YouVersion Logo
Search Icon

LEVITIKUS 17

17
Die enigste offerplek
1Die Here het vir Moses gesê: 2“Sê vir Aäron, die priesters en al die Israeliete, die Here het beveel: 3Elke Israeliet wat 'n bees of 'n skaap of 'n bok in die kamp of buite die kamp slag 4en nie by die ingang van die tent van ontmoeting waar hy voor die heiligdom van die Here 'n deel as gawe aan die Here kan gee nie, is skuldig aan bloedvergieting. So iemand het bloed vergiet, en sal van sy volksgenote afgesny word. 5Die bedoeling is dat die Israeliete nie meer diere in die veld moet slag nie, maar dit vir die Here moet bring. Hulle moet dit na die ingang van die tent van ontmoeting na die priester toe bring en daar slag as maaltydoffer vir die Here. 6Die priester moet die bloed sprinkel teen die altaar van die Here by die ingang van die tent van ontmoeting en ook die vet op die altaar verbrand as 'n offer wat deur die Here aanvaar word. 7Die Israeliete mag nooit weer diere slag vir die veldgode en só aan die Here ontrou wees nie.
“Hierdie bepaling moet 'n vaste reël wees vir alle toekomstige geslagte.
8“Verder moet jy vir hulle sê: Elke Israeliet en elke vreemdeling by julle wat 'n brandoffer of enige ander offer wil bring, 9moet dit vir die Here bring by die ingang van die tent van ontmoeting. As iemand dit nie doen nie, sal hy van sy volksgenote afgesny word.”
Verbod om bloed te eet
10“Elke Israeliet en elke vreemdeling by julle wat enige bloed eet, sal Ek self straf. Ek sal hom van sy volksgenote afsny. 11Omdat die lewe van 'n dier in sy bloed is, het Ek die bloed vir julle gegee om op die altaar versoening te doen vir julle lewens. Omdat bloed versoening bring deur die lewe wat daarin is, 12beveel Ek elke Israeliet en elke vreemdeling by julle om géén bloed te eet nie. 13Elke Israeliet en elke vreemdeling by julle wat 'n rein wilde dier of voël slag, moet dit laat uitbloei en die bloed met grond toemaak. 14Omdat die bloed van enige dier sy lewe is, beveel Ek julle, Israeliete, dat julle géén bloed mag eet nie. Omdat die bloed van enige dier sy lewe is, sal elkeen wat dit eet, doodgemaak word.
15“Enige persoon onder julle, of hy nou 'n gebore Israeliet is of 'n vreemdeling, wat 'n dier eet wat gevrek het of deur roofdiere verskeur is, moet sy klere en homself was. Hy sal die res van die dag onrein wees. 16As hy nie sy klere en homself was nie, moet hy die gevolge dra.”

Currently Selected:

LEVITIKUS 17: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy