YouVersion Logo
Search Icon

1 KONINGS 7

7
Salomo se paleis
1Aan sy paleis het Salomo dertien jaar gebou voor hy heeltemal klaar was daarmee.
2Hy het ook die Libanonsbosgebou opgetrek, vyftig meter lank, vyf en twintig meter breed en vyftien meter hoog, op vier rye sederhoutpilare en met sederhoutbalke op die pilare. 3Bo-oor die verdiepings was daar 'n dak wat gerus het op vyf en veertig pilare, vyftien in 'n ry. 4Daar was drie rye vensters met kosyne, telkens drie vensters regoor mekaar. 5Al die deurkosyne was reghoekig en het lateie gehad. Daar was telkens drie deure regoor mekaar.
6Salomo het ook 'n pilaargang gebou, vyf en twintig meter lank en vyftien meter breed. Dit het 'n voorportaal aan die voorkant gehad, met pilare en 'n afdak voor.
7Salomo het ook 'n troonsaal ingerig, die regsaal, waar hy hofsake verhoor het. Dit was van die vloer af tot teen die dak met sederhout uitgevoer. 8Die gebou waar hy self gewoon het, was aan die binneplein agter die troonsaal en is op dieselfde manier gebou. Verder het hy 'n woonplek net soos die troonsaal gebou vir die farao se dogter met wie hy getroud was.
9Al die geboue van die fondament af tot teen die dak is opgerig van duursame klip wat volgens maat gekap en aan weerskante met die saag afgewerk is. Ook die gedeelte buitekant tot teen die groot voorhof is so gebou. 10Die fondamente was van groot, duursame klippe, klippe van vyf meter en vier meter. 11Bo-op was duursame klip, volgens maat gekap, en sederhout. 12Die mure van die groot voorhof rondom is gebou van drie lae gekapte klip en een ry sederhoutbalke, net soos die binneste voorhof van die huis van die Here en die voorportaal van die paleis.
'n Beskrywing van Hiram se werk
(Vgl. 2 Kron. 3:15-17; 4:2 – 5:1)
13Koning Salomo het die dienste bekom van Hiram van Tirus. 14Hiram was die seun van 'n weduwee uit die Naftalistam en sy pa was 'n Tiriër, 'n vakman in bronswerk. Hiram kon enige bronswerk met vaardigheid, insig en vernuf uitvoer. Hy het in diens van koning Salomo getree en alles gedoen wat dié hom opgedra het.
15Hiram het die twee bronspilare gegiet, nege meter hoog en ses meter in die omtrek. 16Hy het twee kapitele gemaak, in brons gegiet, om bo-op die pilare te sit. Elke kapiteel was twee en 'n half meter hoog. 17Daar was roosters met gevlegte kettingwerk aan die kapitele bo-op die pilare, sewe kettings aan elke kapiteel. 18Dit is hoe hy die pilare gemaak het. Op elke rooster teen die kapitele het hy rondom twee rye granate aangebring. 19Die kapitele bo-op die pilare by die voorportaal was in die vorm van blomkelke, twee meter hoog. 20Aan die bokant van die kapitele op die pilare net waar die kelke dikker word, teen die kante van die roosters, was rondom twee honderd granate in rye. 21Hiram het die pilare by die voorportaal van die tempel opgestel. Die een wat hy regs opgestel het, het hy Jakin genoem, en die een links Boas. 22Bo-op die pilare was die kapitele in die vorm van blomkelke. Daarmee was die werk aan die pilare afgehandel.
23Hy het ook die gegote waterbak gemaak, heeltemal rond, vyf meter in deursnee, twee en 'n half meter hoog, en met 'n omtrek van vyftien meter. 24Rondom onder die rand van die waterbak was twee rye kalbasse in reliëf, tien op elke halwe meter. Die kalbasse is saam met die waterbak in een stuk gegiet. 25Die waterbak het gerus op twaalf gegote beeste, drie na die noorde gerig, drie na die weste, drie na die suide en drie na die ooste. Die waterbak was bo-op hulle, en almal se agterkante was onder die bak in. 26Die wande van die waterbak was sowat nege sentimeter dik en sy rand was soos 'n beker se rand in die vorm van die kelk van 'n lelie. Dit kon vier en veertig kiloliter bevat.
27Hiram het tien waentjies van brons gemaak. Elke waentjie was twee meter lank, twee meter breed en een en 'n half meter hoog. 28Die waentjies is soos volg gemaak:
Hulle het sypanele gehad tussen die rame, 29en op die sypanele en die rame was daar leeus, beeste en gerubs. Bokant en onderkant die leeus en die beeste was kransies in reliëf. 30Elke waentjie het vier bronswiele gehad met brons-asse aan die vier voetstukke. Die waskom het gerus op staanders, gegiet met kransies aan die kante. 31Die opening aan die binnekant van die bostuk was 'n halwe meter diep. Die opening was rond en was saam met die raamwerk daarvan 'n driekwart meter in deursnee. Daar was ook graveerwerk rondom die opening. Die sypanele van die waentjies was vierkantig, nie rond nie. 32Die vier wiele was onder die sypanele, en die wiele se asse was aan die waentjie vas. Elke wiel was 'n driekwart meter in deursnee. 33Die wiele was gemaak soos strydwawiele, hulle asse en vellings en speke en nawe was alles van gietwerk. 34Die vier staanders aan die vier hoeke van elke waentjie het 'n geheel gevorm met die waentjie. 35Bo-op elke waentjie was daar 'n ronde staander, 'n kwart meter hoog, met plate aan die kante toegemaak. 36Hiram het op die plate van die staander en op die sypanele, oral waar daar plek was, gerubs, leeus en palms uitgesny, asook kransies rondom. 37So het hy die tien waentjies gemaak, gegiet in dieselfde vorm, almal eenders en ewe groot.
38Hy het tien waskomme van brons gemaak. Elkeen kon ag honderd en tagtig liter hou en was twee meter in deursnee. Daar was 'n waskom vir elkeen van die tien waentjies. 39Hy het vyf waentjies regs van die tempel gesit en vyf links. Die waterbak het hy regs van die tempel gesit, aan die suidoostekant.
40Hiram het die waskomme, die skoppe en die komme vir besprinkeling gemaak. So het hy al die werk afgehandel wat hy vir koning Salomo aan die huis van die Here moes doen: 41die twee pilare met die komvormige skywe, die kapitele bo-aan die twee pilare, en ook die roosters waarmee die skywe van die kapitele bo-aan die pilare toegemaak is; 42die vier honderd granate vir die twee roosters, 'n dubbele ry granate vir elke rooster waarmee die skywe van die kapitele bo-aan die pilare toegemaak is. 43Hy het ook die tien waentjies met die tien waskomme daarop gemaak, 44die waterbak met die twaalf beeste daaronder, 45die potte, die skoppe, die komme vir besprinkeling en al die toebehore van die heiligdom. Hiram het dit vir koning Salomo vir die huis van die Here gemaak van gepoleerde brons. 46Die koning het dit in die omgewing van die Jordaan, tussen Sukkot en Saretan, in kleivorms laat giet. 47Salomo het al die goed op hulle plekke laat sit. Daar is so baie brons gebruik dat dit nie geweeg kon word nie.
48Salomo het ook al die toerusting vir die huis van die Here laat maak: die goue altaar, die goue tafel vir die offerbrood; 49die kandelaars van suiwer goud, vyf regs en vyf links voor die binneste heiligdom; die blomkelke, die lampe en die goue pithouers; 50die bakke, die skêre, die komme vir besprinkeling, die panne en die vuurbakke, alles van suiwer goud. Ook die skarniere aan die deure van die binneste vertrek, die Allerheiligste, en dié aan die deure van die voorste heiligdom was van goud.
51Nadat al die werk wat koning Salomo aan die huis van die Here gedoen het, afgehandel was, het hy die gewyde gawes van Dawid, sy pa, ingebring. Die silwer en die goud en die toebehore het hy in die voorraadkamers van die huis van die Here gesit.

Currently Selected:

1 KONINGS 7: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy