YouVersion Logo
Search Icon

Psalms 49

49
1Vir die hoof van die koor. ’n Psalm van die Koragiete
2Luister, luister! Maak oop julle ore, alle mense wat op aarde woon.
3Julle almal, ryk en arm, moet nou mooi luister. Niemand is uitgesluit nie.
4Ek wil vir julle wyse dinge sê wat vertel dat ek groot insig het.
5Ek het goed nagedink oor wat ek nou vir julle sê;
op die maat van musiek praat ek met julle oor God se geheime.
6Hoekom sal ek bang wees wanneer skelm mense my lewe bedreig?
7Hoekom sal ek omgekrap wees as geldgierige mense my probeer te kort doen? Hulle spog oor hulle baie skatte. Hulle vertrou op hulle besittings om hulle te red.
8God kan nie daarmee omgekoop word nie. Jy kan nie jou lewe van die dood red deur te probeer betaal nie.
9’n Mens se lewe is baie meer werd as geld. Niemand kan genoeg geld hê om vir sy lewe te betaal nie.
10Geld kan jou nie uit die kloue van die dood red nie. Jy kan nie die ewige lewe koop nie.
11Almal weet dit tog: slim mense én dwase mense gaan uiteindelik dood.
Alles wat hulle bymekaargemaak het, bly hier agter.
12Hulle nuwe adres: die dood! Daar trek hulle nooit weer weg nie.
Niemand leef vir altyd nie, al het so ’n mens ook baie eiendom besit.
13Nie eens die grootste rykdom verseker ’n lang lewe nie.
Op die ou end gaan ons almal dood, net soos die diere in die veld.
14Die dood wag vir mense wat op hulleself vertrou, vir mense wat baie van hulleself dink.
15Soos ’n klomp skape storm hulle agter die dood aan. Die dood pas hulle op.
In die doderyk verdwyn hulle binne ’n sekonde.
Al wat van hulle oorbly, is ’n verlate grafsteen êrens in ’n begraafplaas. Niks bly oor van alles waarop hulle vertrou het nie.
16Ek glo dat God my nooit in die kloue van die dood sal laat beland nie.
Hy sal my daar uithaal en reguit na Hom toe vat.
17Hoekom dan bekommerd wees oor ryk mense, as hulle al meer kry?
18Al hulle geld bly hier agter as hulle die dag doodgaan. Hulle vat niks saam nie.
19Wat help dit dat hulle die hele wêreld aan hulle voete het met hulle baie geld? Wat help dit dat jy bly is oor al jou voorspoed, of ons mense jou prys oor jy so goed is?
20Op die ou end stap hulle met leë hande uit hierdie wêreld uit.
Net soos almal voor hulle gaan hulle dood.
En in die graf sien hulle nooit weer die lig nie.
21Ryk mense wat nie die Here dien nie, is dom.
Hulle sal soos diere doodgaan.

Currently Selected:

Psalms 49: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy