NG KERK GARDENIAPARK - EREDIENS SONDAG 5 JULIE

NGK Gardeniapark - Sondag 5 Julie - Erediens
TEKS:ROM 8:31-39 TEMA: Gaan 'n kind van God wat selfmoord pleeg hel toe?
Locations & Times
Lig Gemeente
3 Jasmyn Ave, Gardenia Park, Bloemfontein, 9301, South Africa
Sunday 7:00 AM

SONDAG 5 JULIE - EREDIENS
SONDAG 5 JULIE - EREDIENS
Kliek op die skakel van die kerk se YouTube kanaal om na alle video opnames wat reeds geplaas is en nog geplaas gaan word te kyk soos gebring deur Ds. Jan Venter
https://bit.ly/3dyGh4YTEKS: Rom 8:31-39
TEMA: Gaan ‘n kind van God wat selfmoord pleeg hel toe?
BESKR.: “As so iemand val, bly hy nie lê nie, want die Here help hom op.” – Dawid (Psalm 37:24).
VOTUM: Psalm 55:23
SEËNGROET: In die Naam van die Vader, die Seun en die Gees: Genade en vrede vir jou.
GEBED: Vader, ons wil U vaderlike liefde beantwoord met kinderlike liefde. Dankie vir U goedheid. Dankie dat U ons versorg. En beskerm. Help ons om dit wat U vir ons gee, met matigheid te gebruik en te geniet, sodat ons dit nie misbruik en alles op onsself blaas of gebruik vir sondige-verkeerde doeleindes nie. Ons wil ons naaste, wat vir U belangrik is, nie tekort doen nie, maar dien. Gee ons daarom harte van omgee, en verstand met goeie oordeel. Beskerm ons om ongesond te lewe en bekommerd te wees oor wat ons moet eet en drink. Leer ons om ons geloof in U te sit. En te vertrou in U Goddelike voorsiening en genade vir wat ons liggaamlik en geestelik nodig het. Skenk aan ons harte wat nederig, gebroke, sag maar sterk en moedig is; wat honger en dors na U geregtigheid env rede nastreef.
Vergewe op grond van die verdienste van ons Here Jesus al ons sonde, en maak ons dankbaar vir Hom en elke goeie gawe wat ons in Hom ontvang. Amen.
SKRIFLESING & -VERKONDIGING: Rom 8:31-39
Ons land is verlede week geskok deur die nuus van ‘n predikant van een van ons Susters-kerke wat homself in ‘n Kerksaal gehang het. Die armoede en gevolge van COVID-19 het blykbaar bygedra dat sy las vir hom net te swaar geword het. My Ouma wat van sy dienste bygewoon het, sê hy was ‘n baie oulike mens. Suid-Afrika kon dit ook onlangs lees toe die predikant vertel het hoe hy by ‘n padblokkade gestop is, en toe vir die beamtes gebid het.
Op sosiale media gons dit. Party sê hy was selfsugtig om sy eie lewe te neem. Hy dink nie aan sy vrou en vyf kinders nie. Waar was sy geloof? Hoekom het hy nie op die Here méér vertrou nie? Sommige veroordeel hom selfs tot die hel! Baie gelowiges is in ‘n geloofskrisis gedompel…
Ons weet dat daar boere is wat weens droogte, skuld en ander omstandighede hulle eie lewens neem. Ons hoor ook dat baie meer mense selfmoord gaan pleeg … weens werkloosheid, besighede wat toemaak en die virus. Dalk sukkel jy tans met doodsgedagtes. Jy bid daagliks dat Jesus net moet kom, want jy wil nie meer op hierdie stukkende planeet bly nie. Of jy wil nie noodwendig selfmoord pleeg nie, maar jy voel só negatief en neerslagtig, dat jy net nie meer hier wil wees nie. Jy is nie meer lus vir die plaasaanvalle en onbeholpenheid van die regering ens. nie.
Dalk is die enigste rede hoekom jy nog nie iets onverantwoordeliks aangevang het nie, dat jy bang is jy sal hel toe gaan. Mense vra: kan ‘n ware Christen selfmoord pleeg? Gaan ‘n kind van die Here hel toe as hy selfmoord pleeg? Party sê ja. Ander sê nee. Wat sê die Woord van God? Ons gaan rondom die Woord saamdink oor ‘n klompie vrae rakende Selfmoord. Dit is baie belangrik dat ons vir ‘n slag oor hierdie dinge praat. Want dis meestal ‘n taboo wat ons vermy.
Daar is lidmate in ons Gemeente wat geraak is deur selfmoord, so ons moet maar baie mooi loop, met deernis en sensitiwiteit. Hierdie tema vra ‘n stuk geestelike volwassenheid. Ek wil vra dat jy mooi sal luister na albei kante van die munt!!
Die Bybel praat baie ernstig oor moord! As jy oor die eerste moord in Genesis 4 gaan lees waar Kain sy broer Abel doodmaak, dan sien jy God se erns met hierdie saak. Jy sien dit in hoe God vir Kain straf. In die Hebreeus klink dit of God van die pyn skree – omdat Hy die Lewe is. Jy hoor God se erns in die 6e gebod “Jy mag nie moord pleeg nie”. En jy sien die diepte van hierdie gebod as die Here Jesus in Sy Bergrede sê dat jy nie jou broer mag haat nie. Want wie sy broer haat, is ‘n moordenaar, en het nie die ewige lewe in hom nie – 1 Joh 3:15. Mens sien die erns van God in dat Jesus mens kom word het op aarde om hierdie vyand, die Dood, te oorwin!
Jy sien: Moord is nie God se wil nie. Self-moord is nie die wil van God nie. Sy oorspronklike ontwerp was nie dat die Mens moet sterf nie, maar lewe. Hy wil nog steeds dat ons lewe. En ewig lewe. Daarom roep God Sy kinders op in die Bybel om tot die einde toe te volhard. Dink aan Hebr 3:14: “Ons behou deel aan Christus as ons end-uit volhard in vertroue…” In die Bybel is dit duidelik: Lewe en dood behoort aan die Here. Ons kan nie wil God speel oor ons eie lewens en self ons “strepie trek” nie.
Die Bybel waarsku die mens om nie iemand anders óf homself skade aan te rig en dood te maak nie. Omdat God ons na Sy beeld geskape het – en Hy die Lewe is – wil Hy nie dat ons ‘n skaduwee op Sy beeld en eer gooi met die dood nie.
Die Bybel roep ons ook op om die Here te vertrou … in moeilike tye. Dink aan verhale soos dié van Abraham in ‘n vreemde land, Josef in ‘n put, Moses wat in die woestyn uitroep tot God dat hy nie kan aangaan nie, Dawid met ‘n reus voor hom, Daniël in ‘n leeukuil, Jona in ‘n vis, Paulus in die tronk, Johannes op die eiland, Patmos. Die mense in die Bybel het verlies, verwerping, martelaarskap, gevangeniskap, armoede, teleurstelling, sonde, skuldgevoelens, rampe, siekte, dood – ál die goed in Paulus se Rom 8-lysie - geken. En in enige en alle omstandighede, ongeag hoe swaar, verwag die Here dat ons in Hom sal glo. Dat ons Hom sal vertrou met ons lewens. Dat ons met volharding op Hom sal wag met hoop. Selfmoord is nie ‘n opsie (wat Hy vir ons gee) nie. Hy verseker ons: Hy ís by ons. Hy sál ons help. Hy gáán sorg. Hy sál red!
NOU! Die vraag… Gaan iemand wat in God glo, (wat die vrug van die Heilige Gees in sy lewe dra) maar Hom nie genoeg vertrou nie en selfmoord pleeg… gaan só iemand Hemel toe? Die persoon het sy / haar hele lewe lank in God geglo en vir Hom gelewe, maar op die einde die stryd met depressie bv. verloor – bepaal daardie persoon se laaste daad dat hy / sy hel toe gaan?
Wat bepaal waar ek op-eindig? Wat bepaal my lot? Mý laaste daad? Of Christus se verlossings-daad? Vir die gelowige kind van God, bepaal Christus sy eindbestemming – nie sy sonde nie. En selfmoord is sonde. Wanneer ek dus in Jesus glo, maar selfmoord pleeg, sal ek nog steeds gered word. Wat ‘n wonderlike troos gee Christus vir familie en vriende van iemand wat sy eie lewe geneem het.
Kan ‘n ware Christen depressief raak? Ja! Ek weet baie mense verstaan nie depressie nie. Maar daar is so iets. En kinders van die Here kan depressief word. Dis hoekom ons moet waaksaam bly teen die aanvalle en leuens van die Bose. Dis hoekom ons moet let op ons lewens, en volhard in gebed. Dis hoekom ons die Here se Woord kliphard moet bestudeer vir ons lewens. Want ‘n mens kan geestes-ongesteld raak. Ons is mos ook net gewone mense wat kan siek word. Die sonde werk deur tot alle vlakke. Selfmoord beteken nie noodwendig dat die persoon nie geglo het nie.
Kan ‘n ware Christen só depressief raak dat hy selfmoord pleeg? Ja!
Dink aan Psalm 88 – die “depressiewe Psalm”. Kyk, dáár is min tot niks lig in daardie gedig. Gewoonlik sal ‘n digter kla, maar dan omspring (soos in Pss 42 & 43) en die Here loof, want Hy is getrou. Dink aan Ps 13: die een oomblik vra die digter nog “hoe lank Here”, en die volgende oomblik lyk dit asof God klaar geantwoord het. Maar in Psalm 88, klink die bidder… hopeloos. Dis net donker. Kyk net die ruimte wat God vir ons laat, deurdat Hy ‘n plek daarvoor gee in Sy Woord. Hy weet hoe swaar die lewe kan wees.
Ek het al baie gewonder hoekom Jesus nie in Sý donkerste uur in Getsemane Psalm 23 gebid het “Die Here is My Herder… selfs al gaan ek deur donker dieptes, is Hy by My, lei Hy My veilig…”(?). Jesus haal Psalm 22 aan: “My God, My God, waarom het U My verlaat.” As daar Een is wat weet hoe diep iemand wat depressief is en selfmoord pleeg se put is, is dit Jesus Christus. Onthou Hebr. 4:14: Jesus is ons “Hoëpriester”. Hy is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp…
Ek kan myself nie voorstel dat Jesus op daardie selfmoord-oomblik (wat ‘n mens Hom die meeste nodig het) sal besluit om weg te stap nie. Ek glo Hy is by Sy kind. En ontvang Sy kind. Ek glo dit, nie omdat ek nie anders wil glo nie. Nie omdat ek so voel omdat ‘n selfmoord-“geval” so hartseer is nie. Maar op grond van Sy Woord. In vuur en water belowe Hy sal Hy by ons wees. In swaarkry en doodskaduwee.
Dit beteken nie ons ontneem ‘n persoon wat selfmoord pleeg verantwoordelikheid nie. Jy het ook seker al gehoor mense sê uit simpatie “die persoon het nie geweet wat hy doen nie” … “sy het nie helder en reguit gedink nie”. Nee. In die lig van die Skrif, mag ons, en moet ons sê: hy / sy het die verkeerde besluit gemaak. Nee, hy het geweet wat hy doen! Dit is sonde! MAAR… maar…
Dis jammer dat baie mense in die verlede moes hoor dat my geliefde hel toe is, weens hierdie verkeerde besluit, weens hierdie sonde. Toe ek ‘n kind was, was selfmoord mos die “onvergeeflike sonde”. Baie dink vandag nog so. Want die persoon wat homself doodgemaak het, het nie daardie sonde bely nie. En daarom is dit nie vergewe nie. En sonde wat nie vergewe is nie, skei ons van God. So asof ‘n mense gered word omdat jy jou skuld bely! Dis hartseer dat hulle nie die troos van die Evangelie gehoor het nie. Dat God ons nie vergewe op grond van ons skuldbelydenis nie, maar dat Hy ons in Christus vergewe! …Suiwer uit liefde en genade van Sy kant. Lank voordat ons op die toneel verskyn het, het die Seun van God op Golgotha vir elke een van my sondes gesterf. Kláár gesterf. Dis hoekom ek jammer sê wanneer ek dit doen.
Waar in die Bybel staan dat selfmoord die genade van Jesus Christus uitkanselleer sodat jy hel toe gaan? Sê God nie eerder in Sy Woord dat wie in Jesus Christus glo, het die (ewige) lewe?! 1 Joh 5:12. Glo ons nie dat Jesus ons met Sy bloed gekoop het sodat ons nou Sy eiendom is nie? Is Selfmoord dan meer as Christus? Is die dood oorwinnaar oor ons? Of sê Paulus in Rom 8 ons is “meer as oorwinnaars in Christus”? Sê Paulus, “niks – behalwe selfmoord Ouens – sal julle skei van die liefde van God in Christus Jesus” nie? Nee. Selfmoord, is ‘n sonde soos alle ander sonde… en word vergewe wanneer iemand sy geloof in Jesus plaas en Hom as Here bely.
Selfmoord sal jou dus nie uit die hemel hou nie. Maar dis geen rede om God se genade op die proef te stel en nou maar jou eie lewe te neem nie. Dis nie God se wil vir jou lewe nie. Hy gaan jou nie eendag in die hemel daarvoor beloon nie. Hy roep elkeen van Sy kinders om Hom te vertrou. En Hom te bly vertrou (al is dit hoe moeilik).
As daar iemand is wat regtig sy of haar eie lewe wil neem, wil ek vir jou sê ek is hier vir jou as jy wil praat. Ek sal jou nie oordeel nie, want ek was self jare gelede op ‘n baie donker plek in my lewe. Ek kan getuig: God gee uitkoms. Jy kan dit dalk tans nie voel nie, maar ons gevoelens is baie kere misleidend. Daar ís ‘n beter weg. Daar ís hoop! Jare later, herken ek nie eens meer die Jan Venter wat so laag was nie. Ek wil jou in die Naam van Jesus Christus verseker dat daar vir jou hulp is! Kry vir jou hulp. Veg om te lewe. Bid! Hoor asb. die Woord van God – v37 – wat sê die Here het jou baie lief. Só lief, hy het gesterf, sodat jy nie jou eie lewe hoef te neem en te sterwe nie. Hy het gekom om vir jou die lewe te gee – ‘n lewe in oorvloed. Daar is met ander woorde genoeg wat God jou gee, sodat jy kan aanhou lewe.
GEBED: Ons is moeg Here, uitgeput en verslae oor soveel geweld in ons land. Ons wil kla en bitter word. Ons vloek in ons koppe en haat in ons harte. Ons bejammer ons soms vir onsself. En raak afgestomp teenoor die pyn en nood van ander. Elke berig word net nóg statistiek: nóg ‘n aanval, nóg ‘n moord, nóg korrupsie, nóg leuens, nóg dood.
En kinders erf hulle ouer en groot-ouers se bitterheid. Woorde van geweld, ontplog in dade van geweld… Help ons Here om nie ons harte te sluit vir ander nie. Ontferm U oor ons. En ons naaste, en land.
Ons dra in besonder hulle op in gebed, waar depressief, negatief, lewensmoeg, en neerslagtig is. Gee dat ons só getuies van Jesus Christus sal wees, dat hulle wat hopeloos is, die hoop sal sien. Troos asb. hulle wat geraak is deur selfmoord. En voorkom asb. die planne van die Moordenaar om mense se lewens te vernietig. In Jesus se Naam. Amen.
SEËN: Psalm 46:2