YouVersion Logo
Search Icon

Filemon 1

1
1Van Paulus.
Ek is op die oomblik in die tronk omdat ek die goeie nuus oor Jesus Christus bekendmaak. Timoteus, my broer in die Here, is ook hier by my.
Ek skryf hierdie brief aan jou, Filemon, my liewe vriend wat saam met my in die Here se diens staan.
2En ook aan Affia, ons suster in die Here.
En aan Argippus, wat hard saam met ons veg in die Here se werk.
Ook aan almal in die gemeente wat gereeld daar in jou huis bymekaarkom.
3God ons Vader en die Here Jesus Christus skenk aan julle almal genade en vrede.
Paulus se dankgebed vir sy vriend
4Filemon, ek dink gedurig aan jou en ek bid so baie vir jou. Ek sê elke keer vir God baie dankie wanneer ek aan jou dink, want ek hoor net die wonderlikste dinge van jou. 5Almal praat van jou onverskrokke geloof in die Here Jesus en van jou liefde vir Hom en vir ander gelowiges.
6Ek bid dat jou verhouding met my as jou broer in die geloof jou nog meer sal laat besef watter goeie dinge God aan ons geskenk het. Dit is ons deel omdat ons in Christus glo.
7My liewe vriend, jou liefde vir ander Christene is vir my ’n riem onder die hart. Dit bring groot vreugde en troos vir my. Jy het al so baie beteken vir mense wat God dien.
’n Slaaf verander in ’n kind
8Filemon, ons albei glo in Christus. Daarom sou ek jou kon beveel om te doen wat ek jou nou wil vra. 9Tog verkies ek om eerder by jou te pleit om na my versoek te luister omdat ons albei die Here liefhet. Ek, Paulus, doen dit as ’n ouer persoon wat jou respek waardig is, en ook as iemand wat boonop in die tronk is ter wille van Christus Jesus.
10My versoek gaan oor Onesimus, my kind in die geloof. Hier in die tronk het ek sy pa in die Here geword toe hy tot bekering gekom het.
11Vroeër kon jy nie veel met hom uitrig nie, maar nou het alles verander. Van nou af gaan hy sommer baie vir my en jou beteken. 12Daarom stuur ek hom na jou toe terug. Dit voel vir my of ’n deel van my hart uitgeruk is en saam met hom teruggaan.
13Ek sou Onesimus bitter graag hier by my wou hou. As hy hier gebly het, kon hy my in jou plek bygestaan het. Want, soos jy weet, gaan my sendingwerk voort selfs terwyl ek ter wille van die evangelie in die tronk is. 14Maar ek wou hom nie sonder jou toestemming hier hou nie. As ek Onesimus hier gehou het, sou jy verplig gewees het om dit so te aanvaar, maar dan sou ek nie reg opgetree het nie. Jy moet self daaroor besluit.
Jou werker is nou jou broer
15Dit is eintlik goed dat jy Onesimus so ’n rukkie lank verloor het. Nou kry jy hom vir altyd terug. En gelukkig ook op ’n heeltemal ander manier as wat jy gedink het. 16Nie meer as ’n slaaf nie. Nee, hy is nou baie meer as dit. Jy kry Onesimus nou terug as jou broer in die Here; as iemand vir wie jy baie lief moet wees. Onesimus was ’n wonderlike broer vir my terwyl hy saam met my in die tronk was; hoeveel te meer sal hy dit nie vir jou wees nie. Jy kry nou ’n splinternuwe mens en ’n broer in die Here terug.
17Filemon, as jy my as jou vriend en medestryder in die evangelie beskou, moet jy Onesimus ook as jou vriend beskou. Ontvang hom presies net soos jy my sou ontvang.
18As hy vroeër iets daar by jou gevat het, of as hy jou nog enige geld skuld, moet jy dit maar op my rekening sit. 19Daarom skryf ek, Paulus, hier groot en duidelik: “EK SAL ALLES BETAAL.”
Terloops, voordat jy rekenings begin uitskryf, ek hoef jou seker nie te herinner aan wat jy my nog alles skuld nie, of hoe? Jy is jou ganse nuwe lewe as gelowige aan my verskuldig.
20My liewe broer in die Here, bewys my tog hierdie groot guns. Neem Onesimus met oop arms terug. Ek vra dit nie ter wille van myself nie, maar ter wille van die saak van die Here. As jy dit doen, sal my hart oorloop van vreugde as jou broer in Christus.
Gelowiges is bereid om op te offer
21Filemon, ek vertrou jy sal doen wat ek jou vra; daarom dat ek hierdie brief aan jou skryf. Eintlik weet ek dat jy nog baie meer sal doen as wat ek van jou vra.
22Jy kan ook solank jou gastekamer vir my begin gereedmaak. Binnekort kom ek weer daar na julle toe. Julle bid mos lankal tot God dat ek vrygelaat word en weer na julle toe kom.
Groete
23Epafras, wat ook hier saam met my in die tronk sit ter wille van sy geloof in Christus Jesus, stuur groete vir jou. 24So ook my helpers: Markus, Aristargos, Demas en Lukas.
25Ons Here Jesus Christus se goedheid is by elkeen van julle.

Currently Selected:

Filemon 1: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy