YouVersion Logo
Search Icon

1 SAMUEL 2:11-26

1 SAMUEL 2:11-26 AFR83

Daarna het Elkana na sy huis toe gegaan in Rama, terwyl die seun Samuel die Here bly dien het onder toesig van die priester Eli. Maar Eli se seuns was slegte mense; hulle het nie met die Here rekening gehou nie. Die reg van die priesters teenoor die volk was so: elke keer wanneer iemand 'n offer bring, kom die priester se slaaf met 'n drietandvurk in sy hand, en wanneer die vleis kook, steek hy die vurk in die kastrol of die bak of die pot of die pan. Alles wat die vurk optrek, vat die priester vir hom. Dit het hulle gedoen met al die Israeliete wat in Silo kom offer het. Maar nog voordat die vet aan die brand gesteek is, het 'n slaaf van die priester al gekom en aan die man wat offer, gesê: “Gee vleis om vir die priester te braai. Hy neem nie gekookte vleis van jou aan nie, net rou vleis.” As die man dan vir hom sê: “Laat hulle tog net eers die vet aan die brand steek, dan kan jy vir jou vat wat jy wil,” sê die slaaf vir hom: “Nee, jy moet dit nou gee, anders vat ek dit met geweld.” Hierdie sonde van Eli se seuns was baie groot in die oë van die Here, want daardeur het die mense hulle agting vir die offer van die Here verloor. Maar Samuel het die Here gedien. As 'n seun het Samuel al 'n linneskouerkleed gedra. Sy ma het elke jaar vir hom 'n manteltjie gemaak en dit vir hom gebring wanneer sy saam met haar man gegaan het om die jaarlikse offer te bring. Dan het Eli vir Elkana en sy vrou geseën en gesê: “Mag die Here jou uit hierdie vrou 'n nageslag gee in die plek van die seun wat van die Here afgesmeek is.” Daarna is hulle weer huis toe. Die Here het Hom oor Hanna ontferm, en sy het swanger geword en nog drie seuns en twee dogters gehad. Ondertussen het die seun Samuel voor die Here grootgeword. Eli was al baie oud. En wanneer hy alles hoor wat sy seuns aan al die Israeliete doen en dat hulle by die vrouens slaap wat diens doen by die ingang van die tent van ontmoeting, sê hy vir hulle: “Waarom doen julle sulke dinge dat ek aanhoudend by die hele volk moet hoor van julle slegte dade? Ag nee, my seuns, die gerugte wat ek verneem, is nie goed nie. Julle verlei die volk van die Here. Wanneer een mens teen 'n ander mens verkeerd optree, sal die regters die saak uitmaak, maar as 'n mens teen die Here sondig, wie sal dan die saak uitmaak?” Hulle het egter nie na hulle pa se vermaning geluister nie, want die Here het besluit om hulle dood te maak. Maar die seun Samuel het grootgeword en die Here en die mense was hom goedgesind.

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy