YouVersion Logo
Search Icon

Hebreërs 13

13
Praktiese Christenskap
1Julle moet in liefde lojaal bly teenoor mekaar soos broers dit doen. 2Wees gasvry, want dit het al gebeur dat mense hemelse wesens vriendelik ontvang het sonder om eens agter te kom wat hulle regtig was. 3Moenie die mense wat in die tronk is, vergeet nie. Dit moet vir julle wees asof julle self in die tronk is. Net so moet julle meegevoel hê met die mense wat sleg behandel word en swaarkry, asof dit julle self is met wie dit gebeur.
4Mense wat getroud is, moet die huweliksband respekteer en mag nie rondslaap nie. God self sal afreken met mense wat rondslaap of seksueel verkeerde dinge doen. 5Wees tevrede met wat julle het en moenie heeltyd agter geld aanhardloop asof dit die belangrikste ding in julle lewe is nie. God het mos gesê: “Ek sal jou nooit alleen los nie en Ek sal jou nooit in die steek laat nie.” 6Daarom kan ons met vertroue sê: “Die Here is die Een wat my help. Ek hoef vir niks bang te wees nie. Buitendien, wat kan ’n mens aan my doen?”
7Moenie die geestelike leiers vergeet wat die boodskap van God aan julle vertel het nie. Kyk hoe hulle geleef het tot hulle dood is en vertrou dan op die Here net soos hulle op Hom vertrou het.
8Jesus Christus bly immers dieselfde. Soos Hy gister was, is Hy vandag en sal Hy môre ook wees.
God gee jou geestelike krag
9Moenie luister na allerhande verkeerde dinge wat jou op ’n dwaalspoor kan bring nie. Jou geestelike lewe kry krag uit die onverdiende goedheid van God; nie uit al die spesiale kosse en eetgebruike nie. Hierdie gebruike help ’n mens eintlik niks nie. 10Ons het mos ’n nuwe altaar. Die priesters van die ou ooreenkoms het nie die voorreg om saam met ons rondom die nuwe altaar fees te vier nie.
11Volgens die ou ooreenkoms het die hoëpriester altyd die bloed in die Heiligste deel ingebring, terwyl die dooie diere buite die blyplek van die mense verbrand is. 12So is Jesus ook buite die stad dood, sodat Hy mense met sy bloed vir God aanvaarbaar kon maak. 13Laat ons dan na Jesus toe gaan daar buite die stad, al moet ons net so bespot en verag word soos Hy. 14Ons eintlike plek waar ons gaan bly, is mos nie op aarde nie, maar ons sien uit na die blyplek wat aan die kom is. 15Laat ons God daarom gedurig prys en mooi dinge oor Hom sê omdat Jesus dit vir ons moontlik maak. Dít moet mense doen wat openlik sê dat hulle aan God behoort.
16Onthou ook om goed te wees vir ander mense. Gee ook vir hulle van dit wat jy het. God hou daarvan as ons so maak.
Luister en bid
17Luister wat julle geestelike leiers sê en doen wat hulle vra. Hulle moet julle geestelik oppas en moet vir God kan verduidelik hoe hulle dit gedoen het. Moenie dit vir hulle swaar maak nie, want dit sal julle niks in die sak bring nie. Luister liewer na hulle en maak dit vir hulle lekker om geestelike leiers te wees.
18Bid vir ons. Niks pla ons nie, want ons probeer ons bes om altyd die regte pad te loop. 19Vra God veral of Hy my nie weer gou na julle toe sal laat kom nie.
20God het ons Here Jesus uit die dood laat opstaan. Deur die bloed van hierdie Jesus het daar ’n nuwe ooreenkoms tussen God en ons tot stand gekom. Die ooreenkoms sal vir ewig en altyd bly staan. Hierdie Jesus is ook die groot Herder wat na sy skape kyk. 21Mag hierdie God van vrede julle alles gee wat julle nodig het sodat julle kan doen wat Hy van julle verwag. Mag Hy deur Jesus in ons lewe dinge doen waarop Hy trots kan wees. Aan Jesus behoort die eer en grootheid vir ewig en altyd. Amen.
Ek wil julle moed inpraat
22My liewe vriende, ek vra julle baie mooi: neem tog asseblief die brief ernstig op, want dit is nie ’n lang brief nie. Ek het dit spesiaal geskryf om julle moed in te praat.
23Julle het seker ook al gehoor dat ons geestelike broer Timoteus uit die tronk is. As hy nie te lank draai om hier by my uit te kom nie, sal ek saam met hom na julle toe kom.
24Groete aan al die leiers en al die ander Christene. Die Christene wat van Italië af kom en hier by my is, stuur ook vir julle groete.
25Mag God goed wees vir julle, meer as wat julle ooit verdien.

Currently Selected:

Hebreërs 13: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy