YouVersion Logo
Search Icon

NG Kempton-Hoogland

Sondag 12 Julie 2020

Sondag 12 Julie 2020

Welkom by vanoggend se aanlyndiens. Prediker: Dr Neels du Randt 1 Tessalonisense 5:11 - In 'n ongemaklike wêreld het ons mekaar nodig as bemoedigers

Locations & Times

NG Kempton-Hoogland

85 De Wiekus Rd, Van Riebeeck Park, Kempton Park, 1629, South Africa

Sunday 8:30 AM

Kyk na hierdie boodskap op YouTube

Besoek gerus ons gemeente se YouTube kanaal.
https://www.youtube.com/channel/UCWPqD-Oey-oZBiYVrCKfUnA

1 Tessalonisense 5:11: Bemoedig mekaar en bou mekaar op

Offergawes

Klik op die skakel hieronder deur SnapScan 'n bydrae te lewer. Die skakel sal die SnapScan toep oopmaak op jou slimfoon. Indien die toep nog nie op jou slimfoon is nie, sal jy gevra word om SnapScan te installeer. Volg dan die instruksies.Baie dankie!
https://pos.snapscan.io/qr/PXMP7844
1 Ts 5:1-11; Hd 4:36; Hd11:22-24

Ons leef in ongemaklike tye. En dit impakteer ons lewens op baie maniere – positief en negatief. Een van die dinge wat al duideliker word, is die sielkundige impak op ons menswees. Al hoe meer mense cope nie meer nie, of voel effens van balans af, of voel dat hulle hele menswees ingeperk en afgeskaal word. Ons kan dit nie sommer ignoreer nie, maar moet sensitief bly oor hierdie impak op ons lewe. Vanmôre wil ek een lens hierop plaas: in tye van ongemak het ons ’n bemoediger nodig – ’n spesifieke persoon wat ons help om gesond te bly en positief die toekoms in te leef.

Ons Bybelse model vir bemoediging is Barnabas. Sy naam is Josef – ’n Leviet wat op Siprus gebore is. Die apostels het hom ’n ander naam gegee: Barnabas. Barnabas beteken seun van bemoediging. Ons kan daarom praat van Barnabas as die bemoediger. Sy naam beteken dit en sy lewe het dit bewys.
Barnabas se konteks help ons om met hom te konnekteer:
Die eerste christene het na Jesus se hemelvaart in Jerusalem gebly en mekaar ondersteun en versorg.
Maar die Jode het hulle vervolg. Stefanus se dood het daartoe gelei dat die christene nog erger vervolg is, sodat hulle na ander streke versprei het: Fenisië, Siprus en Antiogië. Oral waar hulle gegaan het, het hulle die evangelie verkondig ‑ maar alleen aan die Jode.
Intussen het die Here in 'n gesig aan Petrus verskyn, en dit aan hom duidelik gemaak dat die evangelie aan alle mense, ook die nie‑­Jode, verkondig moet word.
Christene uit Si­prus en Sirene het intussen in Antiogië aangekom en aan die nie‑Jode, die Griekssprekendes, die evangelie verkondig. Die Here het hierdie werk ryklik geseën sodat baie mense tot geloof gekom het.
Hierdie goeie nuus het die christene in Jerusalem bereik en hulle het vir Barnabas gestuur om te gaan kyk. Hy was baie bly om te sien hoe die Here met sy genade onder hulle werk, en het die christene aangespoor om met hart en siel aan die Here getrou te bly.
So: in ’n konteks van ongemak, selfs vervolging, bemoedig Barnabas sy mede-christene.

Ons kry ook ’n opdrag om te bemoedig in 1 Ts 5:11 - Bemoedig mekaar en bou mekaar op (verhoog mekaar se potensiaal).
Daar is ’n motivering vir hierdie opdrag (vs: 4-8): ons bemoedig mekaar omdat
- ons nie in die duisternis is nie, maar kinders van die lig is en kinders van die dag is;
- ons nie aan die slaap is nie, maar wakker (skerp) en nugter (in beheer van ons denke) is;
- ons God se wapenrusting dra (geloof en liefde as borsharnas en hoop op verlossing as helm).
Ons kan dit so sê: in ongemaklik tye is volgelinge van Jesus paraat: wakker, in beheer van hulle denke en voorbereid en help hulle mekaar.

Kom ons kyk na hierdie oproep om te bemoedig en op te bou:
Volgelinge van Jesus bemoedig mekaar. Ons bly realiste: die lewe is wat dit is. En op die oomblik is die lewe ongemaklik. Maar: ons bemoedig mekaar sodat ons nie slagoffers word van omstandighede nie, maar reisigers na ’n nuwe werklikheid is.
Die woord vir bemoediging (parakalēō) het verskillende betekenisnuanses:
- om aan te moedig (bemoedig ) – jy bemoedig iemand sodat daardie persoon geïnspireer is, genoeg moed het, om aan te gaan;
- om te troos: jy bemoedig iemand sodat daardie persoon getroos voel, gemaklik voel en kan aangaan;
- om te vermaan: jy bemoedig iemand deur daardie persoon te wys op gedrag wat nie funksioneel of positief of gewens is nie, sodat daardie persoon kan verander en ’n beter weg kan inslaan.
Ons kan sê: bemoediging is ’n motiveringshandeling.

Volgeling van Jesus bou mekaar op: hulle verhoog mekaar se potensiaal. Dink aan ’n bouproses: fondamente gee stabiliteit aan die struktuur. So gee volgelinge van Jesus vir mekaar ’n stewige fondasie. Ons kan ook dink aan die vermeerdering van iemand se kapasiteit: iemand groei in geloof, lewensvaardighede, wysheid, onderskeidingsvermoë. Só word iemand se kapasiteit om die lewe te hanteer uitgebrei en word daardie persoon bemagtig om gesond te leef.
Ons kan sê: bemoediging is ’n kapasiteitsbouer.

Kom ons kyk hoe ons mekaar prakties kan bemoedig:

1. ’n Bemoediger skep gesonde ruimtes vir ventilering
Ventileer beteken dat mens vrylik en met vrymoedigheid jou emosies en denke met ander deel. Ons doen dit in elk geval: met die wys van ’n vinger, by die braaivleisvuur, kuiergeleenthede soos high tea-sessies, of gin en tonic-aande. Dit is meer informele geleenthede – en ook goed vir ons. Ons blaas immers bietjie stoom af en daar is darem mense wat met jou saamstem en jou opinies en bekommernisse deel. Dit is gewoonlik nie baie konstruktief nie en kweek dalk ’n slagoffermentaliteit. Maar: op die oomblik mis ons dit.
Daarom: ons het meer konstruktiewe ruimtes vir ventilering nodig. Daarom kry ons gespreksgroepe en hou mense seminare en is daar verskillende institute. In die kerk het ons mekaar en moet ons dalk doelbewus sulke ruimtes vir ventilering skep.
Dink aan Barnabas se konteks: daardie christene het baie rede gehad om te kla oor vervolging en teenkanting. Maar hulle het iets konstruktief gedoen: hulle het die Evangelie wat handel oor Jesus verkondig en dit geleef. En Barnabas het in hierdie gemeenskappe gedien. So het ons mekaar: Bybelstudiegeleenthede, gespreksgroep oor dissipelskap, omgeegroepe. Vind of skep so ’n gesonde ruimte vir ventilering. Weereens: ons mis dit. Ons moet ander kreatiewe maniere gebruik – die tegnologie help ons.

2. ’n Bemoediger skep veilige ruimtes
’n Veilige ruimte is ’n ruimte / plek / geleentheid waar jy veilig voel en daarom jou diepste menswees kan deel met ander en bemoedig en versterk word. Hoe doen ons dit?

2.1 Aanvaar mekaar
Die eerste christene het aanvanklik nie die evangelie aan ander mense as Jode verkondig nie. Hierdie gedrag is tipies van die ou bedeling, toe hulle bevooroordeeld en agterdogtig en onverdraagsaam was teenoor almal wat nie soos hulle Jode was nie. Barnabas het hierdie houding afgeskud. Hy het immers na die christene in Antiogië gegaan - christene wat nie Jode was nie.
En nou kan ons sê: om mekaar te bemoedig moet ons mekaar aanvaar ‑ sonder voorbehoud. Miskien dink ons dat ons nie 'n vreeslike probleem hiermee het nie - ons is tog almal christene, Afr mense wat mekaar al lank ken, meestal mense van dieselfde kerk. Maar dink tog aan die volgende: daar is mede-christene
met wie jy dalk nie so goed oor die weg kom nie
van wie jy dalk nie so baie hou nie
of wat jou dalk bietjie irriteer
of met wie jy nie wil assosieer nie.
Normaalweg vermy ons sulke christene, of tree ons baie formeel teenoor hulle op of doen ons in elk geval niks positiefs om hulle te bemoedig nie. Die punt is: om mekaar te kan bemoedig sal ons moet leer om mekaar werklik te aanvaar:
- ons sal moet ontslae raak van vooroordeel, snobisme en trots
- en mekaar aanvaar as mense wat almal God se genade ontvang het
- en self ’n kanaal van God se genade vir ander word.
Dan kan ons begin om mekaar te bemoedig.

Wat kan ons doen?
Begin deur met ander oë na ander mense te kyk. Probeer om net die beste in hulle raak te sien - as mense wie se lewe waarde het omdat die Here hulle ook liefhet. Dink aan Barnabas wat die potensiaal in Johannes Markus raakgesien het, teenoor Paulus wat hom wou afskryf en nie meer saam met hom wou werk nie.
Tree teenoor mense op soos jy teenoor die Here sou optree. Dan sal daar nie ruimte wees vir vooroordeel of snobisme nie.
Doen moeite om met mense kontak te maak, om hulle ook te groet en te gesels en opreg belang te stel.
Doen moeite om ook aan mense goed te doen. Miskien het hulle een of ander nood of behoefte of omstandigheid waarmee jy kan help.
So: skep ’n veilige ruimte vir bemoediging: aanvaar ander mense onvoorwaardelik - soos die Here elkeen van ons aanvaar het – selfs onvoorwaardelik [Rm 15: 7].

2.2. Raak betrokke by mekaar
Barnabas bemoedig ander christene deur betrokke te wees by hulle:
- Hy het immers moeite gedoen om van Jerusalem na Antiogië te gaan [vs 22].
- Hy assosieer so met hulle dat hy bly was om te sien hoe God in sy genade onder hulle werk [vs 23].
- Hy het vir Paulus gaan haal en saam met hom ‘n jaar lank in daardie gemeente gewerk [vs 26].

Vandag se taal klink dikwels anders:
“Jammer om te hoor van jou moeilikheid – maar so het ons maar elkeen ons eie ou dingetjies”.
“Dit is nie my probleem nie”.
“Laat ek jou vertel van my probleme”.
Die punt is: Ons het almal goeie en slegte verskonings om nie betrokke te wees by mense nie. Maar dit is presies wat bemoedigers doen: hulle raak betrokke. Hulle doen dit nie omdat hulle opdringerig is nie, of bemoeisiek is nie, maar omdat hulle omgee – soos die Here omgee.

Wat doen bemoedigers prakties?
- Bemoedigers is soms anoniem – mense wat jy nie ken nie, maar wat jou bemoedig met ’n enkele woord, of ’n handdruk, of ’n klop op die skouer, of ‘n glimlag.
- Bemoedigers is soms jou naby-mense - hulle wat jou intiem ken en naby jou leef en wat jou met woorde van wysheid en geloof en inspirasie bemoedig. Dink aan Dory wat Nemo se pa aanmoedig om aan te soek na hom: “Just keep swimming, just keep swimming ...”.
- Bemoedigers is soms voorbidders. Hulle hou jou onder God se aandag, en hulle help jou om God se stem te hoor en te volg wanneer dinge deurmekaar raak.
- Bemoedigers laat jou soms lag. Hulle help jou om die humor van die lewe te waardeer en om vir jouself te lag. Lag help jou om die kettings van impasse te breek en breek die toekoms oop. Lag laat jou brein serotonien vrystel wat jou beter laat voel. Dink maar aan die SMS’e en die e-posse wat rondvlieg wanneer een of ander krisis gebeur het – soos nou.
- Bemoedigers is soms raakvatters: hulle sê en doen die regte ding op die regte tyd om jou te bemoedig. Die skilder Benjamin West het as kind graag geskilder. Sy ma het gedink dit is tyd mors. Eendag het hy weer geskilder en ’n groot gemors gemaak in haar kombuis. Hy wou nog opruim voor sy ma terug kom, maar sy het toe vroeër terug gekom en op die gemors afgekom. Hy het ’n skrobbering verwag. Sy ma het die skildery opgetel, daarna gekyk en gesê: “Wat ’n pragtige skildery van jou suster”. En toe gee sy hom ’n soen op die wang. Benjamin West sê dat daardie soen ’n skilder van hom gemaak het.
- Bemoedigers is die mense wat met jou assosieer. Dink aan mense wat ’n hare afsny om iemand wat met kanker worstel te bemoedig en daardeur dalk ’n et ’n boodskap stuur wat sê: Ek is met jou.
- Bemoedigers is die mense wat deel in jou vreugdes:
wanneer jy ’n geloofsoorwinning behaal
wanneer jy terugkeer in die geloofsgemeenskap
wanneer ’n stukkende verhouding regkom
wanneer jy bevorder word of werk kry
wanneer jou kind presteer.
Die punt is: wanneer ons mekaar bemoedig, gee ons vir mekaar ’n belangrike boodskap: ons gee om, ons stel belang, elkeen maak saak, ons is bereid om moeite vir mekaar te doen. Die effek daarvan is: elkeen voel gemotiveer om met nuwe energie te leef. Iemand wat dit nie nodig het nie, is of self God, of dalk minder as ’n mens.

3. Bemoedigers modelleer ’n gesonde leefstyl
Vs 24 gee ’n kort karakterskets van Barnabas: hy was ’n goeie man, vol van die HG en met ’n vaste geloof. Hierdie woorde tipeer hom as ’n spirituele mens, iemand wat ’n gesonde verhouding met God het. Die impak hiervan was dat hy ander volgelinge van Jesus kon inspireer en bemoedig.
Ons kan mekaar deur ons leefwyses bemoedig:
deur jou denke en jou liggaam gesond te hou
deur gebalanseerd te leef
deur die Here te vertrou
deur met optimisme te lewe
deur realisties te bly
deur te dien.
’n Positiewe, gesonde lewenstyl smeer af aan ander. Paulus gee vir ons die rasionaal hiervoor: “ [1 Kor 11:1]. Dit is waaroor dit eintlik gaan en hiervoor het ons mekaar nodig.

4. Bemoedigers skep ’n heilige ruimte
Dink aan Barnabas se kwaliteite: hy was 'n goeie man, vol van die Heilige Gees en met 'n vaste geloof. Hierdie kwaliteite laat hom ’n heilige ruimte skep – ’n ruimte waar mense bewus is van God se teenwoordigheid en bewustelik daarvolgens lewe en daarin volhard. Ons kan dit ook doen, want die kwaliteite wat Barnabas beskryf, is ook die standaard-eienskappe van elke christen:
- Elke christen is 'n goeie mens – ons doen goeie dinge omdat Jesus ons nuut gemaak het.
- Elke christen is vol van die Heilige Gees, want die Heilige Gees is Jesus se geskenk vir ons, leef in ons en bemagtig ons.
- Elke christen staan vas in die geloof, want standvastige geloof is 'n geskenk van die Here.
Daarom: elkeen van ons het die standaardkwaliteite om ’n bemoediger te wees. Wees dit net. En so skep ons vir mekaar ’n heilige ruimte – ’n lewe voor en saam met God.

Slot

In ongemaklike tye het ons bemoedigers nodig. Ons kan dit vir mekaar wees.
Bemoedigers:
Skep ruimte vir gesonde ventilering
Skep veilige ruimtes:
-Aanvaar mekaar
- Raak betrokke by mekaar
Modelleer ’n gesonde leefstyl
Skep heilige ruimtes om voor en saam met God te leef.
Die Eng woord vir bemoediging – encouragement – kom van die Franse woord coeur – wat beteken: om vir iemand hart te gee. Dit is wat bemoedigers doen: ons help mekaar om ons harte terug te kry en weer te lewe.