Eksodus 39
39
1Hulle het geweefde klere van blou, pers en bloedrooi materiaal gemaak om in die Afgesonderde Plek te dien en ook die afgesonderde klere vir Aharon gemaak, net soos יהוה Mosheh beveel het.
2Hy het die skouerkleed gemaak van goud, blou, pers en bloedrooi materiaal en wit geweefde linne.
3Hulle het dun plate van die goud geslaan en hy het dit in drade gesny om dit in te werk in die blou, pers en bloedrooi materiaal en in die wit geweefde linne; ’n produk van kunstige werk.
4Hulle het skouerstukke daaraan gemaak wat aan mekaar vas is; aan die twee bo-ente was dit aan mekaar vas
5en die inmekaargeweefde band wat daaraan was om dit vas te bind, was daarmee saam uit een stuk, van dieselfde werk, van goud, blou, pers en bloedrooi materiaal en wit geweefde linne, soos יהוה Mosheh beveel het.
6Hulle het ook die oniksstene gemaak, vasgesit in monteerrame van goud, gegraveer, soos wat op ’n seëlsteen uitgesny word, met die name van die seuns van Yisra’el
7en hy het hulle op die skouerstukke van die skouerkleed vasgesit as herinneringstene vir die seuns van Yisra’el, soos יהוה Mosheh beveel het.
8Hy het ook die borsplaat van kunstige werk gemaak, soos die werk van die skouerstuk; van goud, blou, pers en bloedrooi materiaal en wit geweefde linne.
9Hulle het die borsplaat vierkantig gemaak deur dit dubbel te vou; sy lengte ’n span en sy breedte ’n span as dit dubbel gevou is
10en hulle het vier rye stene daarin geset: ’n ry met ’n robyn, ’n topaas en ’n smarag was die eerste ry.
11Die tweede ry ’n turkoois, ’n saffier en ’n diamant,
12die derde ry ’n hiasint, ’n agaat en ’n ametis
13en die vierde ry ’n beril, ’n oniks en ’n jaspis. Hulle is vasgesit en in goue monteerrame geset.
14Daar was twaalf stene met die name van die seuns van Yisra’el, volgens hulle name gegraveer, soos wat op ’n seëlsteen uitgesny word; elkeen met sy eie naam volgens die twaalf stamme.
15Hulle het ook by die borsplaat kettings van suiwer goud gemaak, soos gedraaide toue
16en hulle het twee goue monteerrame en twee goue ringe gemaak en die twee ringe aan die twee bo-ente van die borsplaat vasgesit
17en hulle het die twee goue toue aan die twee ringe aan die bo-ente van die borsplaat vasgemaak,
18maar die twee ander ente van die twee toue het hulle aan die twee monteerrame vasgemaak en dié dan aan die skouerstukke van die skouerkleed vasgesit, aan die voorkant daarvan.
19Hulle het ook twee goue ringe gemaak en dié aan die twee onder-ente van die borsplaat vasgesit, aan die kant wat teen die skouerkleed aan lê, aan die binnekant.
20Hulle het twee goue ringe gemaak en dié aan die twee skouerstukke van die skouerkleed vasgesit, onderaan, aan die voorkant daarvan, by sy verbinding, bo die geweefde band van die skouerkleed
21en hulle het die borsplaat, met sy ringe, met ’n blou toutjie aan die ringe van die skouerstuk vasgebind sodat dit bo die band van die skouerstuk sou wees en die borsplaat nie van die skouerstuk kon afskuif nie, soos יהוה Mosheh beveel het.
22Hy het die bokleed van die skouerstuk van geweefde werk gemaak, heeltemal van blou materiaal.
23Die opening van die bokleed was in die middel daarvan soos die opening van ’n borswapen; die opening het ’n soom rondom gehad sodat dit nie mag skeur nie.
24Aan die soom van die bokleed het hulle granate gemaak van blou, pers en bloedrooi materiaal en wit geweefde linne.
25Hulle het ook klokkies van suiwer goud gemaak en die klokkies tussen die granate gesit, aan die soom van die bokleed, rondom, tussen die granate:
26’n klokkie en ’n granaat, ’n klokkie en ’n granaat, reg rondom aan die soom van die bokleed waarin bedien is, soos יהוה Mosheh beveel het.
27Hulle het ook die klede van wit linne gemaak, van wewerswerk, vir Aharon en sy seuns
28en die tulbande van wit linne en die ornamentele tulbande van wit linne en die broeke van wit geweefde linne
29en die gordel van wit geweefde linne en van blou, pers en bloedrooi materiale, die produk van ’n kunstige wewer, soos יהוה Mosheh beveel het.
30Hulle het ook die plaat van die afgesonderde kroon van suiwer goud gemaak en daarop geskrywe met letters, soos dit op ’n seëlsteen uitgesny word: AFGESONDER TOT יהוה.
31Hulle het ’n blou tou daaraan vasgemaak om dit bo-op die tulband vas te sit, soos יהוה Mosheh beveel het.
32So is dan al die werk aan die Tent van Ontmoeting voltooi en die seuns van Yisra’el het dit gemaak net soos יהוה Mosheh beveel het; so het hulle dit gemaak.
33Hulle het die tent na Mosheh toe gebring, die tent self met alles wat daarby behoort, sy hakies, sy planke, sy pale, sy pilare, sy voetstukke,
34die dekkleed van rooigekleurde ramsvelle, die dekkleed van dugongvelle, die verdelingsgordyn van die Toedekking,
35die ark van die Getuienis met sy pale, die Toedekking,
36die tafel met al sy bybehore, die brode van die Teenwoordigheid,
37die suiwer lampstaander met sy lampe, die lampe wat daarop gerangskik moes word, met al sy bybehore en die olie vir die lampstaander;
38verder die goue altaar, die salfolie, die reukwerk van speserye en die gordyn vir die ingang van die tent;
39die koper altaar en sy koper loopvlak, sy pale met al sy bybehore, die kom en sy voetstuk,
40die gordyne van die voorhof, sy pilare en sy voetstukke, die gordyn vir die poort van die voorhof, die lyne en penne wat daarby hoort en al die bybehore vir die diens in die Tent van Ontmoeting;
41die geweefde klere, waarmee in die Afgesonderde plek bedien is, die afgesonderde klere van Aharon, die priester en die klere van sy seuns, om in te dien as priesters.
42Volgens alles wat יהוה Mosheh beveel het, so het die seuns van Yisra’el al die werk gedoen.
43Mosheh het al die werk inspekteer en werklik, hulle het dit gemaak soos יהוה beveel het, so het hulle dit gemaak en Mosheh het hulle geseën.
S'ha seleccionat:
Eksodus 39: SPC
Subratllat
Copia
Compara
Comparteix
Vols que els teus subratllats es desin a tots els teus dispositius? Registra't o inicia sessió
©Kopiereg 2025 deur Die Pad van Waarheid tot die Lewe Vertalings Projek.
Kopiereg op die inhoud behoort aan die Lewende, Skepper-God, YHWH, alleen. U is welkom om dit onveranderd te gebruik in enige leer of skrywe, met erkenning: “PWL” “PadWLewe” of “Die Pad van Waarheid tot die Lewe” vertaling.
Geen deel hiervan mag onder enige omstandighede, in enige formaat, verkoop word nie.
Sy Boodskap is gratis.