1 SAMUEL 25
AFR83
25
Samuel se dood
1Samuel is oorlede, en die hele Israel het bymekaargekom en oor hom gerou. Hulle het hom begrawe by sy huis in Rama.
Nabal beledig vir Dawid
Dawid het klaargemaak en na die Paranwoestyn toe getrek. 2Daar was 'n man in Maon wat sy boerdery in Karmel gehad het, 'n baie ryk man. Hy het drie duisend skape en duisend bokke gehad. Hy was besig om sy skape in Karmel te skeer. 3Die naam van die man was Nabal en die naam van sy vrou Abigajil. Die vrou het 'n goeie verstand gehad en sy was mooi, maar die man was 'n regte korrelkop en onbeskof. Hy was 'n Kalebiet. 4Toe Dawid in die woestyn verneem dat Nabal skape skeer, 5het hy tien jong manne gestuur en vir hulle gesê: “Gaan na Karmel toe, en as julle by Nabal kom, moet julle hom namens my vra hoe dit gaan. 6En sê vir hom: Gesondheid en voorspoed vir u en u familie en alles wat u besit! 7Ek het verneem dat hulle besig is om by u te skeer. U skaapwagters was by ons en ons het hulle nie kwaad aangedoen nie. Hulle het niks vermis solank hulle in Karmel was nie. 8Vra maar u veewagters sodat hulle dit kan vertel. Wees dan tog my mense goedgesind. Ons het op die regte tyd gekom. Gee asseblief wat u kan afstaan aan u seun Dawid en sy manne.”
9Die jong manne van Dawid het gekom en Dawid se hele boodskap aan Nabal oorgedra en gewag. 10Maar Nabal het die manne van Dawid geantwoord: “Wie is Dawid, wie is die seun van Isai? Daar is deesdae baie slawe wat wegloop van hulle eienaars af. 11Moet ek nou my brood en water vat en die vleis wat ek vir my skeerders geslag het, en dit vir mense gee van wie ek nie weet waar hulle vandaan is nie?”
12Die jong manne van Dawid het net daar in hulle spore omgedraai en teruggegaan. Hulle het alles wat Nabal gesê het, vir Dawid gaan vertel.
13Dawid het toe aan sy manne gesê: “Gord aan julle swaarde!” En elkeen het sy swaard aangegord, Dawid ook. Omtrent vier honderd man het saam met Dawid opgetrek, terwyl twee honderd by hulle goed gebly het.
14Een van die veewagters het vir Abigajil, die vrou van Nabal, vertel: “Dawid het boodskappers uit die woestyn gestuur om vir Meneer te groet, maar hy het teen hulle uitgevaar. 15Tog was die manne baie goed vir ons. Solank ons saam met hulle in die veld rondgetrek het, is ons nie kwaad aangedoen nie, en het ons niks vermis nie. 16Hulle het ons dag en nag beskerm so lank as ons die kleinvee naby hulle opgepas het. 17Nou kan u gerus gou kyk wat u kan doen, want daar is klaar besluit om vir Meneer en sy hele huis te straf; en hy is so 'n verkeerde man dat 'n mens nie met hom daaroor kan praat nie.”
18Abigajil het gou twee honderd brode, twee kruike wyn, vyf gaargemaakte skape, vyf emmer gebraaide koring, honderd trosse rosyntjies en twee honderd koeke gedroogde vye gevat en op donkies gelaai.
19Sy het vir haar slawe gesê: “Gaan vooruit. Ek kom sommer nou agter julle aan.”
Aan haar man Nabal het sy niks hiervan vertel nie. 20Terwyl sy nog op die donkie ry en in 'n kloof teen die berg afgaan, kom Dawid en sy manne juis na haar kant toe aan, sodat sy hulle teëkom. 21Dawid het juis net gedink: ek het verniet alles wat aan daardie man behoort in die woestyn opgepas, sodat daar niks van sy goed vermis is nie. Hy vergeld my kwaad vir goed. 22Mag God my deur my vyande om die lewe bring as ek teen môreoggend nog enige manspersoon van Nabal laat oorbly.
23Toe Abigajil vir Dawid sien, het sy gou van die donkie af afgespring en vir Dawid eerbiedig gegroet. Sy het diep gebuig voor hom 24en gesê: “Verskoon tog die onreg, Meneer! Mag ek vertroulik met u praat? Luister tog na my woorde. 25Meneer moet hom tog nie steur aan daardie verkeerde mens, aan Nabal nie, want hy is net soos sy naam. Sy naam beteken dwaas, en dwaas is hy. Maar ek, ek het nie die manne van Meneer vir wie Meneer gestuur het, gesien nie. 26Meneer, so seker as die Here leef en so seker as wat u self leef, dit is die Here wat gekeer het dat u bloed vergiet en die reg in u eie hande neem. Mag dit met u vyande gaan soos dit met Nabal sal gaan en met almal wat u ondergang soek. 27Neem tog nou hierdie blyk van goeie wense wat ek vir Meneer gebring het, en laat dit gegee word aan die manne wat altyd vir Meneer volg. 28Vergewe tog my oortreding, want die Here sal beslis vir u 'n bestendige huis besorg, omdat Meneer die oorloë van die Here voer, en mag 'n ramp u nooit tref nie. 29En sou daar iemand opstaan om u te agtervolg en u te probeer doodmaak, mag die lewe van Meneer dan by die Here, u God, veilig wees saam met die lewendes. Maar mag die lewe van u vyande weggeslinger word soos 'n klip uit 'n slingervel. 30Wanneer die Here al die goeie dinge wat Hy oor u gesê het, aan Meneer volbring het, en Hy u as regeerder van Israel aangestel het, 31mag hierdie voorval dan nie vir u tot kwelling en gewetenswroeging wees omdat u onskuldige bloed vergiet het deur die reg in eie hande te neem nie. En wanneer die Here aan Meneer goed gedoen het, mag u my dan in gedagte hou.”
32Dawid het vir Abigajil gesê: “Geloof sy die Here die God van Israel wat jou vandag gestuur het om my te ontmoet. 33Mag jy geseën word vanweë jou insig en ook omdat jy my vandag verhinder het om bloed te vergiet en die reg in my eie hand te neem. 34Maar, so seker as die Here die God van Israel leef, Hy wat my gekeer het om jou kwaad aan te doen, as jy my nie gou tegemoet gekom het nie, sou daar beslis geen enkele manspersoon van Nabal tot die môrelig oorgebly het nie.”
35Daarna het Dawid die goed wat sy gebring het, aanvaar en vir haar gesê: “Wees gerus en gaan maar huis toe. Kyk, ek het jou versoek gehoor en ek staan dit toe.”
36Toe Abigajil by Nabal kom, het hy in sy huis 'n feesmaal gehad soos 'n koning. Nabal was opgeruimd en baie dronk. Voor die oggend met ligdag het sy hom hoegenaamd niks vertel nie. 37Die oggend het Nabal nugter geword, en toe sy vrou hom al hierdie dinge vertel, het hy 'n beroerteaanval gekry en is hy heeltemal verlam. 38Omtrent tien dae later het die Here hom weer met 'n aanval getref, en het hy gesterf.
Dawid trou met Abigajil
39Toe Dawid hoor dat Nabal dood is, het hy gesê: “Geloof sy die Here wat my regsaak behartig het oor die onreg wat Nabal my aangedoen het, en my van kwaad weerhou het. Die Here het Nabal se kwaad op sy eie kop laat afkom.”
Daarna het Dawid gestuur en met Abigajil laat praat om haar as vrou vir hom te neem. 40Die manne van Dawid het by Abigajil die Karmeliet gekom en vir haar gesê: “Dawid het ons na u toe gestuur om u as vrou vir hom te neem.”
41Sy het opgestaan en gebuig en gesê: “Ag nee, ek wil net 'n slavin wees om die voete van Meneer se manne te was.”
42Abigajil het toe gou klaargemaak en op 'n donkie gery terwyl haar vyf slavinne te voet gevolg het. Sy het die boodskappers van Dawid gevolg en sy vrou geword.
43Dawid was reeds met Aginoam uit Jisreël getroud. Hy het nou twee vrouens gehad. 44Saul het sy dogter Mikal, die vrou van Dawid, aan Palti die seun van Lajis uit Gallim gegee.

Verskaf met die komplimente van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. © Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Gebruik met toestemming. Alle regte voorbehou.

Ondersteun ons en word ‘n saaier van hoop.

Learn More About Afrikaans 1983