YouVersion Logo
Search Icon

DEUTERONOMIUM 27

27
'n Klipaltaar op Ebalberg
1Moses en die leiers van Israel het die volk beveel: “Jy moet al die gebooie gehoorsaam wat ek jou vandag beveel. 2Wanneer jy deur die Jordaanrivier trek op pad na die land toe wat die Here jou God aan jou gee, moet jy groot klippe opstapel en hulle met kalk afwit. 3Wanneer jy deurtrek om die land in te gaan, die land wat die Here jou God aan jou sal gee, die land wat oorloop van melk en heuning, soos die Here jou God aan jou voorvaders beloof het, moet jy al die woorde van hierdie wet op die klippe skryf. 4Nadat jy deur die Jordaan getrek het, moet jy die klippe waaroor ek nou net opdragte gegee het, op Ebalberg opstapel en moet jy hulle met kalk afwit. 5Daar moet jy 'n klipaltaar bou vir die Here jou God. Jy mag die klip nie kap nie. 6Jy moet die altaar vir die Here jou God bou van onbewerkte klip en daarop moet jy jou brandoffers aan die Here jou God offer. 7Jy moet jou maaltydoffers offer en dit daar eet en bly wees in die teenwoordigheid van die Here jou God. 8Jy moet hierdie hele wet duidelik leesbaar skryf op die klippe wat jy opstapel.”
By Gerisimberg en by Ebalberg
9Moses en die Levitiese priesters het vir die hele Israel gesê: “Bly stil en luister, Israel! Vandag het jy die volk van die Here jou God geword. 10Jy moet na die Here jou God luister en jy moet lewe volgens die gebooie en die voorskrifte wat ek jou vandag beveel.”
11Op dieselfde dag het Moses vir die volk gesê:
12“Wanneer julle deur die Jordaanrivier getrek het, moet die volgende stamme op Gerisimberg gaan staan: Simeon, Levi, Juda, Issaskar, Josef en Benjamin. Hulle moet die volk seën. 13Die volgende stamme moet op Ebalberg gaan staan: Ruben, Gad, Aser, Sebulon, Dan en Naftali. Hulle moet die straf aankondig.
14“Die Leviete moet hardop vir die hele Israel sê:
15“Daar rus 'n vloek op elkeen wat 'n afgodsbeeld uitsny of giet en dit in die geheim êrens neersit om te vereer. Die Here het 'n afsku daarvan. Dit is mensewerk.
“Dan moet die hele volk antwoord: ‘Amen!’
16“Daar rus 'n vloek op elkeen wat sy pa of ma minag.
“Dan moet die hele volk antwoord: ‘Amen!’
17“Daar rus 'n vloek op elkeen wat die grenslyn van sy buurman verlê!
“Dan moet die hele volk antwoord: ‘Amen!’
18“Daar rus 'n vloek op elkeen wat 'n blinde op 'n verkeerde pad lei!
“Dan moet die hele volk antwoord: ‘Amen!’
19“Daar rus 'n vloek op elkeen wat nie reg laat geskied aan 'n vreemdeling, 'n weeskind of 'n weduwee nie!
“Dan moet die hele volk antwoord: ‘Amen!’
20“Daar rus 'n vloek op elkeen wat gemeenskap het met sy pa se vrou, want hy het haar wat aan sy pa behoort, ontbloot.
“Dan moet die hele volk antwoord: ‘Amen!’
21“Daar rus 'n vloek op elkeen wat gemeenskap het met enige dier!
“Dan moet die hele volk antwoord: ‘Amen!’
22“Daar rus 'n vloek op elkeen wat gemeenskap het met sy suster, 'n dogter van sy pa of sy ma.
“Dan moet die hele volk antwoord: ‘Amen!’
23“Daar rus 'n vloek op elkeen wat gemeenskap het met sy skoonma!
“Dan moet die hele volk antwoord: ‘Amen!’
24“Daar rus 'n vloek op elkeen wat sy naaste doodmaak, al is dit in die geheim!
“Dan moet die hele volk antwoord: ‘Amen!’
25“Daar rus 'n vloek op elkeen wat omkoopgeld aanvaar om 'n onskuldige dood te maak!
“Dan moet die hele volk antwoord: ‘Amen!’
26“Daar rus 'n vloek op elkeen wat nie hierdie wet onderhou en nie daarvolgens lewe nie!
“Dan moet die hele volk antwoord: ‘Amen!’ ”

Currently Selected:

DEUTERONOMIUM 27: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy