Eksodus 38

38
1Hy het die brandofferaltaar van akasiahout gemaak. Sy lengte was vyf el en sy breedte vyf el; vierkantig. Sy hoogte was drie el.
2Hy het sy horings op die vier hoeke gemaak; sy horings was, daarmee saam, uit een stuk en hy het dit met koper oorgetrek.
3Hy het ook al die bybehore van die altaar gemaak: die potte, die grawe, die komme, die vurke en die vuurpanne. Al sy bybehore het hy van koper gemaak.
4Hy het ook vir die altaar ’n loopplank gemaak, ’n netwerk van koper, onder sy lys, halfpad van onder van die altaar af.
5Hy het vier ringe aan die vier ente van die koper loopplank gegiet, as plekke vir die pale
6en hy het die pale van akasiahout gemaak en dit met koper oorgetrek.
7Hy het die pale in die ringe gesteek, aan die kante van die altaar, om dit daarmee te dra; hy het dit hol, van planke, gemaak.
8Hy het ook die koper kom gemaak, met sy koper voetstuk,uit die koper spieëls van die vroue wat bymekaar gekom het vir ’n byeenkoms by die ingang van die Tent van Ontmoeting.
9Hy het ook die voorhof gemaak. Aan die suidekant was die gordyne van die voorhof een honderd el lank en van wit geweefde linne.
10Daar was twintig pilare vir hulle met hulle twintig koper voetstukke; die hake en die ringe van die pilare was van silwer.
11Aan die noordekant was die gordyne ’n honderd el lank; met twintig pilare en hulle twintig koper voetstukke; die hake en die ringe van die pilare was van silwer.
12Aan die westekant was daar gordyne van vyftig el lank; met tien pilare en hulle tien voetstukke; die hake en die ringe van die pilare was van silwer.
13Aan die oostekant, waar die son opkom, vyftig el:
14vyftien el gordyne vir die een kant, met drie pilare en hulle drie voetstukke;
15asook vir die anderkant; aan weerskante van die poort van die voorhof; vyftien el gordyne, met drie pilare en hulle drie voetstukke.
16Al die gordyne van die voorhof rondom was van wit geweefde linne
17en die voetstukke van die pilare was van koper, die hake en die ringe van die pilare van silwer, die oortreksel van hulle toppe van silwer en hulle self, al die pilare van die voorhof, het silwer ringe gehad.
18Die skerm van die poort van die voorhof was die produk van kunstige weefwerk, van blou, pers en bloedrooi materiaal en wit geweefde linne: sy lengte was twintig el en die hoogte al langs sy breedte was vyf el, net soos die gordyne van die voorhof
19met sy vier pilare en hulle vier voetstukke van koper, hulle hake van silwer, die oortreksel van hulle toppe en hulle ringe van silwer.
20Al die penne vir die tabernakel en die voorhof rondom was van koper.
21Dit is die berekening van die tabernakel, die tabernakel van die Getuienis, soos dit bereken is op bevel van Mosheh, vir die diens van die Leviete, onder leiding van Itamar, die seun van Aharon, die priester. Num 4:27-28,33
22B’tzal’el, die seun van Uri, die seun van Hur, van die stam van Y’hudah, het alles gemaak wat יהוה Mosheh beveel het
23en saam met hom Oholi’av, die seun van Agisamakh, van die stam van Dan, ’n graveerder, ontwerper en wewer in blou, pers en in bloedrooi materiaal en in wit geweefde linne.
24Al die goud wat vir al die werk van die Afgesonderde Plek gebruik is, die goud wat as offer aangebied was, was nege en twintig talente en sewe honderd en dertig sikkels (877kg) volgens die sikkel van die Afgesonderde Plek.
25Die silwer van die wat getel is van die vergadering was een honderd talente en een duisend sewe honderd vyf en sewentig sikkels (3023kg) volgens die sikkel van die Afgesonderde Plek;
26’n beka vir elke persoon, dit is ’n halfsikkel volgens die sikkel van die Afgesonderde Plek, van elkeen wat oorgegaan het na die geteldes, van twintig jaar oud en daarbo, naamlik ses honderd en drie duisend vyf honderd en vyftig mans (603 550).
27Van die honderd talente silwer is die voetstukke van die Afgesonderde Plek en die voetstukke van die verdelingsgordyn gegiet; honderd voetstukke vir honderd talente, ’n talent vir ’n voetstuk
28en van die een duisend sewe honderd vyf en sewentig (1775) sikkels het hy hake vir die pilare gemaak, hulle toppe oorgetrek en hulle van ringe voorsien.
29Die koper wat as offer aangebied was, het sewentig talente en twee duisend vier honderd sikkels bedra (2127kg).
30Hy het daarvan die voetstukke van die ingang van die Tent van Ontmoeting, die koper altaar en sy koper loopvlak en al die bybehore van die altaar gemaak;
31asook die voetstukke van die voorhof rondom en die voetstukke van die poort van die voorhof en al die penne van die Tabernakel, ook al die penne van die voorhof rondom.

S'ha seleccionat:

Eksodus 38: SPC

Subratllat

Comparteix

Compara

Copia

None

Vols que els teus subratllats es desin a tots els teus dispositius? Registra't o inicia sessió