YouVersion Logo
Search Icon

2 KRONIEKE 8

8
Salomo se administratiewe reëlings
(Vgl. 1 Kon. 9:10-28)
1Na afloop van die twintig jaar waarin Salomo die huis van die Here en sy eie paleis gebou het, 2het hy die stede wat Hiram aan hom oorgedra het, weer opgebou en Israeliete daar gevestig. 3Hy het na Hamat-Soba toe gegaan en dié ingeneem. 4Hy het Tadmor in die woestyn versterk, en ook al die voorraadstede wat hy in Hamat gebou het. 5Hy het Bet-Goron-Bo en Bet-Goron-Onder herbou, vestingstede met mure, poortdeure en sluitbalke; 6net so ook Baälat en al die voorraadstede wat hy besit het, die stede vir die strydwamagte en die berede magte. Verder het hy al die bouwerk waarop hy besluit het, voltooi in Jerusalem, op die Libanon en dwarsdeur die land waaroor hy geregeer het.
7Salomo het al die nie-Israeliete, die mense wat nog oor was van die Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, 8afstammelinge van dié wat nie deur die Israeliete uitgeroei is nie en nog oor was in die land, dwangarbeid laat doen. Dit is vandag nog so. 9Salomo het nie die Israeliete as arbeiders gebruik vir sy projekte nie, want hulle was die soldate en die aanvoerders van sy strydwabemannings, sy strydwamag en sy berede mag. 10Daar was ook nog die volgende getal uitvoerende beamptes oor wie koning Salomo beskik het: twee honderd en vyftig wat gesag oor die volk uitgeoefen het.
11Salomo het die dogter van die farao uit die Dawidstad laat trek na die paleis toe wat hy vir haar gebou het, “want,” het hy gesê, “'n vrou van my kan nie in die paleis van koning Dawid van Israel woon nie; dit is 'n heiligdom, want die ark van die Here het daar gestaan.”
12Salomo het brandoffers vir die Here gebring op die altaar van die Here wat hy reg voor die voorportaal gebou het. 13Die offers is gebring soos dit van dag tot dag moes gebeur volgens die voorskrif van Moses: op die sabbatte, die nuwemaansfeeste en die feestye drie maal per jaar, naamlik die fees van die ongesuurde brood, die fees van die weke en die huttefees. 14Salomo het, volgens die orde wat sy vader Dawid vasgestel het, vir die priesterafdeling hulle dienste bepaal en vir die Leviete hulle diensbeurte met die oog op die lofsang en die bystand aan die priesters soos dit van dag tot dag nodig was; so ook vir die afdelings poortwagte by elke poort. Dit is immers hoe Dawid, die man van God, dit voorgeskryf het. 15Hulle het ook nie afgewyk van die koninklike voorskrif vir die priesters en die Leviete ten opsigte van alles in verband met die voorraadkamers nie.
16So is al Salomo se werk afgehandel, van die dag af dat die fondamente van die huis van die Here gelê is totdat Salomo die tempel voltooi het.
17Daarna is Salomo na Esjon-Geber en na Elat toe, aan die see by Edom. 18Hiram het vir hom skepe gestuur en ervare seemanne onder bevel van hulle eie offisiere. Hulle het met die manne van Salomo saamgegaan na Ofir toe en daar sowat vyftien en 'n half ton goud vir koning Salomo gaan haal.

Currently Selected:

2 KRONIEKE 8: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy