YouVersion Logo
Search Icon

Openbaring 3

3
Sardis - moenie die bietjie
Christelikheid wat nog oor is ook verloor nie
1Skryf die volgende brief aan die leier van die gemeente in Sardis: Dit is die boodskap van Jesus wat die ware Gees van God het; ja, Hy vir wie al die leiers van die gemeente werk.
Julle kan niks vir My wegsteek nie. Julle gee voor dat julle so ’n lewendige gemeente is. Almal is selfs aan die praat daaroor. Tog weet Ek dat julle geestelik morsdood is.
2Skrik wakker en ruk julle reg! Sorg dat julle die bietjie Christelikheid wat oorgebly het nie ook verloor nie. Werk hard daaraan! Ek is in alle geval baie seker daarvan dat my God allesbehalwe tevrede sal wees met die manier waarop julle nou aangaan. 3Dink ’n slag weer lank en diep na waaroor die Christelike boodskap presies gaan. En moenie net daaroor nadink nie; leef so! Draai weg van die verkeerde dinge af. Volg My weer voluit! En as julle julle nie hieraan steur nie en maar op julle ou manier voortgaan, wag daar ’n verrassing op julle. Ek sal na julle toe kom wanneer julle dit die minste verwag. Dan sal Ek julle geestelik vas aan die slaap betrap. 4Daar is tog ’n paar uitsonderings onder julle daar in Sardis. Ek praat van die mense wat nog nie in die modder van die sonde baljaar het nie. Hulle geestelike klere is nog mooi skoon. Vir sulke mense het Ek respek. Hulle kan maar oral saam met My in hulle mooi, skoon klere stap.
5Wie nie as Christen moed verloor en opgee nie, sal sulke mooi, skoon, wit klere kry om aan te trek. Sy naam is met onuitwisbare ink in die boek van die lewe geskryf. Almal wat die ewige lewe het, se name staan daarin geskryf. En Ek sal mooi dinge van elkeen van hulle persoonlik vir God en sy engele vertel.
6Luister aandagtig na wat die Heilige Gees alles vir die Christene te sê het.
Filadelfia - leef soos Ek van julle verwag
7Skryf die volgende brief aan die leier van die gemeente in Filadelfia: Hier is ’n boodskap vir julle. Dit kom van Jesus af wat nie een stukkie valsheid of leuen in Hom het nie. God is die fokus van sy hele lewe. Hy het die sleutel van Dawid om vir mense die deur na die nuwe Jerusalem oop te sluit of toe te sluit. Waar Hy toesluit, kan niemand oopmaak nie en waar Hy oopsluit, kan niemand toemaak nie.
8Ek weet waarmee julle julle besig hou. Kyk mooi. Ek het vir julle ’n deur oopgemaak. Niemand kan dit toemaak nie. Julle invloed in Filadelfia is maar klein. Ek weet dit! Maar dit bring julle nie van stryk nie. Julle leef soos Ek van julle vra. Boonop is julle nie skaam of bang om te erken dat julle Christene is nie.
9Kyk! Daar is mos mense in julle dorp wat hulleself graag Jode noem en voorgee dat hulle deel is van God se mense. Maar waar kry jy hulle? Natuurlik, op die plek waar net die duiwel se mense bymekaarkom. Ek sal persoonlik sorg dat hierdie mense wat so baie van hulleself dink eendag voor julle sal moet kom staan. Daar voor julle sal hulle op hulle knieë moet val en laag moet buig. Een ding sal hulle dan deeglik besef: dat Ek aan julle kant is omdat Ek julle liefhet. 10Ek het julle gevra om nie moed te verloor nie en julle het regtig vasgebyt tot die einde toe. God sal in ’n stadium elke mens op hierdie aarde toets. Daar gaan dinge gebeur wat swaar is. In hierdie baie moeilike tye kan elke gelowige maar weet: Ek sal na hom kyk!
11Ek kom een van die dae na julle toe. 12Hou vas aan wat julle het sodat niemand julle dalk pootjie op julle pad om geestelike wenners te wees nie. Vir ’n geestelike wenner wag daar ’n groot beloning. Hy sal vir ewig en altyd naby God self wees. In God se huis self sal hy ’n baie belangrike plek hê.
Ek sal name op julle skryf om te wys wie julle regtig is en aan wie julle behoort. Die eerste naam is die Naam van my God. Dan sal Ek die naam van die stad van God opskryf. (Hier verwys ek na die nuwe Jerusalem. Dit is uiteindelik God se groot gawe uit die hemel vir ons.) Die derde naam sal my eie Naam wees.
13Wie kan hoor, laat hom luister na wat die Heilige Gees vir die Christene te sê het.
Laodisea - die louwarm Christene
14Skryf die volgende brief aan die leier van die gemeente in Laodisea: Die Een wat waarborg dat dinge sal wees soos dit moet wees, het vir julle ’n boodskap. Wat Hy sê, kan julle maar glo, en alles wat Hy sê of doen, is waar. Dit is soos God dit wil hê. Jesus is die Een wat die skepping van God aan die gang gesit het. Dit is Hy wat nou met julle praat.
15Julle kan niks vir My wegsteek nie. Ek weet wat julle doen en Ek is glad nie tevrede nie. Julle is nie koud nie, maar ook nie warm nie. Was julle tog maar een van die twee! 16Nou is julle so tussenin, so louerig. Ek hou niks daarvan nie. Om die waarheid te sê, as julle so aanhou, sal Ek later niks meer met julle te doen wil hê nie. 17Julle is nogal die mense wat dit waag om te spog. “Kyk hoe ryk is ons,” sê julle. “Kyk hoe gaan ons vooruit. Ons het niks van iemand nodig nie, want kyk net wat het ons alles!”
Ai, al hierdie gespog maak dat julle heeltemal blind is vir hoe pateties dit regtig met julle gaan. ’n Mens wil eintlik sommer oor julle aan die huil gaan. Kyk net hoe lyk julle: julle is geestelik brandarm en bankrot. Boonop besef julle dit nie eens nie, want julle is soos blindes. 18Laat Ek julle goeie raad gee: kom koop geestelike goud by My en kom vind uit hoe dit voel om iets te hê wat regtig die moeite werd is. Kom kry by My behoorlike, geestelike klere en trek dit aan. Dan hoef julle nie meer uit verleentheid te probeer wegsteek dat julle eintlik geestelik kaal is nie. Ek het ook net die regte medisyne om op julle oë te sit sodat julle geestelik weer kan sien wat julle behoort te sien. 19Mense vir wie Ek regtig omgee, help Ek reg. Ek wys vir hulle wat Ek van hulle verwag.
Soms moet Ek hulle op die regte pad hou op maniere wat nie vir hulle lekker is nie. Maar Ek doen dit uit liefde sodat hulle goeie Christene kan bly.
Nou toe, Ek praat ook met julle. Sit skouer aan die wiel. Los al die afdraaipaadjies en stap net agter God aan.
20Kyk mooi na My. Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand dit hoor en die deur oopmaak, sal Ek instap na hom toe. Ons sal saameet soos baie goeie vriende behoort te doen.
21Die Christen wat hom nie van stryk laat bring nie, maar enduit aanhou, sal voor God ’n ware wenner wees. Ek sal sorg dat hy langs My op die troon sal sit. Ek het alles presies gedoen soos my Vader van My verwag het. Daarom is Ek ’n wenner wat nou langs my Vader op sy troon sit.
22Wie kan hoor, moet goed luister na wat die Heilige Gees vir al die Christene te sê het.

Currently Selected:

Openbaring 3: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy