YouVersion Logo
Search Icon

Doxa Deo Wilgeheuwel

Werk is Aanbidding // preek nota's

Werk is Aanbidding // preek nota's

Monday Morning Atheist

Locations & Times

Doxa Deo Meyersdal

Nic Diederichs Rd & Taylor Rd, Honeydew Ridge, Roodepoort, 2170, South Africa

Sunday 8:30 AM

Ons maak vandag klaar met ons reeks “Monday morning Atheist” en die tema vir vandag is “Werk is Aanbidding”.

Daar is navorsing gedoen in Engeland wat vasgestel het presies wanneer in die week mense op hulle ongelukkigste is: Dis op ’n Maandagoggend 11:17. Ek weet nie hoe hulle daarby uitkom nie, maar Maandagoggend 11:17 is ’n goeie tyd om jouself jammer te kry.

Ons is almal bekend met die term “Blou Maandag”. Volgens google verwys “Blou Maandag” na die 3de Maandag van Januarie want dit is skynbaar die mees depressiewe dag van die jaar.

Vir baie mense gaan die woorde “werk en ongelukkigheid” hand aan hand.

Ons het dikwels hierdie begeerte dat ons werksplek sal verander. Dat mense beter met mekaar oor die weg sal kom, dat my baas meer regverdig sal wees, dat die mense by my werk nie so goddeloos sal wees nie.

En so ons stoei met die vraag: Hoe maak ek my werksplek ’n plek waar ek God kan aanbid?

Don't become so well-adjusted to your culture that you fit into it without even thinking. Instead, fix your attention on God. You'll be changed from the inside out. Readily recognize what he wants from you, and quickly respond to it. Unlike the culture around you, always dragging you down to its level of immaturity, God brings the best out of you, develops well-formed maturity in you. (Rom 12:2 MSG)

“When you have fixed your attention on God. You will be changed from the inside out”. Die kultuur rondom jou, moet jou nie beïnvloed nie. Jy moet jou kultuur beïnvloed. Jy moet die sout wees op die biltong wat keer dat die vleis nie vrot word nie.


Ek weet dit klink ’n bietjie geestelik, fokus net op die Here en wees jy die verandering wat nodig is. Dit klink mooi op ’n Sondag, maar hoe lyk dit 11:17 op ’n Maandagoggend? Wanneer die realiteite van die wêreld daar buite jou tref?

Ek wil ’n Bybel storie met jou deel wat ons hiermee kan help. Die storie gaan oor Samgar. Jy’t waarskynlik nog nooit van Samgar gehoor nie, want daar’s net twee verse in die Bybel oor hom:

1. Toe kom ná hom Samgar, die seun van Anat, wat van die Filistyne ses honderd man met ‘n osdrywerstok verslaan het; en ook hy het Israel verlos. (Rig 3:31)

Samgar was een van die Rigters gewees in die tyd voordat Israel ‘n Koning gehad het. ’n Rigter was bloot net ’n leier gewees wat op een of ander wyse leiding gegee het waar dit nodig was.
In die tyd van die rigters, sê die Bybel , was daar chaos in die land gewees.

In daardie tyd was daar nog nie ‘n koning in Israel nie. Elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë. (Rig 17:6)

Die tweede vers oor Samgar is:

2. In die dae van Samgar, die seun van Anat, in die dae van Jael, was die paaie verlate, en die reisigers het langs sypaaie gegaan. (Rig 5:6)

Wat hier gebeur het was, die Filistyne het soos ’n klomp rowers op die hoofpaaie rondgedwaal en enige reisigers veral die handelaars beroof en vermoor. En so dit het veroorsaak dat mense nie kon besigheid doen nie. So dit het ook ’n negatiewe impak op die ekonomie ook gehad.

Dis in hierdie tyd wat Samgar ’n godelike ontevredenheid beleef het en die gevolg was dat hy as ’n rigter opgestaan het.

Daar is 3 beginsels in die storie van Samgar:


1. Begin waar jy is

Samgar was ’n boer. Bybel sê hy’t ’n osdrywerstok gehad. Dis ’n stok met ‘n skerp punt waarmee jy beeste aangejaag het.
Nou maak die klomp Filistyne moeilik en Samgar beleef ’n “11:17” oomblik.
Hier’s die ding, hy’t nie bloot net gehoop dat die Filistyne vanself sal gaan weggaan nie.
Hy’t ook nie gewag tot hy in ’n beter posisie is om iets te doen nie.
Hy’t nie eers probeer om ’n soldaat te word of ’n weermag bymekaar te kry nie, hy’t nie eers stemme probeer werf om ’n Rigter te word sodat hy iets kan doen aan die situasie nie.
Nee, dis omdat hy aksie geneem het dat hy ’n Rigter geword het.
Samgar begin waar hy was... hy was ’n eenvoudige boer. Wat Samgar besluit het, was dat hy nie gaan toelaat dat 600 dwase sy lewe gaan beheer nie.

“Dont become so well adjusted to your culture that you fit right into it”Samgar se tydgenote het die kultuur aanvaar. Daar was moeilikheid op die hoofpaaie so almal het maar net weggebly en Israel was besig om onder te gaan. Inteendeel hulle het so gemaklik begin inpas in die kultuur van die dag dat elkeen maar net gedoen het wat goed was in sy eie oë.

Samgar besef hier moet verandering kom en hy het eenvoudig begin waar hy is.

Jy weet dat daar verandering nodig is in jou werksomgewing. Jy het al jou eie 11:17 oomblikke gehad. Of dit nou korrupsie is, of onregverdigheid of jaloesie of rassisme is. In elke werks omgewing IS daar iets wat moet verander. As jy ’n volgeling van Jesus is dan weet jy ook hoe daardie verandering moet lyk. Moenie wag vir dinge om vanself beter te raak of wag dat jy in ’n beter posisie is nie. Begin waar jy is.

2. Gebruik wat jy het

Hy’t nie wapens gehad nie, hy’t nie omkoopgeld gehad nie en hy’t ook nie ’n Kanadese werksvisum gehad nie.
Al wat hy gehad het, was ’n osdrywerstok. Nou ek kan dit eintlik sien, hoe hy eendag so met sy osdrywerstok staan en by homself dink: Ek kan nogal ’n Filistyn of twee “uitsort” hiermee.

Moenie hoor wat ek nie sê nie. Ek sê nie jy moet nou iewers ’n osdrywerstok in die hande kry en die klomp filistyne daar by jou werk gaan “uitsort” nie? Ons stryd is nie meer teen vlees en bloed nie. Dit weet ons. Ons veg nie meer teen mense nie, ons veg teen ’n kultuur wat in stryd is met Vader se hart. Liefdeloosheid, selfregverdiging, selfverryking, selfbejammering, onvergifnis.

Dis nie wie ons is nie. Ons wapens, as gelowiges vandag, lyk anders. Ons gereedskap lyk anders. Ons het die vrug van die Heilige Gees ons het die gawes van die Heilige Geesen ons het die woord van God.
Jy sê dalk: wat gaan dit help? Ek’s seker dis wat Samgar se vriende ook gesê het. Wat gaan daai stok jou help?

Sien hier’s die ding. ’n Dood gewone stok in die regte ou se hande, sit 600 Filistyne op hulle plek.

Wat het God in jou hande gesit?
- Jou vermoë om maklik te kan vergewe?
- Jou luistervaardighede?
- Jou “people skills”?

Wat het jy? Wat het jy wat die Here kan gebruik om kultuur te verander? Wat het jy, waarop ander dalk neerkyk maar hulle besef nie hoe kragtig dit werklik is nie. Dalk is dit jou storie? Dalk is dit plek waar die Here jou geplaas het? Wat het jy?


3. Doen wat jy kan

Die Bybel sê hy het 600 Filistyne verslaan. Hoe verslaan jy 600 Filistyne met ’n stok? Ek meen kom ons wees realisties vir ’n oomblik, jy verslaan nie net sommerso 600 van enige iets nie. 600 wat teenoor jou staan in jou werksplek word nie sommerso verander nie. Hoe verslaan jy so Filistyne?

Kom ek sê jou hoe jy nie 600 Filistyne verslaan nie. Jy verslaan nie 600 Filistyne almal op eenslag nie. Samgar het die Filistyne een vir een uitgehaal. Wie kan nog die fliek “Rambo” onthou? Daai ou het sy vyande so stil-stil een op ’n slag saggies na hulle volgende bestemming aangestuur.

Ons land gaan nie oornag verander nie. Ons stad gaan nie oornag getransformeer word, na ’n plek waar God se heerskappy orals sigbaar is nie. Jou werksplek gaan ook nie oornag verander nie.

Jou werksplek gaan verander, eerstens omdat jy die verandering bring. Maar tweedens omdat jy bereid is om stukkie vir stukkie daaraan te werk, een dag op ’n slag en nie op te gee nie.

So wat kan jy doen?
- Begin eenvoudig waar jy’s is.
- Gebruik wat jy het.
- En doen wat jy kan.

En hou aan aanhou.

Dan word jou werksplek ’n plek van Aanbidding.

Ons gaan ’n oomblik vat en ons werke, ons loopbane, ons besighede na God toe te bring as ’n lewendige offer.

Ons gaan ons werksplekke afsonder as ’n heilige plek waar God aanbid kan word.