YouVersion Logo
Search Icon

NUMERI 21

21
Die Kanaäniete word verslaan
1Toe die Kanaänitiese koning Arad wat in die Suidland woon, verneem dat Israel in die rigting van Atarim optrek, het hy teen hulle gaan veg en 'n aantal van hulle gevange geneem. 2Israel het 'n gelofte aan die Here gedoen: “As U hierdie volk en hulle stede in ons mag gee, sal ons hulle stede as banoffers aan U offer.”
3Die Here het die gebed verhoor en die Kanaäniete in Israel se mag oorgegee. Hulle het toe die Kanaäniete verslaan en hulle stede heeltemal verwoes. Daarom word die plek Gorma genoem.
Die koperslang
4Om by die gebied van Edom verby te kom, het die Israeliete van Horberg af in die rigting van die Rietsee getrek. Op pad daarheen het die volk ongeduldig geword 5en teen God en Moses uitgevaar: “Waarom het U ons uit Egipte laat trek net om in die woestyn te sterwe? Hier is nie brood en water nie, en ons is sat vir hierdie slegte kos.”
6Die Here het toe giftige slange onder die volk ingestuur. Die slange het die mense gepik en baie Israeliete het gesterf. 7Toe kom die volk na Moses toe en bely: “Ons het teen die Here en teen u gesondig met wat ons gesê het. Bid tog tot die Here dat Hy die slange van ons af wegneem.”
Moses het toe vir die volk gebid, 8en die Here het vir Moses gesê: “Maak 'n beeld van 'n giftige slang en sit dit op 'n paal. Elkeen wat gepik is en daarna opkyk, sal lewe.”
9Moses het toe 'n koperslang gemaak en dit op 'n paal gesit. As iemand wat deur 'n slang gepik is, na die koperslang opkyk, het hy bly leef.
Die verdere reis na Moab toe
(Vgl. Deut. 2:8-23)
10Die Israeliete het weggetrek en by Obot kamp opgeslaan. 11Daarvandaan het hulle versit en kamp opgeslaan by Ije-Abarim in die woestyn regoor Moab, aan die oostekant. 12Hulle het daarvandaan weggetrek en kamp opgeslaan in die Seredvallei.
13Daarvandaan het hulle weer versit en kamp opgeslaan langs die Arnonrivier wat uit die gebied van die Amoriete deur die woestyn loop. Die Arnon is die grens tussen Moab en die Amoriete. 14Daarom lees ons in die Boek van die Oorloë van die Here:
“By Waheb in Sufa en by die spruite, by die Arnon,
15teen die hange langs die spruite
wat strek tot by die gebied van Ar
en grens aan die gebied van Moab.”
16Daarvandaan het Israel verder getrek tot by Beër. Dit is die Beër waar die Here vir Moses gesê het: “Laat die volk bymekaarkom en Ek sal vir hulle water uit die put gee.”
17Israel het toe hierdie lied gesing:
“Put, lewer jou water,
en ons sal daarvan sing!
18Put wat deur leiers gegrawe is,
wat deur vernames van die volk oopgemaak is
met septer en kierie.”
Van die woestyn af is die Israeliete na Mattana toe, 19van Mattana af na Nagaliël toe, van Nagaliël af na Bamot toe, 20en van Bamot af na die vallei in die gebied van Moab, naby die top van Pisgaberg wat afkyk op die droë wêreld.
Oorwinnings oor Sihon en Og
(Vgl. Deut. 2:24 – 3:11)
21Die Israeliete het boodskappers gestuur na koning Sihon van die Amoriete toe met die versoek: 22“Laat ons toe om deur u land te trek. Ons sal nie afdraai na die lande of die wingerde toe nie, en ons sal ook nie water uit die putte drink nie. Ons sal net met die Koningspad langs trek totdat ons deur u gebied is.”
23Sihon wou Israel egter nie toelaat om deur sy gebied te trek nie. Hy het al sy manskappe opgeroep en Israel in die woestyn tegemoet getrek. Toe Sihon by Jahas kom, het hy Israel aangeval. 24Israel het hom egter verslaan en sy land beset van die Arnon af tot by die Jabbok, tot by die Ammoniete, wie se grens goed versterk was.
25Die Israeliete het al die stede van die Amoriete verower en daarin gaan woon, ook in Gesbon en al sy buitedorpe.
26Gesbon was die stad van koning Sihon van die Amoriete. Sihon het teen 'n vorige koning van Moab oorlog gemaak en sy hele gebied tot aan die Arnon van hom afgevat. 27Daarom sê die digters:
“Kom na Gesbon toe, bou dit weer op,
herstel die stad van Sihon.
28Daar het 'n vuur uit Gesbon uit gegaan,
'n vlam uit die stad van Sihon,
en dit het Ar-Moab verteer
wat die Arnonhoogtes beheer.
29Dis klaar met jou, Moab,
jy gaan tot niet, volk van Kemos!
Hy moes sy seuns as vlugtelinge prysgee,
sy dogters as gevangenes aan koning Sihon van die Amoriete!
30Maar nou het ons op hulle losgetrek:
Gesbon se gebied is verwoes tot by Dibon,
ons het hulle uitgeroei tot by Nofag,
tot by Medeba.”
31So het Israel dan in die land van die Amoriete gaan woon. 32Moses het manne gestuur om Jaser te gaan verken. Hulle het Jaser en sy buitedorpe ingeneem en die Amoritiese inwoners verdryf. 33Hulle het toe weggedraai en in die rigting van Basan getrek. Koning Og van Basan het hulle tegemoet getrek met sy hele leërmag en hulle by Edreï aangeval.
34Die Here het vir Moses gesê: “Moenie vir hom bang wees nie. Ek gee hom met sy hele leër en sy land in jou mag oor. Doen met hom soos jy gedoen het met koning Sihon van die Amoriete wat in Gesbon gewoon het.”
35Die Israeliete het vir Og saam met sy seuns en sy hele leër verslaan. Nie een van sy mense het oorgebly nie. Die Israeliete het ook sy land in besit geneem.

Currently Selected:

NUMERI 21: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy