YouVersion Logo
Search Icon

NG Kerk Nooitgedacht

Jeug en Erediens - 14 Mei 2017 - Respek vir God, Dankbaarheid vir God

Jeug en Erediens - 14 Mei 2017 - Respek vir God, Dankbaarheid vir God

Kom neem saam deel aan ons Jeug- en Erediens Sondagoggend 9VM!

Locations & Times

NG Kerk Nooitgedacht, Port Elizabeth, South Africa

24 Brabant Rd, Port Elizabeth, 6025, South Africa

Friday 11:00 AM

Die diepte van my respek teenoor God hou direk verband met my dankbaarheid teenoor God.

Hoekom het ek vanoggend opgestaan, vroeg klaargemaak om betyds by die erediens te wees? Wat het my gemotiveer om hier te wees?

Jy kan sê:
- Ek is dankbaar want die Here is goed vir my. Hy sorg vir my.
- Ek is nog onafhanklik.

Dank die Here daarvoor!

- Dat ek gesond is. Vir ‘n rukkie miskien, maar die dood loop soos jou skaduwee langs jou!
- As ek net in die aand veilig by die huis kan kom, is ek so dankbaar!

Dit is nie wat dié teks sê waarvoor ons dankbaar is nie. Die rede vir ons dankbaarheid, sê die teks, en waarom ek vanoggend in die kerk sit, is omdat God my met Jesus en die Heilige Gees gesëen het. Dit gaan nie oor aardse voorspoed nie. Dit gaan oor geestelike voorspoed.

God het my met die hemelse goedheid gesëen. Om hierdie rede loop my respek vir God en my dankbaarheid teenoor God hand aan hand.
My respek vir God

Op ‘n lyn van nul tot tien met nul, geen respek nie, en tien, baie respek, waar plaas jy jouself op die lyn? Sê vir arguments onthalwe jy het jouself ‘n vyf gegee: Ek het redelik respek vir God.

Kom ons doen weer die oefening:
Op ‘n lyn van nul tot tien met nul, geen respek nie, en tien, baie respek, dink aan die afgelope twee weke. Sou die praktyk van jou lewe, jou vorige punt van 5 ondersteun? Moet ek die punt uit 5 dalk aanpas na miskien ‘n vier of ses? Hoeveel respek ek regtig vir God het, kom in my dankbaarheid teenoor God uit.

Daar is twee goed in die teks wat ons in die rigting druk om so oor die teks vanoggend te dink:

Die onderliggende saak waarop die teks gebou is.
Die teks is deel van die Berakah- gebed wat in die sinagoges gebid word.
Die Berakah-gebed het bestaan uit ‘n lofgebed wat ons hier in 1:3-14 kry, voorbidding (1:15-21) en geloofsbelydenis (1:22_23). Die gebed sluit af (in 3:20-21) met lofprysing soos die gebed begin het in 1:3-14. Die gebed loof God oor wat Hy gedoen het, sy seëninge en dank aan God. God het ons met Jesus en die Heilige Gees geseën, dus vanuit die hemel gesëen.

Efs 1:3-14 sê dat, wat God gedoen het, kan net God doen. Ons, ja ek, het ontsaglike respek vir God omdat Hy bereid was om uit homself te tree en ons met Homself te seën. Hy is ‘n God wat nie selfsugtig is nie, maar ons by Hom intrek, ons deel gee aan sy wêreld. God wil ons in die teks nie vanoggend oorweldig met sy mag nie, maar met sy goedheid.

Vir so ‘n God het ek geweldig respek. Hy wil my nie in-boelie in ‘n verhouding met Hom nie, of tot onderdanigheid dwing om soos ‘n slaaf Hom te dien nie, maar met sy goedheid, waardering en respek by my wakkermaak. Vir so ‘n God het ek geweldige respek. En jy?

‘n Tweede ding oor God wat my verstom is dat Hy my uitverkies het. Toe Hy my gekies het het Hy alles gedoen sodat ek by Hom kan wees. Dat hierdie aardse sterfling met die hemelse gawes gesëen kan word is net vestommend! Hy seën my met Jesus en seën my met die Heilige Gees. Wie is ek, dat God dit vir my doen!?

Redding is deur en deur wat God doen. Hy red, Hy soek, Hy verlos, Hy reinig van sonde, Hy maak ons sy kinders. Hy maak ons sy eiendom. Al hierdie goed is dinge wat ek nie vir myself kan doen nie. Ek kan dit nié verkry deur harde werk nie. Dit is wat Hy gedoen het en Hy my mee geseën het.

Daarom loop die teks oor van dankbaarheid en lof aan God (verse. 4, 6, 12 en 14).

Die teks werk ook met resiprositeit (wederkering)

‘n Algemene reël het in daardie tyd bestaan naamlik as jy iets vir iemand doen, daardie persoon, onder die verpligting staan om dit vir jou terug te doen. Hulle het nie vir mekaar dankie gesê nie, nee, jy het dankie terug gedoen. Die reël het bekend gestaan as resiprositeit.

Jy doen eerstens terug aan God deur diepe respek vir God. So begin die gebed in vers 3. Letterlik in die grieks en die 1953 vertaling vertaal dit ook so: “…Geseënd is God die Vader…”; die woordjie wat hier vir seën gebruik word in die bepaalde vorm word net vir God gebruik. Daarmee word bedoel aan God alleen kom die lof toe, aan niemand of iets anders nie. God alleen soos Deut 6:4 dit ook sê.

So begin die teks: “… Loof God. Alles kom van Hom, alles kom deur Hom en alles is tot eer van Hom”.

Tweedens doen jy terug aan Hom deur jou lewenswyse. “om heilig en onberispelik voor Hom te wees”. ‘n Heilige lewe. Ek leef elke dag voor God en wys deur my lewenswyse dat ek aan Hom behoort. Ek leef elke dag vir Hom onberispelik, ek wyk nie van my heilige lewenswyse af nie. Ek gee deur aan ander dat ek aan Hom behoort. Daardeur sit ek ‘n kettingreaksie aan die gang. Ek gee sy goedheid deur na ander. Ek is goed vir ander mense.
Slot

Op’n lyn van nul tot tien, met nul, geen respek nie, en tien, baie respek, waar plaas jy jouself op die lyn, noudat God met jou en my deur die teks gepraat het?

Jy sê ek voel geweldig skuldig en deur die preek heen sit jy en staar jy net so voor jou uit. Maar net nog een van die dinge waarby ek nie uitkom nie, dink jy. God wil nie dat jy lamgelê word deur jou skuldgevoel nie.

Moet jy nie vanoggend met God oor jou prioriteite gaan praat nie? Die klein jakkalsies het dalk jou wingerd verniel. Jy sê: “Ek is vanoggend woedend. Ek is hier om geseën te word, versterk te word, goed te voel oor myself en God wat my brood aan beide kante moet botter met voorspoed”.

Ek is jammer vir jou, maar God wil jou geestelik seën vanoggend, met die hemelse seeninge seën en nie met dit wat mot en roes tot niet laat gaan nie. Hou op om God met jou sakdoek toe te vou en in jou sak of handsak weg te pak, sodat jy Hom kan uithaal wanneer nodig. Jou respek vir God is onder die gemiddeld!

Ek raai jou aan om die gelykenis van die fariseër en tollenaar te lees en God te vra om jou te seën om by die punt van die tollenaar uit te kom.

Jy sê: “Ek besef vir die eerste keer hoe oneindig goed God is. Ek wil Hom met diepe respek en dankbaarheid dien. Ek besef die twee loop hand aan hand. Bid asb vir my….”
Neem kennis dat hierdie opsomming in effe meer detail beskikbaar is op die gemeenteblog.