood en is dus aan Joodse wette gemeet. Vir Jesus is die wette egter nie belangriker as mense nie. Ons is ingebed in dit waarmee Jesus reeds besig is. Dit kan ons soms na plekke neem wat ons as “onrein” beskou.

Sluit af met gebed.
Donderdag, 1 Julie

Kom tot rus in God se teenwoordigheid en steek ’n kers aan as simbool van God se teenwoordigheid by jou.

Lees die teksgedeeltes, Markus 5:21-43 en 2 Samuel 1:1, 17-27. (Dit verskyn heel onderaan, na Vrydag se gedeelte.)


Moontlike vrae -

Wat sê die gedeeltes vir jou van God en die mens?
Wat staan vir jou uit in hierdie gedeeltes?
Wat daag jou uit en wat gee jou hoop?
Hoe word jou lewe geraak?
Waarmee is God besig in die wêreld en hoe kan jy aansluit daarby? Waarmee is God besig in jou lewe?


Dink na -

Om stories te deel verbreed ons lewensbeskouing en ervaring. Ons word ook bewus van die groter verhaal waarvan ons deel is. Dalk kan jy in jou huis, by die skool of werk (met mense wat jy vertrou) ‘n verhaal deel van waar jou verwagtings van mense of omstandighede verander het, omdat jy jou blootgestel het aan situasies en mense wat jy dalk voorheen as “onrein” beskou het.

Sluit af met gebed.
hey
Vrydag, 2 Julie

Kom tot rus in God se teenwoordigheid en steek ’n kers aan as simbool van God se teenwoordigheid by jou.

Lees die teksgedeeltes, Markus 5:21-43 en 2 Korintiërs 8:7-15. (Dit verskyn heel onderaan.)


Moontlike vrae -

Wat staan vir jou uit in hierdie gedeeltes?
Wat daag jou uit en wat gee jou hoop?
Hoe word jou lewe geraak?
Watter uitnodiging kom deur die Here na jou?
Waarmee is God besig in die wêreld en hoe kan jy aansluit daarby? Waarmee is God besig in jou lewe?


Dink na -

In 2 Korintiërs 8:8-15 ontdek ons opnuut iets van die voorreg om te kan gee. Ons hoor dat ons uit ons oorvloed mense in nood moet help. Wat is jou gawes wat jy met ander kan deel? Waarmee daag hierdie skrifgedeelte jou vandag uit? Is daar dalk iets wat jy nie verwag het nie waartoe God jou vandag roep?

Sluit af met gebed.
hey