JOHANNES 12
AFR83

JOHANNES 12

12
Jesus word in Betanië met nardusolie gesalf
(Matt. 26:6-13; Mark. 14:3-9)
1Ses dae voor die paasfees het Jesus na Betanië toe gekom, waar Lasarus wat Hy uit die dood opgewek het, gewoon het. 2Daar het hulle vir Jesus 'n ete gegee. Marta het bedien, en Lasarus was een van dié wat saam met Hom aan tafel was. 3Toe het Maria 'n halfliter egte, baie duur nardusolie gebring en dit op Jesus se voete uitgegiet en sy voete met haar hare afgedroog. Die hele huis is deurtrek met die geur van die reukolie.
4Judas Iskariot, een van sy dissipels, die een wat Hom sou verraai, sê toe: 5“Waarom is hierdie reukolie nie vir drie honderd silwermuntstukke verkoop en die geld vir die armes gegee nie?”
6Dit het hy gesê, nie omdat hy hom oor die armes bekommer het nie, maar omdat hy 'n dief was. Hy het die beursie gehad en het van die bydraes gevat.
7Toe sê Jesus: “Laat staan haar. Sy moes dit hou vir hierdie dag om My te salf vir my begrafnis. 8Die armes het julle tog altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie.”
Die besluit om Lasarus ook dood te maak
9Baie van die Jode het verneem dat Jesus daar is en het daarheen gekom, nie net ter wille van Jesus nie, maar ook om vir Lasarus te sien wat Hy uit die dood opgewek het. 10Die priesterhoofde het toe besluit om ook vir Lasarus dood te maak, 11omdat baie van die Jode deur hom na Jesus toe oorgeloop en in Hom geglo het.
Die intog van Jesus in Jerusalem
(Matt. 21:1-11; Mark. 11:1-11; Luk. 19:28-40)
12Die volgende dag het die groot menigte mense wat na die fees toe gekom het, gehoor dat Jesus na Jerusalem toe kom. 13Hulle het palmtakke gevat en Hom tegemoet gegaan en uitgeroep:
“Prys Hom!
Loof Hom wat in die Naam
van die Here kom!”#Vgl. Ps. 118:26
en:
“Die Koning van Israel!”
14Jesus het toe op 'n jong donkie geklim wat Hy daar gekry het, soos daar geskrywe staan:
15“Moenie bang wees nie, Sion!
Kyk, jou Koning kom,
en Hy ry op 'n donkie.”#Vgl. Sag. 9:9
16Jesus se dissipels het hierdie dinge eers nie verstaan nie, maar nadat Hy verheerlik is, het hulle daaraan gedink dat wat daar geskrywe staan, op Hom betrekking gehad het en dat dit met Hom gebeur het.
17Die mense wat by Jesus was toe Hy vir Lasarus uit die graf geroep en hom uit die dood opgewek het, het gedurig daaroor gepraat. 18Daarom het die menigte vir Jesus tegemoet gegaan: hulle het gehoor dat Hy hierdie wonderteken gedoen het. 19Die Fariseërs het toe vir mekaar gesê: “Sien julle, julle rig niks uit nie! Kyk, die hele wêreld gaan agter hom aan!”
Die tyd van sy verheerliking het gekom
20Daar was ook 'n aantal Grieke onder die mense wat fees toe gekom het om te aanbid. 21Hulle het na Filippus, wat van Betsaida in Galilea afkomstig was, gegaan en vir hom gevra: “Meneer, ons wil Jesus graag ontmoet.”
22Filippus het gegaan en dit vir Andreas vertel. Andreas en Filippus gaan toe en sê dit vir Jesus. 23Daarop sê Jesus vir hulle: “Die tyd het gekom dat die Seun van die mens verheerlik moet word. 24Dít verseker Ek julle: As 'n koringkorrel nie in die grond val en sterwe nie, bly hy net een; maar as hy sterwe, bring hy 'n groot oes in. 25Wie sy lewe bo My liefhet, verloor dit; en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo My liefhet nie, sal dit vir die ewige lewe behou. 26As iemand My wil dien, moet hy My volg; en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees. As iemand My dien, sal die Vader hom eer.
27“Nou is Ek diep ontsteld. En wat moet Ek sê? Moet Ek sê: Vader, red My uit hierdie uur? Maar juis hiervoor het Ek gekom, vir hierdie uur. 28Vader, verheerlik u Naam!”
Toe het daar 'n stem uit die hemel gekom: “Ek het my Naam verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik.”
29Die mense wat daar gestaan en dit gehoor het, het gesê dat daar 'n donderslag was. Ander het gesê: “'n Engel het met hom gepraat.”
30Toe sê Jesus: “Hierdie stem het nie om my ontwil gekom nie, maar om julle ontwil. 31Nou kom die oordeel oor hierdie wêreld; nou sal die owerste van hierdie wêreld uitgegooi word buitentoe. 32En as Ek van die aarde af verhoog is, sal Ek almal na My toe trek.”
33Dit het Hy gesê en daarmee ook aangedui op watter manier Hy sou sterwe.
34Die mense sê toe vir Hom: “Ons het uit die Skrif geleer dat die Christus vir ewig gaan bly. Hoe sê u nou dat die Seun van die mens verhoog moet word? En hierdie Seun van die mens, wie is hy?”
35Toe sê Jesus vir hulle: “Nog net 'n kort tydjie is die lig by julle. Lewe in die lig terwyl julle dit het sodat die duisternis julle nie oorval nie. Wie in die duisternis lewe, weet nie waar hy gaan uitkom nie. 36Terwyl julle die lig het, moet julle in die lig glo, sodat julle mense van die lig kan wees.”
Dit het Jesus gesê en daarna van hulle af weggegaan en Hom skuil gehou.
Die gevolg van Jesus se optrede
37Alhoewel Jesus so baie wondertekens voor die mense gedoen het, het hulle tog nie in Hom geglo nie. 38So moes die woorde van die profeet Jesaja vervul word:
“Here, wie het geglo
wat ons gehoor het?
En aan wie is die mag van die Here
geopenbaar?”#Vgl. Jes. 53:1
39Waarom hulle nie kon glo nie, sê Jesaja ook elders:
40“God het hulle oë blind gemaak
en hulle verstand laat afstomp
sodat hulle nie met hulle oë kan sien
en met hulle verstand kan verstaan
en hulle bekeer
en Ek hulle gesond maak nie.”#Vgl. Jes. 6:10
41Jesaja het dit gesê omdat hy die heerlikheid van die Here gesien en oor Hom gepraat het.
42Nietemin het selfs baie van die lede van die Joodse Raad tog ook tot geloof in Hom gekom, maar uit vrees vir die Fariseërs het hulle dit nie openlik bely nie, sodat hulle nie uit die sinagoge geban sou word nie; 43want hulle het verkies om liewer deur mense geëer te word as deur God.
44Toe het Jesus uitgeroep: “Wie in My glo, glo nie net in My nie maar ook in Hom wat My gestuur het. 45En wie My sien, sien ook Hom wat My gestuur het. 46Ek het as die lig na die wêreld toe gekom, sodat dié wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie. 47En as iemand na my woorde luister en hom nie daaraan steur nie, veroordeel Ek hom nie, want Ek het nie gekom om die wêreld te veroordeel nie, maar om die wêreld te red. 48Wie My verwerp en nie my woorde aanneem nie, het reeds iets wat hom veroordeel: die woorde wat Ek gespreek het, sal hom op die laaste dag veroordeel. 49Ek het nie uit my eie gepraat nie, maar juis die Vader wat My gestuur het, het My opgedra wat Ek moet sê en wat Ek moet praat. 50En Ek weet dat sy opdrag die ewige lewe beteken. Wat Ek sê, sê Ek presies net soos die Vader dit vir My gesê het.”

Verskaf met die komplimente van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. © Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

Ondersteun ons en word ‘n saaier van hoop.

Learn More About Afrikaans 1983