YouVersion Logo
Search Icon

Spreuke 9

9
Wysheid nooi almal uit
1Wysheid het vir haar ’n mooi, groot huis gebou. Aan die agterkant was daar ’n groot onthaalarea met sewe pragtige pilare. Met die huis se inwyding het sy ’n groot partytjie gehou. 2Daar was baie kos. Die beste wyn is uit die kelders geneem, die tafels is pragtig gedek en met wonderlike kosse oorlaai.
3Toe alles gereed was, het Wysheid haar bediendes gestuur om die gaste te gaan haal. Veral by die woonbuurte waar baie mense gebly het, het hulle die mense genooi. 4Wysheid se uitnodiging was duidelik: “Kom, almal wat nie weet hoe om reg te leef nie. Kom, almal wat geen insig in die lewe het nie. 5Kom geniet in oorvloed die goeie dinge wat ek jou bied. 6Los jou dom manier van lewe. Laat ek jou leer hoe om gelukkig te leef.”
Wysheid het ook vyande
7Dink mooi hoe jy iemand wat met God spot, moet antwoord. As jy hom op sy foute wys, kan hy jou verneder. 8As jy hard met hom praat, kan hy jou seermaak. Hy kan jou begin haat, jou groot skade aandoen.
9’n Gelowige is heeltemal anders. Wys jy hom mooi op sy foute, sal hy jou liefhê. Gee hom goeie raad, en hy verstaan die lewe beter. Leer hom om reg te lewe, en hy ken groot geluk.
10Om reg te leef moet jy eers die Here liefhê. As jy die Heilige ken, verstaan jy soveel meer van ’n gelukkige lewe. 11As jy reg optree, word jou lewe elke dag net lekkerder, jou lewensjare net gelukkiger.
12Dus, as jy elke dag op die regte manier leef, is die lewe wonderlik. Maar as jy die wysheid verwerp, is die lewe sleg.
Dwaasheid het ook ’n huis
13Anders as Wysheid is Dwaasheid ’n verskriklike verleentheid. Sy is dom. Raserig. ’n Regte flerrie. En van ’n gelukkige lewe weet sy net mooi niks nie.
14Haar huis is op die besigste plek in die stad. Lui-lui sit sy heeltyd voor haar huis. Elke man wat verbystap, roep sy nader. Ook goeie jongmans probeer sy verlei.
15Vir almal sê sy dieselfde ding: “My huis is net die regte plek vir dommes, vir mense wat niks van ’n gelukkige manier van leef weet nie. 16Dis tog so lekker om dinge te doen wat verkeerd is. 17Soos om water of brood te steel. Daarom is skelm verhoudings so lekker! Almal is in my huis welkom.”
18Wie Dwaasheid besoek, vernietig sy mooi lewe. Haar huis is soos die dood. By haar kry die dood ’n greep op jou, slaan sy haar aaklige kloue in jou in, sleep sy jou stadig maar seker die graf in.

Currently Selected:

Spreuke 9: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy