YouVersion Logo
Search Icon

NG KERK GARDENIAPARK - EREDIENS SONDAG 26 JULIE

NGK Gardeniapark - Sondag 26 Julie - Erediens

NGK Gardeniapark - Sondag 26 Julie - Erediens

TEKS: Johannes 9 TEMA: Moenie blind wees vir God se werke in lyding nie.

Locations & Times

Lig Gemeente

3 Jasmyn Ave, Gardenia Park, Bloemfontein, 9301, South Africa

Sunday 7:00 AM

hey

SONDAG 26 JULIE - EREDIENS

SONDAG 26 JULIE - EREDIENS

Kliek op die skakel van die kerk se YouTube kanaal om na die video opname wat geplaas is deur Ds. Jan Venter
https://bit.ly/3fXLXqA
TEKS: Johannes 9
TEMA: Moenie blind wees vir God se werke in lyding nie.
BESKRYWING: “Ek is ‘n hulpelose mens, vol pyn, maar U, o God sal my red en my beskerm.” – Dawid (Ps 69:30).

GEBED: Baie dankie Here, dat U ons vashou met die verlossingswerk van Jesus Christus. Dankie dat U by ons is. Ons verby ons in U, ondanks ons omstandighede. Ontvang die lof uit ons harte, en die aanbidding en waardering wat ons vir U het. Laat ons hoor wanneer U nou met ons praat. Dankie vir U Woord. In Jesus se Naam. Amen.
SEËNGROET:
SKRIFLESING & VERKONDIGING: Joh 9 (Omdat pyn en lyding ‘n persoonlike saak is, gaan ek nie die verwysings na wyle Lucas Roux wat Maandag “begrawe” is uit die preek haal nie.)

Familie, Vriende. Julle het julleself al afgevra: “Waarom het Lucas Down-sindroom gehad?” Waarom word mense gebore met gestremdhede? Waarom vlieg terroriste in 2001 vliegtuie in torings in New York in? Waarom sterf duisende in ‘n tsunami-natuurramp in 2003? Hoekom beleef ons ‘n pandemie in 2020? Waarom word mense siek? Waarom kry mense swaar? Hoekom gaan mense dood? Hoekom is daar soveel pyn? Hoe laat ‘n heilige God soveel boosheid toe in Sy skepping? Plaasmoorde! Verkragtings. Korrupsie! Ons sukkel om God se liefde, en die lyding in hierdie wêreld met mekaar in verband te bring. Ons probeer dit verstaan, maar sukkel om dit reg te kry… Johannes 9 is een van die belangrikste en beste manière wat die Here ons gee om daarna te kyk.

Ons vind ‘n gewone man… wat blind gebore is. ‘n Bedelaar. Sy hele lewe lank lewe hy ‘n lewe van gestremdheid. Hy ken dus nie ‘n lewe van liggaamlike vryheid nie. Hy moet rondgelei word. Hy ken ook nie werksbevrediging nie. Waarskynlik het dit gekeer dat hy ‘n vrou (en kinders) gekry het. Hy het uitgemis op die vreugde van ‘n gesinslewe. Hy het dalk nog by sy ouers gebly wat vir hom gesorg het. Verder lewe hy van bedel. Hy is afhanklik van ander. Hy ken swaarkry. En waarskynlik die spot van kinders; en die jammerlike tongklikke van mense oor sy lot.

Hierdie man het nie Vryheid gehad nie. Hy ken nie onafhanklikheid nie. Hy is nie finansieël selfstandig nie. Hoekom sal iemand jou dan respekteer? Hy het ‘n naam gehad in die samelewing. Nie sy eie noemnaam. Hy was bekend as “die blinde”. Sonder sig. Sonder persoonlikheid. Volgens ons teksgedeelte kan ons aflei dat die blinde ‘n bekende figuur in die samelewing was. Soos die man wie se gesig ons by die verkeerslig ken. Hierdie man se lewensverhaal was aan almal bekend.

Hy sou nie net ‘n man wees wat jy vermy omdat hy altyd met ‘n hoed in die hand staan nie. Mense dink mos soms: swaarkry is aansteeklik. As jy siek of gestremd was of nie 'n kind kon verwek (onvrugbaar) nie, is jy gesien as iemand wat gestraf is. God het jou vervloek. Dis die tipe mens waarvan jy maar bietjie weg bly. Net-nou smeer dit af op jou…

Maar nie Jesus nie. Op ‘n dag toe Jesus wegstap van die tempel, sien Hy die man. In v1 sien Jesus die man en gaan na hom toe.

Jesus se dissipels vra dadelik - in dieselfde vraag – die vraag op almal se lippe: hoekom is daar seer op aarde? Hoekom is die man blind? Hulle gaan dadelik na die default-setting. Die mens redeneer: dis omdat hy iets verkeerds gedoen het. En as hy nie iets verkeerd gedoen het nie – dan sy ouers! Wie se skuld is dit Rabbi? Wie se sonde is die oorsaak? Hulle doen dieselfde as Job se vriende – Job jou kinders is dood, jou eiendom is weg en jou gesondheid is swak … weens jou sonde!!! Die man se blindheid was sy eie skuld. Of sy ouers se skuld! Jesus gee ‘n 3e opsie.

Jesus gee die beste antwoord. Maar dit beteken nie die mens aanvaar die antwoord nie. Ons hoor in ons gedeelte hoe die mens (die Jode en Fariseërs) dit probeer wegredeneer. In die mens se redenasies is daar egter geen vertroosting nie. Slim mense soos die wetesnakplike, Hawking, sê die mens dans maar na sy DNS. As jou gene swak is, jammer vir jou. Geen ander godsdienstige stelsel gee ‘n bevredigende antwoord op die kwessie van lyding nie. Die Boeddhisme blameer dit op reïnkarnasie: omdat jy sleg was in jou vorige lewe, het jy teruggekom as ‘n hond, ‘n gestremde… of ‘n vrou!

Jesus trek ‘n streep deur die “wysheid” van die mens. Want dis dwaasheid. Hy antwoord Sy dissipels dat hulle God heeltemaal buite rekening laat met hulle beredenerings. Bestaan God dan nie? Is Hy nie soewerein nie? Regeer Hy nie oor elke detail van die mens se lewe nie? Bepaal God nie die persoonlike lewe van die individu en geskiedenis van volke nie? Gaan ons oor die pandemie en Suid-Afrika ook praat sonder om God se Naam te noem?

Ons moet mooi luister na Jesus se antwoord: “Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s’n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word.” Dit is seker een van die beste antwoorde wat ons het op die vraagstuk oor pyn en lyding en swaarkry.

Jesus sê nie God is die oorsaak van pyn nie. Ons bely dit ook: God is nie die Outeur van die Kwaad nie. Daarvoor is die mens en satan te blameer vlg. Gen 3. Sonde het deurgesypel na elke deel van die lewe en kom skeeftrek wat God goed en heilig geskep het. Sonde het alles hier op aarde kom breek. Dis hoekom die lewe so lelike gesig het. En ons verstaan nie hoekom God nie alles keer nie, maar boosheid toelaat. Ons verstaan dit nie! Dis ‘n misterie.

Maar Jesus help ons… om te verstaan dat God se werke nie losstaan van die mens se pynlike omstandighede en situasies nie. In alles wat verkeerd op aarde is, mag ons weet dat God op ‘n manier daarmee werk. Ons weet nie heeltemaal wat Hy (besig is om te) doen nie… Ons sien nie die groter prentjie nie. Ons kan nie die Plan sien nie, maar daar ís ‘n Plan. En my en jou en ons seer het ‘n plek in God se groter verhaal. En dis ‘n reddingsverhaal.

Joh 9 wys daarna. Jesus spoeg op die grond en smeer die klei-mengsel aan die man se oë en sê “Gaan was jou in die Siloambad” (v7). Ons tref ‘n heilige stukkie ironie hier aan, want Siloam beteken “die een wat gestuur is”. Dit verwys na God se Messias, God se Gestuurde… Redder. Die Beloofde Een van Gen 3:16. *Jesus kon net sê die man moes sien, of Hy kon net aan die man se oë geraak het, en Hy sou genees wees. Hoekom juis spoeg in die grond? Dat die man ‘n draai kon gaan maak by die bad wat na Hom wys.

Die dag ná die genesing, vat die blinde-man (wat nou kan sien) se bure hom na die Fariseërs. Hulle snap nie die ironie nie, maar betwyfel Jesus se afkoms. Hy glo nie Hy kom van God nie. WANT… Jesus gehoorsaam nie die wet nie. Hy het die sabbat onheilig… met sy boerdery-praktyke met water en grond. Hulle raak heel side-tracked. Dit gaan nou nie meer oor Jesus nie, maar Moses. Daar kom verdeeldheid in die groep… oor Jesus. En Jesus is nêrens te vind nie. Die man met wie die wonderwerk gebeur het, weet net Jesus is iemand baie spesiaal. Hy noem Hom “’n profeet”. Hy is iemand soos Elia of Elisa wat wonders kan doen. En hulle was van God af. So Hy moet dan seker ook van God af wees.

Dit was nie die antwoord wat die Fariseërs wou hoor nie. So hulle probeer sy getuienis diskrediteer. Jy het gesien hoe hulle ook wou seker maak dat hulle die regte man wat blind was probeer identifiseer het. Wat sê sy ouers? Sy ouers stel ‘n mens teleur, want hulle staan nie by hulle kind nie. Uit vrees om gestraf te word – die straf was om verban te word van die sinagoge en jou Joodse voorregte te verloor – sê hulle net in v21 dat hulle seun oud genoeg is om vir homself te praat. Hulle skuif die verantwoordelikheid weg van hulle-self. Gooi hom vir die wolwe…
Die Fariseërs skuif hulle fokus terug op die geneesde man. Hulle sit al groter druk op hom. Hulle aanklag skuif van die sabbat na Jesus as sondaar. Maar dit lyk of die man homself vererg vir hulle. ‘n Mens kan dit verstaan nê. Want iets groots – amazing – het met hom gebeur. Hy kon nog nooit sien nie, en nou sien hy danksy Jesus. Só hy trek sy nek styf en noem homself moedswillig ‘n volgeling van Jesus (v27,28). Hiervoor is die man gestraf. Afgesny van God en die volk.

V35 – toe Jesus dit hoor, het Hy, die Herder, die man gaan soek. En nou gaan die groot wonder plaasvind. Jesus vra vir Hom die allerbelangrikste vraag (‘n vraag ook aan my en jou): “Glo jy in die Seun van die Mens?” O dis so mooi hoe Jesus Homself openbaar as God! En kyk net Sy genade. Want as die man nie seker is Wie die Seun van die Mens is nie, dan help Jesus hom om te sien – geestelik te sien: “Jy sien Hom. Dit is Hy wat met jou praat.”

“Ek glo, Here!”

Glo jy … Broer / Suster?
Jesus sê in v39: “Ek het na hierdie wêreld toe gekom om die mense voor ‘n beslissing te stel sodat dié wat nie sien nie, kan sien en dié wat sien, kan blind word.” Hy stel ons voor hierdie beslissing. Vir die wêreld wat dink hulle is reg deur Jesus te verwerp, sê Hy hulle is blind. Vir ons wat in Hom glo, sê Hy: julle sien.

Sien jy? Of is jy blind?

Jesus is die Seun van God, en Hy is die Seun van die Mens. Hy is van ewig God. En Hy is uit die maagd Maria gebore. Hy het gely en is vermoor aan ‘n kruis vir my en jou sonde. Hy het gekom om die gebrokenheid heel te maak. Om wat stukkend is, gesond te maak. Hy belowe in Sy Woord eendag wanneer Hy kom, sal Hy finaal Sy koninkryk oprig. Dit sal sonder hartseer, geweld en trane wees. En al verstaan ons nie nou al die redes vir elke vorm van seer nie, kan ons weet dat God se werke, Sy perfekte werke, daaronder rus. Alles wat die Here doen, is goed.
“Die Here is regverdig in AL Sy handelinge, getrou in ALLES wat Hy doen” (Ps 145:17).
“U is goed en U doen goed…” (Ps 119:68a).

Alles wat die Here doen (en toelaat) is goed. Vir ‘n goeie doel. Redding!
Alles wat die Here doen, is vir Sy heilige eer.

Die blinde was blind gebore vir God se eer. Hy was blind sodat Jesus hom kon genees en die mense God se goedheid kon sien. Dat die mense Jesus as die Lig en Redder kon sien. Dat God verheerlik kon word, en Hy ís verheerlik deur die wonderwerk. Die man se blindheid was die beste ding wat met hom kon gebeur, want dit het gemaak dat hy Jesus ontmoet het en gered is. Hy is van sy fisiese- en geestelike blindheid genees.

Lucas was down-sindroom gebore vir God se eer. Hierdie COVID-pandemie laat God ook toe vir Sy eer. Dis nie noodwendig ‘n straf oor hierdie of daardie sonde van die mensdom nie, maar wel die gevolg van ons sonde. Jy word nie noodwendig siek of verloor jou werk oor ‘n sonde in jou lewe nie. Onder ons krisisse, is die hand van ons God wat besig is om die goed bewerk wat eendag ewig sal staan.
Maak jy net seker dat jy sê soos die geneesde blinde “Ek glo, Here!” Dan sal jy God en Sy koninkryk sien.

GEBED: Dankie Here dat U pyn ken. U ken honger. U ken armoede. U ken siekte. En U ken ook dood… Ek lê die Gemeente aan U voete neer. Ontferm U oor elkeen en sy / haar omstandighede. Dankie dat U U hand oor on shou. Laat ons nie vergeet U is ‘n Verbondsgod nie; dat U in ‘n verbond met ons staan nie. Versterk ons geloof, en gee ons krag.

Help ons asb. in ons land. Wees met ons geliefdes … ook hulle wat ver is.

Ons vra U seën. In die groot Naam van Jesus. Amen.

SEËN: