YouVersion Logo
Search Icon

1 TIMOTEUS 1

1
1Van Paulus, 'n apostel van Christus Jesus in opdrag van God ons Verlosser en van Christus Jesus ons Hoop.
2Aan Timoteus, my eie kind in die geloof.
Genade, barmhartigheid en vrede van God die Vader en Christus Jesus ons Here!
Waarskuwing teen vals leerstellings
3Soos by my vertrek na Masedonië toe, dring ek nou weer by jou daarop aan om in Efese te bly. Daar is sekere mense wat vals leerstellings versprei, en jy moet hulle dit verbied. 4Hulle moet hulle nie met verdigsels en eindelose geslagsregisters besig hou nie. Sulke dinge gee eerder aanleiding tot twisgesprekke as dat dit die vorming bevorder wat God deur die geloof gee. 5Die doel van hierdie opdrag is om liefde te wek wat uit 'n rein hart, 'n goeie gewete en 'n opregte geloof kom. 6Daar is mense wat hiervan afgedwaal het en in 'n vrugtelose gepraat verval het. 7Hulle wil leermeesters in die wet wees, maar hulle verstaan nie hulle eie woorde of die dinge waaroor hulle so selfversekerd praat nie.
8Ons weet dat die wet goed is as 'n mens dit op die regte manier gebruik. 9'n Mens moet onthou dat die wet nie vir die wetsgehoorsame bedoel is nie, maar vir mense wat hulle nie aan wet en orde steur nie, goddeloses en sondaars, mense sonder eerbied vir wat heilig en gewyd is, dié wat vader of moeder doodmaak, moordenaars, 10ontugtiges, mense wat homoseksualiteit beoefen, ontvoerders, leuenaars, dié wat meineed pleeg of enigiets anders doen wat met die gesonde leer in stryd is. 11Die gesonde leer is in ooreenstemming met die evangelie wat aan my toevertrou is, die evangelie van die heerlikheid van die goeie God.
Dank vir die genade van God
12Teenoor Christus Jesus ons Here is ek dankbaar: Hy het my krag gegee en my betroubaar geag om my in sy diens te stel, 13al het ek Hom voorheen belaster, vervolg en beledig. Maar God was genadig teenoor my omdat ek in my ongeloof nie geweet het wat ek doen nie. 14Ons Here het my oorlaai met sy genade en met geloof en liefde wat ons deel is in Christus Jesus.
15Dit is 'n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste. 16Maar juis daarom was God my genadig sodat Christus Jesus aan my, as die grootste sondaar, al sy verdraagsaamheid sou betoon en ek 'n voorbeeld kon wees vir almal wat in die toekoms in Hom sou glo om die ewige lewe te verkry. 17Aan Hom wat vir ewig Koning is, die onverganklike, onsienlike, enigste God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.
18Hierdie opdrag gee ek aan jou, Timoteus, my kind, in ooreenstemming met die profesieë wat vroeër oor jou uitgespreek is. Met hierdie woorde in gedagte, moet jy die goeie stryd stry. 19Hou vas aan die geloof en behou 'n goeie gewete. Omdat sommige hulle gewete onderdruk het, het hulle geloof skipbreuk gely. 20Onder hulle is daar Himeneus en Aleksander, wat ek aan die Satan oorgegee het, sodat hulle daardeur kan leer om God nie te laster nie.

Currently Selected:

1 TIMOTEUS 1: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy