YouVersion Logo
Search Icon

1 SAMUEL 3

3
Die eerste openbaring aan Samuel
1Die seun Samuel het die Here gedien onder toesig van Eli. Die woord van die Here is in daardie tyd min gehoor, daar was nie dikwels openbarings nie. 2Eli se oë het al swak begin word, hy kon nie meer goed sien nie. Vroeg een môre het Eli nog op sy slaapplek gelê, 3en die lamp van God het nog helder gebrand. Samuel het ook nog gelê in die tempel van die Here waar die ark van God was, 4en toe roep die Here na Samuel.
Samuel het geantwoord: “Ek kom!”
5Hy het na Eli toe gehardloop en gesê: “Hier is ek, want u het my geroep.”
Maar Eli sê: “Ek het nie geroep nie! Gaan lê maar weer.”
En Samuel het gaan lê.
6Die Here het weer na Samuel geroep, en hy het opgestaan, na Eli toe gegaan en gesê: “Hier is ek, want u het my geroep.”
Toe sê Eli: “My seun, ek het nie geroep nie! Gaan lê maar weer.”
7Maar Samuel het nog nie die Here geken nie, want die woord van die Here was nog nie voorheen aan hom geopenbaar nie. 8Die Here het Samuel toe 'n derde keer geroep, en hy het opgestaan en na Eli toe gegaan en gesê: “Hier is ek, want u het my geroep.”
Toe besef Eli dat die Here die seun geroep het, 9en Eli sê vir Samuel: “Gaan lê en as iemand jou weer roep, sê jy: Praat, Here, u dienaar luister!”
Samuel het toe gegaan en op sy slaapplek gaan lê.
10Die Here het gekom en gaan staan en soos die vorige kere geroep: “Samuel, Samuel!”
En Samuel sê: “Praat, Here, u dienaar luister!”
11Die Here sê toe vir Samuel: “Ek gaan 'n ding in Israel doen wat elkeen wat daarvan hoor, se twee ore sal laat tuit. 12Op daardie dag sal Ek vir Eli alles voltrek wat Ek oor sy familie aangekondig het, van begin tot end. 13Ek het aan hom bekend gemaak dat Ek sy familie vir altyd gaan straf oor die ongeregtigheid waarvan hy geweet het. Ja, toe sy seuns die vloek oor hulle gebring het, het hy hulle nie bestraf nie. 14Daarom bevestig Ek met 'n eed aangaande die familie van Eli: die ongeregtigheid van Eli se familie sal sekerlik nooit deur diereoffer of graanoffer versoen word nie.”
15Daarna het Samuel gaan lê tot die oggend, en toe die deure van die huis van die Here oopgemaak. Hy was bang om die openbaring aan Eli te gaan vertel. 16Maar Eli het vir Samuel geroep en gesê: “Samuel, my seun!”
Hy het gesê: “Ek kom!”
17Eli sê toe: “Wat het die Here met jou gepraat? Moenie iets vir my wegsteek nie. God sal jou met die dood straf as jy iets van wat Hy aan jou bekend gemaak het, vir my wegsteek.”
18Toe vertel Samuel hom alles; hy het niks weggesteek nie.
En Eli het gesê: “Hy is die Here, laat Hom doen soos Hy wil.”
Samuel, 'n betroubare profeet
19Samuel het grootgeword. Die Here was by hom en het nie een van Samuel se woorde onvervul gelaat nie. 20Die hele Israel van noord tot suid het gemerk dat Samuel betroubaar was as profeet van die Here. 21Die Here het toe weer in Silo verskyn, want Hy het Hom in Silo aan Samuel geopenbaar deur die woord van die Here.

Currently Selected:

1 SAMUEL 3: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy