YouVersion Logo
Search Icon

Openbaring 5

5
Die Leeu van Juda en die Lam van God
1Ek het weer na God op die troon gekyk. Nou het Hy in sy regterhand ’n boek gehou. Dit was van hoek tot kant vol geskryf, selfs op die buiteblad. Die boek was egter toe en verseël met sewe seëls. Niemand het dus geweet wat daarin staan nie. 2Toe sien ek ’n sterk engel. Hy roep toe hard uit dat almal kan hoor: “Wie is belangrik genoeg om die boek oop te maak? Wie mag die seëls breek?” Daar was niemand nie! 3Daar is oral gesoek; in die hemel, oral op die aarde en selfs onder die aarde. Daar was nie een wat die boek kon oopmaak en lees wat daarin staan nie. 4Toe ek sien hulle kan niemand kry nie, het ek in trane uitgebars.
5Een van die leiers van die kerk kom troos my toe: “Hou net dop wat gebeur. Niemand en niks kan die Leeu, uit die nageslag van Juda, wen nie. Hy is nie verniet ’n agteragterkleinkind van koning Dawid nie. Hy sal die seëls kan breek en die boek kan oopmaak.”
6Ek kyk toe weer mooi. My oë gly oor die troon en die vier lewende wesens tot tussen die leiers van die kerk wat daar sit. Daar, in die middel van almal, sien ek toe ’n Lam staan. Die snymerk oor sy keel asof Hy geslag was, het my dadelik opgeval. Al was Hy ’n lam, was Hy duidelik baie, baie sterk. Dit kon ek aan sy sewe horings sien. Hy het ook sewe oë gehad. Dit het beteken dat God se Gees self deur en saam met Hom werk. Daar is nie ’n plek in hierdie wêreld waar die Heilige Gees nie is nie. 7Toe loop die Lam na God se troon toe. Daar vat Hy die boek wat God in sy regterhand hou.
’n Groot erediens ter ere
van die Lam van God
8Dít het die hemel in beroering gebring! Nie slegs die vier lewende wesens nie, maar ook al 24 leiers van die kerk sak toe uit eerbied en aanbidding op hulle knieë voor die Lam neer. Elkeen van hulle het ’n goue musiekinstrument vasgehou. Hulle het ook goue bakke by hulle gehad. Uit die bakke het daar die lekkerste geur gekom. Ek kon sien dat dit die gebede van die Christene was wat vir almal in die hemel so lekker is om te hoor. Die vier wesens en die leiers van die kerk begin toe die pragtigste lied sing wat ek nog ooit gehoor het. 9Dit was die eerste maal dat hulle die lied gesing het.
“O, hoe groot en belangrik is U. U kan die boek vat en die seëls breek! U is mos soos ’n lam wat geslag is. U bloed, ja, u lewe, het U gegee sodat mense God se mense kon wees, maak nie saak waar hulle bly of watter taal hulle praat nie. 10U sorg dat hulle God as heerser oor almal erken. U maak dat hulle God met oorgawe, soos priesters, dien. Hulle sal ook eendag oor al die mense van hierdie wêreld heers.”
11Toe ek weer kyk, het ek derduisende engele gesien wat rondom die groepie leiers van die kerk, die vier lewende wesens en die troon staan. 12Hulle het in ’n massakoor hard gesing:
“Die Lam met die wond aan sy nek is die belangrikste onder die belangrikstes. Soek jy krag? Jy sal dit by Hom kry. En rykdom? Dit is by Hom. En die kuns om te leef? Gaan leer maar by Hom. By Hom is die mag en die belangrikheid en eer en lof, ja, sommer alles.”
13Toe hoor ek hoe alles in die skepping ook saam begin sing. Letterlik alles en almal, of hulle in die hemel, op aarde, onder die aarde of in die see was, het gesing. Selfs alles in die see het saamgesing. Die ganse heelal het gesing:
“Vir God wat op die troon sit en die Lam loof ons met al die goeie en mooi woorde wat ons ken. Al die eer en grootheid, al die krag is Hulle s’n vir ewig en altyd, sonder ophou.”
14Die vier lewende wesens het gesê: “Beslis, ja!” Die 24 leiers van die kerk het weer gekniel en God en die Lam aanbid.

Currently Selected:

Openbaring 5: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy