YouVersion Logo
Search Icon

NGK Gardeniapark - Sondag 16 Augustus - Erediens

NGK Gardeniapark - Sondag 16 Augustus - Erediens

NGK Gardeniapark - Sondag 16 Augustus - Erediens

TEKS: 2 Konings 13:14-21 TEMA: Kleingeloof beroof jou van die potensiaal en volheid van God se beloftes.

Locations & Times

Lig Gemeente

3 Jasmyn Ave, Gardenia Park, Bloemfontein, 9301, South Africa

Sunday 7:00 AM

hey

SONDAG 16 AUGUSTUS- EREDIENS

SONDAG 16 AUGUSTUS- EREDIENS

Kliek op die skakel van die kerk se YouTube kanaal om na die video opname wat geplaas is deur Ds. Jan Venter
https://bit.ly/3fXLXqA
TEKS: 2 Konings 13:14-21

TEMA: Kleingeloof beroof jou van die potensiaal en volheid van God se beloftes.
BESKRYWING: “Hy is die Een op wie jy jou lewe lank kan vertrou.” – Jesaja (33:6)
SEËNGROET: Genade en vrede van jou Vader, Verlosser en Vriend.
GEBED:
Here, aan U al die lof en eer.
Ons kom te kort aan U heiligheid en heerlikheid.
Vergewe ons ons sonde in Jesus se Naam.
Skenk ons rein harte… dat ons U kan sien.
Vader van vrede en genade, gee ons wat nodig is om U liefdevolle mense op hierdie liefdelose wêreld te wees.
Seën ons met die wysheid, krag en selfbeheersing om kwaad te vermy.
Mag ons swaarkry, onreg, geweld en vervolging met ‘n kalm hart hanteer.
Verenig ons daaglikse wandel met U wil.
Ons lê ons werk, omstandighede en lewens in U hande.
Ons vertrou ons Gemeente, families en vriende aan U toe.
Open ons harte en verstande om nou U Woord te hoor, en verstaan.
Amen.
SKRIFLESING & -VERKONDIGING: 2 Kon 13:14-21 (rondom 800vC)
Elisa was ‘n groot profeet. Maar nie so groot soos Elia nie. Die Bybel vertel ons dat Elia nie gesterf het nie. Hy is opgeneem in die hemel met ‘n wa en perde van vuur. Maar Elisa, ‘n man van God, word siek, en sterf. Vóór sy dood, besoek koning Joas van Israel hom. Die koning was baie hartseer. Joas sou die profeet mis. Hy was ‘n goeie militêre raadgewer tydens oorlogstye. Die koning vereer hom met die titel “vader” en die strydwa met ruiters van Israel.
Daar gebeur ‘n paar interessante goed in die verhaal. Elisa beveel die koning om die venster oop te maak en ‘n pyl in die rigting van Aram te skiet. Dit was simbolies van die oorwinning wat Joas oor Israel se vyande, die Amoriete, sou hê. Joas kon dit glo.
Maar dan toets die profeet sy geloof. Hy beveel Joas om die pyle teen die grond te kap. Die koning stel egter teleur, want hy slaan net drie keer op die grond. Daarom sou die oorwinning net gedeeltelik wees. Klein-geloof het koning Joas van die volheid van ‘n wonderlike belofte van God beroof.
Elisa sterf en word begrawe in Abel-Megola. Ons sien die ontwrigting van die vyande (die Moabiete) sodat mense nie eens hulle geliefde behoorlik kan begrawe nie. Die bose bedreig hulle alledaagse lewe. Inderhaas gooi hulle sommer hulle geliefde se lyk binne ‘n ander se graf. Dis Elisa se graf. Dit val op sy lyk. En die dooie word lewendig. Ons sien hier die opstandingskrag van God wat dood en boosheid oorwin.
Broer / suster in Jesus Christus.
‘n Mens voel amper ‘n bietjie jammer vir koning Joas nê. Volgens beraming moes die profeet ‘n man van in die 80’s wees. En hy tik die koning oor die vingers omdat hy nie die pyl vyf / ses keer hard op die grond geslaan het nie. Shame, hoe moes hy nou weet dis wat hy moes doen? Nou sou Aram se mense vir hom en die volk ‘n probleem bly. Dis bietjie hard. Of was dit?
Elisa, sien ons in v16, het sy hande óp die koning se hande gesit. Ons vind hier ‘n baie heilige simboliek. Hy sê daarmee vir die koning: God se seën rus op jou. Hy help jou. Gaan lewe in oorwinning.
Joas se on-entoesiastiese drie slae op die grond het sy geloof gewys in God se belofte. Ons kan dit dalk nie so duidelik sien nie. Maar vir Elisa se ou-oë was dit helder. Dalk het die koning se hele liggaamshouding iets verklap? Joas het hom na God gekeer… maar nie ver genoeg gegaan nie.
Die Skrif vra vir my en jou ‘n vraag? Hoor jy dit? Sien jy dit? Is jy half-hartig? Is ek half-hartig in my ywer vir die Here? Het jy Hom lief met jou hele hart? Joas het gedoen wat die Here van Hom verwag het. Maar niks meer nie. Soos ‘n skoolkind wat net die huiswerk sal doen wat hy kry, maar niks ekstra sal doen nie. Hoe committed is ek en jy om die Here te dien? Om geestelik vernuwe en verander te word tot Sy eer?
Die probleem is: weens ons sonde doen ons nie eens die bare minimum wat God van ons verwag nie. Ons kan ook nie. Daarom roep die Woord ons op om aan Christus en Sy volmaakte verdienste en werk en heiligheid en verlossing vas te hou. Ongelukkig weens die sonde wat in ons oorgebly het, is ons geloof ook maar swak wat dít betref. Maar op ‘n snaakse manier het die Heilige Gees ons op Christus kom gooi soos daai mense van v21 hulle geliefde op Elisa gegooi het. En ons het ook in Christus lewendig geword, en Hy roep ons vandag om Hom regtig te vertrou. Nie halfpad nie. Nie bietjie nie. BAIE! Ten volle… te vertrou met gesondheid, werk(loosheid), finansies, probleme, worstelinge, kinders, ouers…
Gemeente, koning Joas het die Aramese koning ook dan nou drie keer oorwin (soos Elisa voorspel het) en die stede wat die Arameërs verower het, teruggewen. Kyk maar vv24,25. Maar die oorwinning kon soveel soeter gewees het. Soveel meer gewees het… Soveel meer finaal gewees het.
Jy glo aan die sterwe en opstanding van Jesus Christus. En jy weet wanneer jy dit glo, sê die Here is jy Sy kind… en weet jy: wanneer jy sterwe, gaan jy hemel toe. Maar vir hoeveel van ons het die opstanding van Jesus Christus ook daaglikse betekenis / waarde? Besef ons dat Jesus se heilswerk ons nie net eeeeeendag baat nie, maar nou. Elke dag. Sy opstanding maak die verskil. Sodat ek elke dag sin vind. Binne die teëspoed op aarde. Binne die stukkend van die lewe. Sý opstanding gee jou hoop. Dit gee jou troos. Dit gee jou perspektief. Hy doen dit alles. Dit rig jou en lei jou in jou optrede en lewenskeuses.
Is dit nie jammer dat Jesus vir baie NÉT die antwoord is op die dood nie. En nie die antwoord op die lewe nie. Baie wil en voel hulle kan Hom net gebruik in die grootste tye van moeilikheid, en nie in die kleinste detail van hulle ellendes nie. Die 2 Konings 13-verhaal herinner ons dat daar meer is. Meer hoop. Meer troos. Meer krag. Meer oorwinning. Maar ek word dit beroof weens my eie Joas-geloof… my eie klein-geloof. Dis nie dat ek nie glo nie. Ek glo. Maar ek glo te klein. Ek glo te min. God is in elkeen van ons se oë net te klein! Dis ‘n groot probleem!
Wil jy nie die Here meer vertrou? Met meer vertrou nie? Vir meer vertrou nie? En nou bedoel ek nie meer besittings en rykdom nie. Wees versigtig vir daardie welvaartsteologie. Ek bedoel: vir jou fisiese, materiële behoeftes, ja! Maar ook jou geestelike groei. Vir deursettingsvermoë onder druk. Vir geduld in lyding en swaarkry. Vir totale oorwinning.
Daar kom tye, oomblikke wat die Here ons toets. Hoeveel kere slaan jy jou pyle teen die grond? Drie keer? Of dubbel dit? Het jy miskien al vergeet dat die Here Sy hande ook op jóú gelê het? By jou doop, was een geleentheid. Daar was dalk telke ander kere. Lê die Here nie Sy hand elke keer op jou wanneer die predikant sy hand of hande in die lug steek en sê: “Die Here groet jou… Die Here seën jou…”?! Glo jy dan dat die Here met jou elke oomblik hierdie week sal wees? By jou in elke krisis. Dat Hy sal sorge n voorsien in genoeg.
Moenie Joas se fout maak nie. Moenie die Here onderskat nie. Hy is groot. Sy oorwinning is groot. Sy beloftes is groot. Vertrou die Here… Amen.
GEBED: p.221
SEËN: