YouVersion Logo
Search Icon

LUKAS 8

8
Vroue wat vir Jesus gesorg het
1In die tyd wat nou gevolg het, het Jesus die land deurkruis van die een stad en dorp na die ander. Oral het Hy gepreek en die evangelie van die koninkryk van God verkondig.
Die twaalf was saam met Hom 2en daarby 'n aantal vroue wat van bose geeste en siektes genees was. Daar was Maria, bekend as Magdalena, uit wie sewe bose geeste uitgegaan het, 3en Johanna die vrou van Gusa, 'n hoë amptenaar van Herodes, en Susanna en baie ander. Hierdie vroue het uit eie middele vir Jesus en die twaalf gesorg.
Gelykenis van die saaier
(Matt. 13:1-9; Mark. 4:1-9)
4Uit die verskillende dorpe het aanhoudend mense na Jesus toe gestroom, en toe 'n groot menigte saamgekom het, het Hy vir hulle 'n gelykenis vertel:
5“'n Saaier het uitgegaan om saad te saai. Met die saai het 'n deel op die pad geval, en dit is vertrap en die voëls het dit opgepik. 6'n Ander deel het op 'n klipbank geval, en nadat dit opgekom het, het dit verdroog, omdat dit geen vogtigheid gehad het nie. 7Nog 'n ander deel het tussen die onkruid geval, en die onkruid het daarmee saam gegroei en dit laat verstik. 8Daar was ook 'n deel wat in goeie grond geval het, en dit het opgekom en 'n honderdvoudige oes gelewer.”
Toe Hy dit gesê het, roep Hy uit: “Wie ore het en kan hoor, moet luister!”
Die doel van die gelykenisse
(Matt. 13:10-17; Mark. 4:10-12)
9Sy dissipels het Hom gevra wat die betekenis van hierdie gelykenis is. 10Hy het geantwoord: “Aan julle is dit gegee om die geheime van die koninkryk van God te ken, maar vir die ander bly dit by gelykenisse sodat
“hulle kyk sonder om te sien
en hoor sonder om te verstaan. ”
Jesus verklaar die gelykenis van die saaier
(Matt. 13:18-23; Mark. 4:13-20)
11“Die betekenis van die gelykenis is dit: Die saad is die woord van God. 12Dié wat op die pad val, dui op mense wat die woord hoor, maar dan kom die duiwel en neem dit uit hulle harte weg sodat hulle nie tot geloof kom en gered word nie. 13Dié wat op die klipbank val, dui op hulle wat die woord met blydskap aanneem wanneer hulle dit hoor, maar dit skiet nie wortel nie. Hulle geloof hou net 'n tydjie. Die oomblik dat dit op die proef gestel word, gee hulle moed op. 14Die saad wat tussen die onkruid val, dui op dié wat die woord hoor, maar deur die sorge en die rykdom en die genietinge van die lewe word dit gaandeweg verstik, en dit skiet nie saad nie. 15Die deel wat in goeie grond val, dui op dié wat die woord met 'n goeie en opregte hart hoor en dit bewaar en deur volharding vrug dra.”
Die gelykenis van die lamp
(Mark. 4:21-25)
16“Niemand steek 'n lamp op en maak dit dan met iets toe of sit dit onder 'n bed nie. Inteendeel, hy sit dit op 'n staander sodat die mense wat binnekom, die lig kan sien. 17Daar is niks geheim wat nie openbaar sal word nie, of weggesteek wat nie bekend sal word en aan die lig sal kom nie.
18“Pas dus op hoe julle luister, want wie het, vir hom sal daar nog meer gegee word, maar wie nie het nie, van hom sal ook wat hy dink dat hy het, weggevat word.”
Die moeder en die broers van Jesus
(Matt. 12:46-50; Mark. 3:31-35)
19Die moeder en die broers van Jesus het na Hom toe gekom, maar vanweë die gedrang kon hulle nie tot by Hom kom nie. 20Iemand sê toe vir Hom: “U moeder en u broers staan buite en wil met U praat.”
21Maar Jesus sê: “My moeder en my broers is dié wat na die woord van God luister en daarvolgens handel.”
Jesus maak die storm stil
(Matt. 8:23-27; Mark. 4:35-41)
22Op 'n dag het Jesus en sy dissipels in 'n skuit geklim en Hy het vir hulle gesê: 23“Kom ons gaan na die oorkant van die meer toe.”
Hulle vaar toe weg, en terwyl hulle seil, raak Jesus aan die slaap. 'n Hewige stormwind het op die meer losgebars en die skuit het vol water begin word sodat hulle in lewensgevaar was. 24Hulle gaan toe na Jesus toe en maak Hom wakker met die uitroep: “Meneer, Meneer, ons vergaan!”
Toe staan Hy op en bestraf die wind en die golwe. 25Hulle het bedaar, en daar het stilte gekom. Toe sê Jesus vir hulle: “Waar is julle geloof dan?”
Maar hulle was verskrik en verbaas en het vir mekaar gesê: “Wie is Hy tog? Hy gee bevele aan wind en water, en hulle is aan Hom gehoorsaam!”
'n Besetene word van bose geeste bevry
(Matt. 8:28-34; Mark. 5:1-20)
26Daarna het hulle verder gevaar na die land van die Geraseners, wat reg teenoor Galilea lê. 27Toe Jesus daar aan wal gaan, het 'n man van 'n dorp af Hom tegemoet gekom. Hy was van bose geeste besete en het 'n hele tyd al nie meer klere gedra nie en ook nie in 'n huis gebly nie, maar tussen grafte. 28Toe hy Jesus sien, skreeu hy en val op sy knieë voor Hom neer terwyl hy hard uitroep: “Wat het U met my te doen, Jesus, Seun van God die Allerhoogste? Ek smeek U, moet my nie pynig nie!”
29Dit het hy gesê omdat Jesus die onrein gees beveel het om uit die man uit te gaan. Dit was 'n bose gees wat hom al baie keer beetgepak het. Al het hulle hom met hand- en voetboeie vasgemaak om hom in bedwang te hou, het hy die boeie uitmekaar geruk en is hy deur die bose gees die woestyn in gejaag.
30Toe vra Jesus hom: “Wat is jou naam?”
“Legio,” antwoord hy, want daar het baie bose geeste in hom ingevaar. 31Hulle het Jesus gesmeek om hulle nie na die onderaardse diepte toe terug te stuur nie.
32Daar het 'n hele trop varke teen die berg geloop. Die bose geeste het Jesus gesmeek om hulle toe te laat om in die varke in te vaar. Hy het hulle dit toegelaat, 33en die bose geeste het uit die man uitgegaan en in die varke ingevaar. Die trop sit toe op loop teen die hang af, die see in, en hulle versuip.
34Toe die wagters sien wat gebeur het, hardloop hulle weg en gaan vertel dit in die dorp en op die plase. 35Die mense gaan kyk toe wat gebeur het. Hulle kom by Jesus en daar kry hulle die man uit wie die bose geeste uitgevaar het. Hy sit by die voete van Jesus, met klere aan en by sy volle verstand, en hulle het bang geword. 36Maar dié wat dit gesien het, het vir hulle vertel hoe die besetene genees is. 37Toe het al die inwoners van die gebied van die Geraseners vir Jesus gevra om van hulle af weg te gaan omdat hulle baie bang was. Hy het toe in die skuit geklim en teruggegaan.
38Die man uit wie die bose geeste uitgevaar het, het Jesus gesmeek om by Hom te kan bly. Maar Jesus het hom weggestuur en gesê: 39“Gaan terug na jou huis toe en vertel alles wat God vir jou gedoen het.”
Hy het toe gegaan en die hele dorp deur bekend gemaak wat Jesus vir hom gedoen het.
Die dogtertjie van Jaïrus. Die vrou met bloedvloeiing
(Matt. 9:18-26; Mark. 5:21-43)
40Toe Jesus van die oorkant af terugkom, het die mense Hom verwelkom, want almal was Hom te wagte. 41Skielik kom daar 'n man aan. Dit was Jaïrus, 'n raadslid van die sinagoge. Hy het op sy knieë voor Jesus se voete geval en Hom gesmeek om na sy huis toe te kom, 42want sy enigste dogter het op sterwe gelê. Sy was omtrent twaalf jaar oud.
Op pad daarheen het die mense om Jesus saamgedrom. 43Onder hulle was 'n vrou wat al twaalf jaar lank aan bloedvloeiing gely het. Sy het alles wat sy gehad het aan dokters uitgegee, maar niemand kon haar gesond maak nie. 44Sy het nader gekom en van agter af aan die soom van sy klere geraak, en haar bloedvloeiing het onmiddellik opgehou. Jesus vra toe: 45“Wie het My aangeraak?”
Toe almal ontken dat dit hulle is, sê Petrus: “Here, die mense dring tog rondom U saam en druk teen U.”
46Maar Jesus sê: “Iemand het My aangeraak, want Ek het agtergekom dat daar krag van My uitgegaan het.”
47Toe die vrou sien Hy weet dit is sy, het sy van angs gebewe en voor Hom kom neerval. Daar voor al die mense vertel sy Hom toe waarom sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het. 48Toe sê Hy: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede!”
49Terwyl Hy nog praat, kom daar iemand van die raadslid van die sinagoge se huis af om te sê: “U dogter is al dood. Moenie nog ons Leermeester lastig val nie.”
50Maar Jesus het dit gehoor en sê vir hom: “Moet jou nie ontstel nie. Glo net, en sy sal gered word.”
51Toe Jesus by die huis kom, het Hy niemand toegelaat om saam met Hom in te gaan nie, behalwe Petrus, Johannes en Jakobus, en die kind se pa en ma. 52Die mense daar het almal gehuil en oor haar rou bedryf. Maar Jesus sê: “Moenie huil nie, want sy is nie dood nie, sy slaap net.”
53Hulle het Hom uitgelag, want hulle was seker dat sy dood is. 54Maar Jesus het haar hand gevat en uitgeroep: “Dogtertjie, staan op!”
55Haar lewe het teruggekom, en sy het onmiddellik opgestaan. Toe gee Jesus opdrag dat hulle vir haar iets te ete moet gee. 56Haar ouers was stom van verbasing, en Jesus het hulle verbied om vir iemand te vertel wat gebeur het.

Currently Selected:

LUKAS 8: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy