YouVersion Logo
Search Icon

JOSUA 11

11
Die inname van Hasor en omgewing
1Koning Jabin van Hasor het gehoor van Josua se oorwinnings. Hy stuur toe boodskappe aan koning Jobab van Madon, aan die konings van Simron en Aksaf 2en aan die konings in die noordelike Bergland, dié in die Jordaanvallei suid van Gennesaret, in die Laeveld en op die bergrug van Dor in die weste, 3die Kanaäniete in die ooste en die weste, die Amoriete, Hetiete, Feresiete, Jebusiete in die Bergland en die Hewiete onderkant Hermon in die Mispegebied. 4Hulle het almal gekom met hulle leërs, 'n groot menigte, so baie soos die sand van die see. Hulle het ook baie perde en strydwaens gehad. 5Al die konings het 'n bondgenootskap gesluit en saam hulle soldate vir die oorlog teen Israel ontplooi by die Meromwaters.
6Die Here het vir Josua gesê: “Moenie vir hulle bang wees nie. Môre dié tyd gee Ek hulle oor aan Israel, dan sneuwel hulle almal. Jy moet hulle perde se hakskeensenings afsny en hulle strydwaens verbrand.”
7Josua en al sy manskappe het die vyand skielik oorval by die Meromwaters. 8Die Here het hulle in die mag van Israel oorgegee en dié het hulle verslaan en hulle agtervolg by Groot-Sidon, Misrefot-Majim en die Mispelaagte in die ooste. Die Israeliete het hulle uitgeroei. Nie een het vrygekom nie. 9Josua het met hulle gedoen soos die Here vir hom gesê het: hy het hulle perde se hakskeensenings afgesny en hulle strydwaens verbrand.
10Daarna het Josua na Hasor toe gegaan, die stad ingeneem en sy koning doodgemaak. Hasor het vroeër die leiersposisie ingeneem tussen al die koninkryke daar. 11Die Israeliete het al die mense in die stad doodgemaak. Josua het hulle uitgeroei sodat niks wat asemhaal, bly lewe het nie. Die stad self het hy afgebrand.
12Josua het ook al die stede van die ander konings ingeneem en die konings en die mense uitgeroei soos Moses, die dienaar van die Here, beveel het. 13Israel het egter nie die ou, gevestigde stede afgebrand nie. Dit is net Hasor wat deur Josua afgebrand is. 14Die Israeliete het die buit en die vee van die stede gevat, maar al die mense doodgemaak. Hulle het die mense heeltemal uitgeroei. Nie een het bly lewe nie. 15Wat die Here sy dienaar Moses beveel het, het Moses vir Josua beveel, en dit het Josua gedoen. Niks wat die Here vir Moses beveel het, is nagelaat nie.
Die gebied wat verower is
16Josua het die hele land ingeneem, die Bergland, die hele Suidland, die hele Gosengebied, die Laeveld, die Jordaanvallei en die Israelberge met hulle uitlopers. 17Die gebied het gestrek van Kaalberg af wat na Seïr toe oploop, tot by Baäl-Gad in die Libanonvallei onderkant Hermonberg. Josua het al die konings in dié gebied verslaan en doodgemaak. 18Hy moes lank teen hulle oorlog voer. 19Behalwe die Hewiete in Gibeon het nie een stad met die Israeliete vrede gemaak nie. Die Israeliete het hulle almal in gevegte verower. 20Dit was die Here wat hulle in verset laat kom het, sodat hulle teen Israel geveg het: hulle moes sonder genade uitgeroei word, uitgewis word, soos die Here vir Moses beveel het.
21In dié tyd het Josua ook die Enakiete in die berge, in Hebron, Debir en Anab, in al die Judaberge en in al die Israelberge uitgeroei. Hy het hulle saam met hulle stede uitgeroei, 22en daar het geen Enakiete in die gebied van die Israeliete oorgebly nie. Net in Gasa, Gat en Asdod was daar Enakiete oor.
23Josua het die hele land ingeneem soos die Here vir Moses beveel het, en toe die land as besitting aan Israel gegee, vir elke stam 'n deel.
Die land kon toe rus van oorlog.

Currently Selected:

JOSUA 11: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy