YouVersion Logo
Search Icon

TITUS 1

1
1Van Paulus, 'n dienaar van God en 'n apostel van Jesus Christus. Ek het die opdrag ontvang om die uitverkorenes van God te lei tot die geloof en tot kennis van die waarheid, dié waarheid wat lei tot die diens van God 2en wat hoop gee op die ewige lewe. God wat sy woord hou, het die ewige lewe lank gelede aan ons belowe. 3Nou het Hy op die bestemde tyd sy woord bekend gemaak deur die prediking wat as opdrag aan my toevertrou is deur God ons Verlosser.
4Aan Titus, my eie kind in die geloof wat ons albei bely.
Genade en vrede van God die Vader en Christus Jesus ons Verlosser!
Titus se werk op Kreta
5Ek het jou op Kreta agtergelaat met die bedoeling dat jy die dinge wat nog gereël moes word, in orde moet bring en dat jy in elke dorp ouderlinge moet aanstel soos ek dit aan jou opgedra het. 6'n Ouderling moet onberispelik van gedrag wees; hy moet aan sy vrou getrou wees, en sy kinders moet gelowig wees en nie die naam hê dat hulle losbandig lewe en teen gesag in opstand kom nie. 7'n Ouderling is immers 'n bestuurder van die huishouding van God. Daarom moet hy onberispelik van gedrag wees, nie aanmatigend en opvlieënd nie, nie 'n dronkaard of 'n rusiemaker of 'n soeker na oneerlike wins nie. 8Hy moet gasvry wees, lief vir wat goed is, verstandig, regverdig, vroom en selfbeheers. 9Hy moet vashou aan die betroubare woord waarin hy onderrig is. Dan sal hy in staat wees om ander met die gesonde leer aan te moedig en die argumente van teenstanders te weerlê.
10Daar is baie, veral onder die bekeerlinge uit die Jodedom, wat in opstand kom teen gesag, wat onsin praat en mense verlei. 11Hulle mond moet gesnoer word. Hulle bring hele huisgesinne in beroering deur dinge te leer wat nie toelaatbaar is nie, en dít net om skaamteloos geld te maak. 12Een van hulle mense, hulle eie profeet, het gesê:
“Die Kretensers is altyd leuenaars, ongediertes, lui vrate.”
13Hierdie getuienis is waar. Daarom moet jy hulle streng teregwys, sodat hulle gesond kan word in die geloof. 14Hulle moet hulle nie langer besig hou met Joodse verdigsels en met die voorskrifte van mense wat van die waarheid afgedwaal het nie. 15Vir die reines is alles rein, maar vir die besoedeldes en ongelowiges is niks rein nie, want hulle verstand en hulle gewete is besoedel. 16Hulle gee voor dat hulle God ken, maar hulle dade weerspreek dit. Hulle is verfoeilik en koppig en deug vir geen goeie werk nie.

Currently Selected:

TITUS 1: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy