YouVersion Logo
Search Icon

Jesaja 52

52
Die Here bring sy volk terug na Jerusalem
1Word wakker. Staan op, Sion. Berei jou voor. Maak jouself mooi, Jerusalem. Jy is die stad wat aan die Here behoort. Heidene wat nie aan die Here behoort nie, mag nooit weer in jou kom nie. 2Skud die stof van jou af. Staan op uit die grond. Jy is nie meer ’n gevangene nie. Haal af die boeie om jou nek. Jy is nie meer in die tronk nie, Sion. 3Die Here sê: Toe julle weggevoer is, het Ek julle slawe laat word. Julle is gevange geneem en nie gekoop nie. Wanneer julle bevry word, sal dit ook nie wees omdat daar met geld vir julle betaal is nie.
4Die Here sê: My volk het vroeër Egipte toe gegaan en tydelik daar gaan bly. Later was Assirië oor hulle baas. 5En wat gebeur nou? vra die Here. My volk is sommer net so weggevoer. Dié wat oor hulle regeer, spot met hulle en maak my Naam aanhoudend sleg.
6Ek sal my volk leer om my Naam te herken. As Ek die dag met hulle praat, sal hulle dadelik weet dit is die Here wat met hulle praat. 7Dit sal wonderlik wees wanneer iemand van die berge af die goeie nuus uitroep. Hy sal die wonderlike nuus bring van vrede en van bevryding. Hy sal vir Sion sê: “Jou God regeer!” 8Die wagte wat op die mure van die stad waghou, sal hardop uitroep. Hulle sal almal saam van vreugde skreeu. Hulle sal voor hulle oë sien hoe die Here terugkom na Sion toe. 9Die murasies van Jerusalem sal saam skreeu en met blydskap juig. Die Here het sy volk jammer gekry. Die Here maak Jerusalem weer vry. 10Die Here wys vir al die nasies hoe geweldig sterk Hy is. Tot in die verste uithoeke van die aarde sien hulle hoe God ons uitred.
Kom terug van Babel af
11Gee pad uit Babel uit. Kom weg daar. Moenie aan iets vat wat vir die Here onaanvaarbaar is nie. Dié wat die tempelgereedskap dra, moet hulle afsonder vir die Here. Hulle moet wegkom uit Babel uit. 12Julle hoef nie halsoorkop pad te gee nie. Julle hoef ook nie soos destyds uit Egipte te vlug nie. Die Here self sal voor julle uitgaan. Hy sal julle van agter af beskerm.
Die man wat Israel bevry
13Die man wat Ek stuur om julle te bevry, sal dit regkry. Hy sal beroemd word. 14Baie was ontsteld toe hulle hom sien. Hy was aaklig vermink. Hy het nie meer soos ’n mens gelyk nie. 15Nogtans gaan baie nasies verstom staan oor wat hy kan doen. Konings gaan sprakeloos wees oor hom. Hulle gaan iets sien waarvan niemand hulle nog ooit vertel het nie. Hulle gaan iets beleef waarvan hulle selfs nog nie eens gehoor het nie.

Currently Selected:

Jesaja 52: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy