YouVersion Logo
Search Icon

1 SAMUEL 23

23
Dawid bevry Keïla
1Op 'n keer is aan Dawid vertel: “Die Filistyne veg teen Keïla en plunder die dorsvloere.”
2Dawid het die Here geraadpleeg: “Sal ek optrek en hierdie klomp Filistyne verslaan?”
Die Here het vir Dawid geantwoord: “Trek op en verslaan die Filistyne en bevry Keïla.”
3Maar die manne van Dawid sê: “O nee, ons verkeer hier in Juda alreeds in gevaar, hoeveel te meer as ons na die skanse van die Filistyne toe gaan by Keïla?”
4Dawid het weer die Here geraadpleeg, en die Here het geantwoord: “Maak klaar, trek op na Keïla toe, want Ek lewer die Filistyne aan jou oor.”
5Dawid en sy manne het toe opgetrek na Keïla toe en teen die Filistyne oorlog gemaak. Hy het hulle vee as buit saamgevat nadat hy hulle in 'n groot veldslag verslaan het. So het Dawid die inwoners van Keïla bevry.
Abjatar raadpleeg die Here vir Dawid
6Toe Abjatar seun van Agimelek na Dawid toe in Keïla gevlug het, het hy die skouerkleed saamgevat. 7Daar is toe aan Saul berig dat Dawid in Keïla gekom het, en hy het gesê: “God het Hom aan Dawid onttrek. Hy is nou in my hand, want deur in 'n stad met grendeldeure in te gaan, het hy homself toegesluit.”
8Saul het al die manskappe opgekommandeer vir die oorlog, om op te trek na Keïla toe en Dawid en sy manne te beleër. 9Maar Dawid het te wete gekom dat Saul hom wil aanval en hy het vir die priester Abjatar gesê: “Bring die skouerkleed hier.”
10Dawid het gesê: “Here, God van Israel, ek is u dienaar. Ek het verneem dat Saul na Keïla toe wil kom om die stad te verwoes omdat ek hier is. 11Sal die regeerders van Keïla my aan hom uitlewer? Sal Saul optrek soos ek verneem het? Here, God van Israel, lig my tog in.”
En die Here antwoord: “Ja, hy sal optrek.”
12Toe vra Dawid: “Sal die regeerders van Keïla my en my manne aan Saul uitlewer?”
Die Here het hom geantwoord: “Ja.”
13Dawid en sy manne, ongeveer ses honderd man, het klaargemaak, uit Keïla uitgegaan en heen en weer rondgetrek. Daar is ook aan Saul vertel dat Dawid uit Keïla ontsnap het en Saul het sy agtervolging gestaak. 14Daarna het Dawid in die woestyn in bergskuilings gaan woon. Hy het in die berge in die Sifwoestyn gewoon. Saul het hom die hele tyd gesoek, maar God het hom nie in Saul se mag oorgegee nie. 15Toe Dawid besef dat Saul steeds daarop uit is om hom dood te maak, is hy na Goresa toe in die Sifwoestyn.
Dawid en Jonatan vernuwe hulle verbond
16Jonatan seun van Saul het toe klaargemaak en na Dawid toe in Goresa gegaan en hom bemoedig in sy vertroue op God. 17Hy het vir hom gesê: “Moenie bang wees nie, want my pa sal jou nie in die hande kry nie. Jy sal koning word oor Israel, en ek sal onder jou staan. Selfs my pa weet dat dit so is.”
18Hulle twee het toe 'n verbond voor die Here gesluit. Dawid het in Goresa gebly, en Jonatan het huis toe gegaan.
Siffiete verklap Dawid
19Daarna het Siffiete na Saul in Gibea toe gegaan en gesê: “Dawid kruip by ons weg in die skuilplekke in Goresa, op die Gakilarant suid van die onherbergsame gebied. 20U Majesteit, as dit dan nou u begeerte is om op te trek, trek op en ons sal sorg dat hy aan u uitgelewer word.”
21Toe antwoord Saul: “Mag die Here julle seën omdat julle saam met my voel. 22Gaan dan nou, stel weer vas waar Dawid is, kyk goed en verken die plek: waar sy spore is en wie hom daar gesien het, want iemand het vir my gesê hy is baie uitgeslape. 23Gaan kyk en stel haarfyn vas waar hy oral skuil. Bring vir my sekerheid terug. Dan sal ek saamgaan. Indien hy nog in die land is, sal ek hom opspoor met al die afdelings van Juda.”
24Die Siffiete het klaargemaak en voor Saul uit na Sif toe gegaan. Dawid en sy manne was in die Maonwoestyn in die vlakte suid van die onherbergsame streek.
25Toe Saul en sy manskappe hom gaan soek, is dit aan Dawid vertel, en hy het na die kliprant toe gegaan, nog in die Maonwoestyn. Saul het dit verneem en Dawid in die Maonwoestyn agtervolg. 26Saul het aan die een kant van die berg langs gegaan, en Dawid en sy manne net aan die ander kant. En toe Dawid bang voor Saul wegvlug, terwyl Saul en sy manskappe al vir Dawid en sy manne begin omsingel om hulle te vang, 27kom daar 'n boodskapper by Saul en sê: “Maak gou en kom, want die Filistyne het die land ingeval.”
28Saul het opgehou om Dawid te agtervolg en het die Filistyne tegemoet gegaan. Daarom noem hulle die plek Skeidingsrant.

Currently Selected:

1 SAMUEL 23: AFR83

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy