YouVersion Logo
Search Icon

NG Kempton-Hoogland

Oggenddiens 10 Mei 2020

Oggenddiens 10 Mei 2020

Welkom by vanoggend se aanlyndiens. Prediker: Dr Neels du Randt - Deuteronomium 30:19 - Kies die lewe en skep ruimtes van lewe

Locations & Times

NG Kempton-Hoogland

85 De Wiekus Rd, Van Riebeeck Park, Kempton Park, 1629, South Africa

Sunday 8:30 AM

Dtr 30:19

Dit is vandag moedersdag. Deur die hele wêreld heen word daar aan moeders gedink, word hulle lewe en hulle rol gevier. Ek gaan nie vir moeders raad gee nie. Dit is vir ’n man ’n heeltemal te komplekse saak. Ek kan wel sonder vrees vir teëspraak sê: ons wêreld is ’n beter plek omdat daar moeders is:
Moeders sorg dat mans min of meer beskaafd is en optree;
Moeders is dié simbool van lewe en liefde en versorging.

Na aanleiding van ons konneksie met moeders, is ons tema: Kies die lewe en skep ruimtes van lewe.

Ons begin by God, want: ons assosieer God met lewe:
God is die bron van lewe. Hierdie eienskap laat ons dink aan God met ’n pa-beeld en ’n ma-beeld:
God het ons in die lewe gebring - Dtr 32:6;
God het ons in die wêreld gebring - Dtr 32:18.
Jesus sluit aan by hierdie motief van lewe: Ek het gekom sodat hulle die (Jh 10:10).
So is God lewe, en gee lewe, en nooi ons om te lewe: Dtr 30:19 - Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf.

Die Bybel beskryf God soms met die kwaliteite van ’n moeder. Kom ons kyk hoe dit ons help:

1) God se moederkwaliteite: Bring lewe omdat jy liefhet
Ons assosieer die gee van lewe sterk met vroue - moeders is ’n bron van lewe. En dit vra baie van hulle om kinders in die wêreld te bring - letterlik bloed, sweet en trane. Vroue wat dit doen, doen dit omdat hulle liefhet - lewe liefhet. Liefde is die grondbeginsel van lewe.
Ons sien hierdie grondbeginsel van liefde by God:

Liefde is God se wese (1 Joh 4:8): Liefde beteken: God aanvaar verantwoordelikheid. Hy tree op tot voordeel van alles wat Hy geskep het en in stand hou.
Liefde definieer alles wat God doen:
Hy skep die totale werklikheid in liefde (Skepping).
Hy sluit in liefde ’n verbond met die mens (Verbond).
Hy verlos ons omdat Hy ons lief het (Verlossing).
Hy voltooi sy verlossingsplan met Jesus se wederkoms omdat ons lief het (Voltooiing).

Liefde definieer God se verhoudings:
Sy verbond met ons is ’n permanente liefdesverhouding.
Jesus Christus demonstreer God se liefde vir ons (Joh 3:16) deur sy menswording en sterwe en opstanding.
Die Heilige Gees realiseer Jesus se liefde – Hy is ons Trooster, ons Helper wat ons gesond laat lewe.
Die wonder is: God herskep ons deur Jesus en die Heilige Gees sodat ons liefdesmense kan wees soos Hy ’n Liefdesgod is. Daardeur bring Hy ’n totaal nuwe en alternatiewe mensheid en wêreld tot stand. En ons uitnodiging is om deel van hierdie wêreld te wees en dit te leef.
So - hier is ons uitnodiging: doen alles wat jy doen in liefde.
Want liefde is die grondbeginsel van lewe. Waar liefde is, is God en waar God is, is lewe.
So: dink hoe jy lewe kan bring deur liefde: vir jou man/ vrou; jou kinders, jou kollegas; jou vriende; die werksmense; vreemdelinge, kwesbare en broos mense. Dink konkreet. Dink kreatief. Kies lewe omdat jy lief het.

2) God se moederkwaliteite: skep ’n ruimte van tuis wees
Jesus self gebruik ’n vroulike beeld om sy gesindheid teenoor die mense van Jerusalem te beskryf: ... hoe dikwels wou ek jou kinders
Jesus wil mense by hom vergader. Hy wil ’n ruimte skep waar ’n tuiste is: waar daar lewe en versorging en beskerming en veiligheid is. Dit is woorde wat die tipiese gedrag van ’n ma beskryf. En die antwoord op hierdie hennegedrag is: hier wil ek wees, hier is ek tuis, want hier is omgee en versorging en veiligheid.
Ons uitnodiging is: Skep ’n ruimte waar mense tuis kom. Hier is ’n paar merkers vir ons om dit te doen:
Dink aan die mense wat jou lewensruimtes met jou deel. Beleef hulle in jou teenwoordigheid en deur jou optrede dat jy omgee en sorg - ’n tuiste skep? Dink aan jou nabymense: jou gesin. En dan kyk jy na wyer ruimtes wat mense met jou deel: jou werk, vriende, gemeente.

Die tyd waarin ons nou leef konfronteer ons met die soort wêreld waarin ons wil leef:
Kies ons ’n wêreld waar elkeen vir homself is en elkeen net sy eie belange dien? Natuurlik moet ons elkeen verantwoordelikheid vir onsself aanvaar.
Maar ons skep ’n beter wêreld wanneer ons ook omgee vir ander en vir ander sorg - ’n tuiste skep. Ons wêreld het nou dringend behoefte aan lewensmiddele en kontak en woorde van bemoediging.

3) God se moederkwaliteite: Leer mekaar lewe
Dtr 32:11 gebruik ’n beeld oor God wat ’n pa-beeld of ’n ma-beeld kan wees: in ’n stadium skop die arend die kleintjies uit die nes uit, bo van die kranse af. Dit tuimel grond toe. As dit nie regkom om te vlieg nie vang die ouerarend die kleintjie weer op hulle vlerke en dra dit terug na die veiligheid van die nes. So leer dit die kleintjie vlieg.
Die beeld wil sê: God leer ons leef. Al is dit soms ’n skrikwekkende ervaring. Eventueel kry ons dit reg - en vlieg op die wieke van die wind. God gee ons vlerke deur ons te leer leef.
Dit is ons uitnodiging: soos God en soos ’n ma leer ons mekaar lewe: ons leer mekaar van liefde en omgee, van teleurstelling, mislukking, verandering, drome, aanpassing, volharding. En eventueel kry ons dit reg - en kry ons vlerke.

4) God se moederkwaliteite: Wees die toppunt van lojale sorg
God sê die volgende oor Homself: Kan ’n vrou haar eie baba vergeet, haar nie ontferm oor die kind wat sy in die wêreld gebring het nie? Selfs al sou so iets kon gebeur, Ek sal jou nie vergeet nie. Ek het jou naam in my handpalms gegraveer(Jes 49:15-16).
God vergelyk sy optrede met die optre­de van 'n ma. 'n Ma is dié simbool, die toppunt, van getroue liefde - liefde waarmee sy haar kind voed en versorg en beskerm en nooit in die steek laat nie.
En tog - tog gebeur hierdie byna onmoontlike: daar is soms ma's wat hulle kinders vergeet. Vergeet beteken verwaarloos, in die steek laat, verwerp. Daarom verskil God se optrede ook van hierdie toppunt van ware menslike liefde. Ons kan aan 3 dinge dink:

God vergeet tog: Hy vergeet ons sondes en gebreke en tekortkominge.
God vergeet nooit nie. Vergeet beteken nie maar net 'n oomblik uit die gedagtes wees nie. Vergeet beteken verwaarloos, in die steek laat, ver­werp. Dit doen God nooit nie. En Hy sal dit ook nooit doen nie. Sy getrouheid waarborg dit.
God doen moeite om te onthou. Hy skryf ons name in sy handpalms (vs 16) - waar Hy dit nie kan mis nie. Hy kan nie anders as om aan ons te dink nie. God se handpalm is soos ‘n ‘reminder’ wat jy stel op jou selfoon, en wat sorg dat jy nie vergeet nie. En dit is 'n ander manier om te sê: God sien jou elke oom­blik raak: Hy sien jou vreugde en blydskap; Hy sien jou hartseer en trane; Hy sien jou bekommernis en sorge; Hy sien jou onsekerheid en angs; Hy sien jou twyfel en jou wonder.
Natuurlik sien God nie net: Hy sien, en onthou, en doen - Hy sorg volgens jou behoefte en omstandigheid - soos ’n moeder. Hy doen dit omdat Hy lojaal is, getrou is. Dit is wat die moederbeeld in Jes 49 leer. Dit beklemtoon: selfs al gebeur die onmoontlike dat dié simbool van lojaliteit - ’n ma - dislojaal word, sal God nie.

En dit is ons uitnodiging: wees soos God en moeders die toppunt van sorg en lojaliteit. So kies ons lewe en bring ons lewe.
Natuurlik word dit nou al hoe meer van ’n uitdaging. Ons het ’n behoefte aan lojaliteit. Ons wil weet: gaan ons regering lojaal wees aan sy mense; gaan ons lojaal wees as vriende, as mede-gelowiges, as belanghebbendes? Gaan God lojaal bly aan sy beloftes vir mense in ’n krisistyd? Vind jou inspirasie in God en moeders se voorbeeld.
Maar ons kan ook hierdie veilige ruimte vir mekaar gee deur lojaal te bly. Lojaliteit het baie komponente: om mense lief te hê, om waarde te heg aan mense se lewe, om nie net aan jou eie belange te dink nie, maar ook dié van ander, om ander te dien, om getrou te bly aan jou woord, om met integriteit te leef. So skep ons ’n beter wêreld.

5) God se moederkwaliteite: Skep ’n veilige ruimte
Jes 66:13 sê: Soos ’n moeder haar kind veilig laat voel, so laat ek julle veilig voel. God se moederbeeld sê dat Hy soos ’n moeder ’n ruimte skep waar mens veilig voel.
Die tyd waarin ons nou leef laat ons onveilig voel omdat daar soveel onsekerheid is: onsekerheid oor hoe lank hierdie virus ons gaan bedreig, of daar ’n entstof gaan wees, of ons dit gaan oorleef, of mense deur onverskilligheid jou lewe in gevaar gaan stel, of daar hulp vir jou gaan wees wanneer jou hulpbronne opdroog.

Ons vind hierdie veilige ruimte by God. Ps 131:2 is ’n mooi illustrasie daarvan: Ek het rus en kalmte gevind. Soos ’n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind. Die psalmdigter praat van ’n lewenshouding: kinderlike vertroue op die Here. En hy gebruik ’n moederbeeld vir die Here:
Ps 131 praat van ’n kind wat reeds gespeen is. Dit beteken:
Die drinkery aan ma is verby. Die kind het nie meer ’n obsessie of ’n pre-okkupasie om te drink nie. Ma het klaar daardie rol vervul en is nou ’n simbool van sorg en veiligheid.
Die kind is nou tevrede - omdat hy/sy die ma ken as die simbool van iemand wat omgee, versorg en troos. Hy het iemand wat identiteit en geborgenheid gee.

Toegepas op ons verhouding met die Here:
Ons is nie meer kleuters in die geloof nie. Die Here hoef nie meer rond te skarrel om elke behoefte van ons te bevredig nie. Ons gooi nie meer soos kinders tantrums as ons nie ons sin kry nie.
Ons het nou ’n gesonde identiteit in ons verhouding met die Here - ons ken Hom as die Een wat vir ons ’n bepaalde lewensruimte gee: een waar ons veilig is omdat ons Hom vertrou. Ons is veilig by God self en het nie meer ’n obsessie oor al die goed waarmee hy ons moet seën nie. Daarom is ons rustig en veilig en geborge.

Ons uitnodiging is: skep ’n ruimte vir mense waar hulle veilig voel. Hier is merkers om dit te doen:
Moenie katastrofeer oor die huidige situasie nie.
Moenie inligting aanvaar en deurgee wat nie geverifieer is nie.
Moenie jou ore uitleen aan onkundiges nie.
Onderskei wat werklik vir jou nodig is om veilig te voel en vertrou God daarmee.
Bemoedig mekaar met die Here se beloftes.

Slot
Antjie Krog skryf ’n gedig getiteld ma.
Ma, ek skryf vir jou ‘n gedig
sonder fensie leestekens
sonder woorde wat rym
sonder bywoorde
net sommer
‘n kaalvoetgedig

want jy maak my groot
in jou krom klein handjies
jy beitel my met jou swart oë
en spits woorde
jy draai jou leiklipkop
jy lag en breek my tente op
maar jy offer my elke aand
vir jou Here God.
jou moesie-oor is my enigste telefoon
jou huis my enigste bybel
jou naam my breekwater teen die lewe
ek is so jammer mamma
dat ek nie is
wat ek graag vir jou wil wees nie.

Ons vind aansluiting by hierdie gedig:
Ons gee egte en opregte erkenning aan ’n ma se rol en insette in ons lewe.
Ons is ook jammer dat ons teleurstel.
En ons wil so soos ’n ma en soos God, die volgende doen: Ons kies lewe en skep ruimtes van lewe: ’n ruimte van
liefde
tuiswees
leer
lojale sorg
veilig wees.

So is ons wêreld ’n beter wêreld.

Offergawes

Klik op die skakel hieronder deur SnapScan 'n bydrae te lewer. Die skakel sal die SnapScan toep oopmaak op jou slimfoon. Indien die toep nog nie op jou slimfoon is nie, sal jy gevra word om SnapScan te installeer. Volg dan die instruksies.Baie dankie!
https://pos.snapscan.io/qr/PXMP7844

Kyk na hierdie boodskap op YouTube

Besoek gerus ons gemeente se YouTube kanaal.
https://www.youtube.com/channel/UCWPqD-Oey-oZBiYVrCKfUnA