YouVersion Logo
Search Icon

Job 1

1
1Daar was ’n man met die naam Job wat in die land Us gebly het. Hy het ’n skoon en eerlike lewe geleef. Hy het God gedien en het nie verkeerde dinge gedoen nie. 2Hy het sewe seuns en drie dogters gehad. 3Verder het hy ook 7 000 skape, 3 000 kamele, 1 000 beeste en 500 donkies gehad. ’n Groot klomp slawe het ook vir hom gewerk. Om die waarheid te sê, hy was die rykste mens in die hele Ooste.
4Job se seuns het beurte gemaak om by hulle huise partytjies te hou. As hulle so ’n partytjie gehou het, het hulle hulle drie susters genooi om saam te kom eet en drink. 5Hierdie partytjies het partykeer ’n paar dae aangehou. Ná so ’n fees was Job altyd bekommerd dat sy kinders dalk iets verkeerds gedoen het. Hy was bang dat hulle dalk iets gedoen of gedink het wat God sou kon beledig. Hy het hulle laat haal en dan gesorg dat hulle regmaak teenoor die Here wat verkeerd is. Hy sou vroeg in die môre opstaan en namens elkeen van sy kinders ’n offer aan die Here bring. Hy wou hulle posisie reg hou by die Here. Job het dit na elke partytjie gedoen.
Job se eerste toets
6Op ’n dag het die inwoners van die hemel na die Here toe gekom. Die Satan was saam met hulle daar. Hy het mense gewoonlik aangekla. 7Die Here het vir hom gevra: “Waar kom jy vandaan?”
Satan het geantwoord: “Ek het heen en weer en kruis en dwars oor die aarde rondgegaan.”
8Die Here het toe vir die Satan gevra: “Het jy miskien vir Job raakgesien? Hy behoort aan My en doen net wat Ek hom vra om te doen. Op die hele aarde is daar nie ’n mens wat sy gelyke is nie. Hy lei ’n skoon en eerlike lewe. Hy doen ook nie verkeerde dinge nie. Hy dien My en hy bly van slegte en verkeerde goed af weg.”
9Satan het die Here geantwoord: “Ja, Job dien U, maar nie om dowe neute nie. Hy wil iets daaruit kry. 10U het hom en sy huisgesin en alles wat hy het nog altyd beskerm. U sorg dat hy ’n sukses maak van alles wat hy doen. Sy rykdom word net meer en meer. 11Maar waag dit net om aan sy goed te vat en kyk wat sal gebeur. Hy sal U in u gesig slegsê!”
12Die Here het toe vir Satan gesê: “Dit is reg so, jy kan met sy goed maak net wat jy wil. Maar van Job hou jy jou hande af!” Die Satan het toe van die Here af weggegaan.
13Op ’n dag was Job se kinders weer bymekaar in die oudste seun se huis. Hulle het saam geëet en wyn gedrink.14Terwyl hulle besig was om so saam te kuier, het ’n boodskapper by Job se huis aangekom. Hy het gesê: “Ons was besig om die land met osse te ploeg. Die donkies het daar by ons gestaan en wei. 15Die volgende oomblik het die Sabeërs op ons toegesak. Hulle het die diere gesteel en die werkers doodgemaak. Ek is die enigste een wat weggekom het om vir u te kom vertel wat daar gebeur het.”
16Terwyl die man nog besig was om te praat, het daar ’n tweede boodskapper met nog nuus aangekom. Hy het gesê: “Die weerlig het geslaan en al die skape en die wagters is raak geslaan. Hulle is op die plek dood. Ek is die enigste een wat oorleef het om vir u te kom vertel wat daar gebeur het.”
17Terwyl hierdie boodskapper nog besig was om te praat, het ’n derde een met nuus opgedaag. Hy het gesê: “Die Babiloniërs het met drie bendes toegeslaan. Hulle het die kamele gesteel en u oppassers doodgemaak. Ek is die enigste een wat ontsnap het om vir u te kom vertel wat daar gebeur het.”
18Hierdie derde boodskapper was nog besig om te praat toe nog een met nuus daar aankom. Hy het gesê: “U kinders was besig om saam te eet en te kuier in u oudste seun se huis toe ’n ramp hulle tref. 19’n Baie sterk wind het van die woestyn af gewaai. Dit het die huis met mening van alle kante af getref. Die wind het die huis omgewaai en dit het bo-op u kinders geval. Hulle is almal dood. Ek is die enigste een wat oor is om vir u te kom vertel wat daar gebeur het.”
20Toe Job die slegte nuus hoor, het hy begin rou. Hy het opgestaan en sy klere geskeur. Hy het ook al sy hare afgesny. Toe het hy neergeval en met sy gesig teen die grond gaan lê. 21Hy het gesê: “Toe ek gebore is, het ek met niks in hierdie wêreld ingekom nie. As ek uit hierdie wêreld uitgaan, sal ek weer sonder enigiets weggaan. Wat ek het, het die Here vir my gegee. Die Here het dit ook weer weggevat. Die Here moet geprys word!”
22Ten spyte van alles wat gebeur het, het Job nie verkeerd gedoen nie. Hy het God ook nie blameer vir wat gebeur het nie.

Currently Selected:

Job 1: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy