YouVersion Logo
Search Icon

JESAJA 46:1-13

JESAJA 46:1-13 AFR83

Bel het ineengestort, dis klaar met Nebo! Julle gode wat deur julle rondgedra is, word nou op diere, op beeste gelaai. Hulle het 'n vrag geword vir moeë diere. Dit is klaar met julle gode, hulle het ineengestort, hulle kan hulle vrag nie dra nie en word self in ballingskap weggevoer. Luister na My, nageslag van Jakob, almal wat oor is uit die nageslag van Israel, julle vir wie Ek gedra het van julle geboorte af, wat Ek vasgehou het vandat julle daar is. Ook tot in julle ouderdom is Ek die Here, tot in julle grysheid sal Ek julle dra. Ek het julle gemaak en Ek sal julle vashou, julle dra en julle red. Met wie kan julle My vergelyk, aan wie kan julle My gelykstel, met wie kan julle My op een lyn stel, wie kan 'n vergelyking met My deurstaan? Mense gooi goud uit hulle geldsak uit en weeg silwer op 'n skaal af; hulle huur 'n goudsmid, en hy maak daarvan 'n afgodsbeeld. Dan buig hulle voor hom en aanbid hom. Hulle tel hom op hulle skouers en dra hom, hulle sit hom op sy plek neer en hy staan daar, hy kan nie van daardie plek af padgee nie. As iemand na hom roep, antwoord hy nie, hy help hom nie uit sy nood nie. Dink hieraan en luister, neem dit ter harte, julle oortreders. Dink aan wat vroeër gebeur het, lank gelede; Ek is God, daar is geen ander nie; Ek is God, daar is niemand soos Ek nie. Ek kondig vantevore aan wat later sal kom, lank tevore al wat nog nie gebeur het nie. Ek sê wat Ek besluit het en dit gebeur, wat Ek wil, doen Ek. Ek roep 'n roofvoël uit die ooste, uit 'n ver land roep Ek 'n man wat my besluit sal uitvoer. Ek het dit gesê, en Ek sal hom laat kom, Ek het dit beplan en Ek sal dit doen. Luister na My, julle hardkoppiges, julle wat geen redding verdien nie. Ek laat die redding naderkom, dit is nie meer ver nie, die verlossing wat Ek bring, sal nie lank uitbly nie. Ek bring verlossing vir Sion en openbaar my mag in wat Ek met Israel doen.

Free Reading Plans and Devotionals related to JESAJA 46:1-13

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy