YouVersion Logo
Search Icon

JESAJA 65

65
Ek gaan hulle straf
1Ek het my wil geopenbaar aan 'n volk
wat nie na My gevra het nie.
Ek het My laat vind deur mense
wat My nie in die gebed gesoek het nie.
Vir 'n nasie wat My nie aangeroep het nie,
het Ek gesê: Hier is Ek! Hier is Ek!
2Ek het gedurig my hande uitgesteek na 'n opstandige volk
wat 'n pad geloop het wat nie goed is nie,
wat hulle eie kop gevolg het.
3Hierdie volk beledig My gedurig in my gesig,
hulle bring soos heidene offers in tuine
en brand wierook op hulle altare.
4Hulle sit tussen die grafte
en bly snags in geheime plekke.
Hulle eet varkvleis,
en daar is onrein vleis in hulle borde.
5Hulle sê: “Bly waar jy is! Moenie naby my kom nie!
Ek is te heilig vir jou!”
Hierdie mense maak My woedend,
hulle laat my toorn losbreek.
6By My staan dit vas:
Ek gaan ingryp,
Ek gaan hulle straf,
Ek gaan hulle straf volgens wat hulle verdien.
7Ek gaan hulle straf oor hulle en hulle voorvaders se sondes,
sê die Here.
Hulle het wierook gebrand op die berge
en My beledig op die heuwels.
Ek gaan hulle straf vir hulle dade van vroeër,
volgens wat hulle verdien.
8So sê die Here:
Wanneer 'n druiwetros nog sap het,
sê die mense: “Moet dit nie weggooi nie,
want dit het nog nut.”
So sal Ek doen ter wille van my dienaars,
Ek sal hulle nie almal verwerp nie.
9Ek sal aan Jakob 'n nageslag gee,
aan Juda 'n nageslag wat my bergland sal besit.
Dié wat Ek uitverkies het, sal dit in besit neem,
my dienaars sal daar woon.
10Die Saronvlakte sal 'n weiveld wees vir die kleinvee,
die Akorlaagte 'n lêplek vir die beeste,
vir dié uit my volk wat vra na my wil.
11Maar julle wat van die Here afvallig geword het,
julle wat my heilige berg vergeet het,
julle wat vir die afgod Gad offermaaltye hou,
wyn inskink vir die afgod Meni,
12Ek gaan julle straf met die dood,
julle sal almal inmekaarsak en doodgesteek word,
omdat julle nie geantwoord het toe Ek geroep het nie,
nie geluister het toe Ek gepraat het nie.
Julle het gedoen wat verkeerd is in my oë,
julle het gekies vir wat My nie aanstaan nie.
13Daarom, so sê die Here my God,
sal my dienaars genoeg hê om te eet,
maar julle sal honger ly;
my dienaars sal genoeg hê om te drink,
maar julle sal dors ly;
my dienaars sal bly wees,
maar julle sal teleurgestel staan.
14My dienaars sal jubel omdat dit met hulle goed gaan,
maar julle sal skreeu van pyn,
julle sal huil van hartseer.
15Dié wat Ek uitverkies het, sal julle naam gebruik
om mense mee te vervloek.
Die Here my God sal júlle ombring,
maar aan dié wat Hom dien,
gee Hy 'n nuwe toekoms.
16Elkeen in die land wat om voorspoed bid,
sal dit doen in die Naam van die God wat getrou is,
en elkeen in die land wat 'n eed aflê,
sal dit doen in die Naam van die God wat getrou is.
Die swaarkry van vroeër sal vergeet wees,
Ek laat dit verdwyn.
'n Nuwe hemel en 'n nuwe aarde
17Ek gaan 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde skep;
aan dié wat daar nou is, sal daar nie meer gedink word nie,
hulle sal nie onthou word nie.
18Wees bly, en jubel sonder ophou oor wat Ek gaan skep:
Ek gaan 'n Jerusalem skep wat vol blydskap is,
sy inwoners sal vreugde hê.
19Ek sal jubel oor Jerusalem,
Ek sal bly wees oor my volk.
Daar sal in Jerusalem nie meer iemand gehoor word
wat huil of om hulp roep nie.
20Daar sal geen kind sterf
wat maar 'n paar dae oud is nie
en geen grysaard wat nie sy jare uitgeleef het nie.
As iemand op honderdjarige leeftyd sterf,
sal dit beskou word asof hy jonk gesterf het;
as hy nie honderd word nie,
sal hy beskou word as iemand wat vervloek is.
21Dan sal mense huise bou en self daarin woon,
hulle sal wingerde plant en self die druiwe eet.
22Hulle sal nie huise bou waarin ander sal woon nie,
hulle sal nie wingerde plant
waarvan ander die druiwe sal eet nie.
My volk sal so oud word soos 'n boom.
Dié wat Ek uitverkies het,
sal self die vrug van hulle handewerk geniet.
23Hulle sal hulle nie tevergeefs vermoei nie,
hulle sal nie kinders hê vir wie daar rampe wag nie,
want hulle sal 'n volk wees wat deur die Here geseën word,
hulle en hulle afstammelinge.
24Voor hulle nog roep, sal Ek antwoord,
terwyl hulle nog praat, sal Ek hulle gebed verhoor.
25Die wolf en die lam sal saam wei,
die leeu sal strooi vreet soos 'n bees,
en stof sal die kos van die slang wees.
Op my heilige berg sal niks verkeerds gedoen word nie,
niks vernietig word nie,
sê die Here.

Currently Selected:

JESAJA 65: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy