YouVersion Logo
Search Icon

Markus 10

10
Mag ’n mens skei?
1Van daar af is Jesus in ’n suidelike rigting na Judea toe. Hulle is aan die oorkant van die Jordaan langs. Mense het weer om Jesus saamgedrom en soos Hy gewoonlik gemaak het, het Hy hulle van God vertel. 2Van die streng godsdienstige Fariseërs het ook by die groep aangesluit. Hulle wou kyk of Jesus Hom nie dalk kon vaspraat en so in die moeilikheid beland nie. Hulle vra Hom toe: “Mag ’n man van sy vrou skei?”
3“Wat het Moses vir julle in sy wet gesê?” vra Jesus toe.
4“Wel,” sê hulle, “Moses het gesê ’n man kan ’n brief skryf waarin hy sê dat hy van sy vrou wil skei en dan is alles verby. Sy moet dan uit die huis uit.”
5“Dit was omdat julle so hardkoppig en vol sonde is dat Moses dit gesê het,” antwoord Jesus toe. 6“Reg van die begin af het God mans en vroue gemaak. 7As ’n man en ’n vrou trou, gaan hy van sy ouers af weg en bly saam met sy vrou. 8Hulle twee is dan soos een mens. 9As God twee mense so aan mekaar vasgemaak het, mag niemand die band tussen hulle losmaak nie.”
10Toe hulle later weer saam by die huis was, het sy getrouste volgelinge Jesus gevra wat Hy daarmee bedoel het. 11Jesus verduidelik toe: “As ’n man van sy vrou skei en met ’n ander vrou trou, is hy in God se oë ontrou aan sy eerste vrou. Net so, 12as die vrou van haar man skei en met ’n ander man trou, is sy ook in God se oë ontrou aan haar eerste man.”
Jesus neem die kindertjies in sy arms
13Op ’n keer het mense kindertjies na Jesus toe gebring sodat Hy hulle kon seën. Die dissipels het hulle egter gekeer. 14Toe Jesus dit sien, sê Hy dadelik dat sy dissipels moet ophou: “Moet nooit kindertjies keer om na My toe te kom nie. Hulle is altyd welkom by My.
15“Die nuwe wêreld van God is juis bedoel vir mense soos hulle. Hiervan kan julle maar seker wees: wie nie God se leiding en heerskappy aanvaar soos ’n klein kind sy pa se leiding aanvaar nie, sal nie ’n plek in God se nuwe wêreld hê nie.” 16Toe het Hy sy arms oopgehou sodat die kindertjies nader kon kom. Hy het hulle vasgehou, sy hand op die koppies gesit en hulle geseën.
Geld kan jou nie red nie
17Net toe Jesus by die huis uitgaan om verder te gaan, kom daar ’n man na Hom toe aangehardloop en val op sy knieë voor Hom neer. “Meneer, U is ’n goeie prediker,” sê hy. “Sê my, wat moet ek doen om die ewige lewe te kry wat God vir mense gee?”
18Jesus sê vir hom: “Waarom sê jy Ek is goed? G’n mens is regtig goed nie. Net God en Hy alleen is goed. 19Wel, jy ken mos die wil van God soos ons dit uit die wet leer. Daar staan dat jy nie iemand mag doodmaak nie, dat jy nie ontrou aan jou huweliksmaat moet wees nie, dat jy nie ander se goed mag vat nie, dat jy nie mag lieg of mense onder die verkeerde indruk bring en hulle so om die bos lei nie, en dat jy jou ouers met respek moet behandel.”
20“Ek doen al dié dinge van kleins af al, Meneer,” sê die man vir Jesus.
21Jesus kyk toe na hom. Dit was ’n oulike man van wie Jesus gehou het. “Daar is een ding wat jy nie reg doen nie. Gaan verkoop alles wat jy het en gee dan die geld vir die mense wat niks het nie. Op dié manier sal jy ryk wees in die oë van God. Nadat jy dit gedoen het, kom terug en word een van my volgelinge.”
22Aan die man se gesig kon ’n mens sien dat hy baie teleurgestel en uit die veld geslaan was, want hy was baie ryk. Met ’n hartseer uitdrukking op sy gesig is hy daar weg.
23Jesus bekyk die situasie toe so en sê vir sy getrouste volgelinge: “Ai, wat ’n opdraande pad is dit nie vir ryk mense om deel te word van God se nuwe wêreld nie.”
24Dié woorde het Jesus se volgelinge nogal verbaas. Maar Jesus het verder gepraat: “My kinders, dit is glad nie so maklik om in die nuwe wêreld van God in te gaan nie. 25Om die waarheid te sê, ’n olifant sal eerder deur die oog van ’n naald kan stap as wat ’n ryke in God se nuwe wêreld sal kan instap.”
26Nou was Jesus se volgelinge eers verbaas. Hulle sê toe vir mekaar: “Wie op aarde sal dan in God se nuwe wêreld kan kom?”
27Jesus kyk toe vir hulle en sê: “Dit lyk miskien vir mense onmoontlik, maar God kan alles doen. Niks is vir Hom onmoontlik nie.”
28Petrus begin toe noem wat hy gedoen het: “Wel, ons was darem gewillig om alles te laat staan en agter U aan te kom.”
God sal jou beloon
29“Luister nou mooi wat Ek sê,” sê Jesus. “Daar is niemand wat iets vir My en my boodskap prysgegee het wat nie honderd maal soveel sal terugkry nie. Dit maak nie saak of dit sy huis, broers of susters, sy ma of pa of kinders of sy grond is nie. 30As Christen kry hy nou by al sy mede-Christene huise en broers en susters en ma’s en kinders en grond. Maar Christenskap is nie net lekker nie. ’n Mens sal soms ook swaarkry omdat jy ’n Christen is. Maar wanneer God weer kom, sal so ’n persoon die ewige lewe ook kry. 31Baie mense wat nou vreeslik in tel is en hulle baie belangrik hou, sal dan niks wees nie en wie nou niks is nie, sal dan die belangrikste plekke inneem.”
Jesus het gekom om te dien
32Jesus-hulle was op pad Jerusalem toe. Jesus het voor geloop terwyl sy volgelinge agternagekom het. Sy getrouste volgelinge was omgekrap en ontsteld terwyl ander bang begin voel het. Weer ’n keer vat Hy sy getrouste volgelinge eenkant toe en vertel vir hulle mooi wat met Hom gaan gebeur. 33“Ons is op pad Jerusalem toe,” sê Jesus. “Daar sal Ek, die Seun van die mens, op ’n verraderlike manier in die kloue van die leiers van die Jode en die Joodse geleerdes val. Hulle sal besluit dat Ek uit die weg geruim moet word. Hulle sal My dood wil sien en daarom sal hulle My aan die Romeine oorgee. 34Hulle sal My sonder genade behandel - hulle sal op My spoeg, met My spot, My met swepe slaan en uiteindelik doodmaak. Maar drie dae later sal Ek uit die dood lewendig word.”
35Sebedeus se twee seuns, Jakobus en Johannes, kom vra Hom toe: “Meneer, ons wil U asseblief ’n groot guns vra.”
36“Vra maar, laat Ek hoor,” sê Jesus.
37“As U eendag groot en belangrik as heerser op u troon sit, kan ons asseblief aan weerskante van U sit?” vra hulle vir Jesus.
38“Julle weet nie wat julle vra nie,” kom Jesus se antwoord. “Die pad wat vir My voorlê, is bitter swaar. Dit is soos ’n beker vol smart en seerkry wat Ek moet drink. Ek dink nie julle sal dit saam met My kan drink nie. Soos iemand wat in water gedoop word, moet Ek in lyding gedoop word. Sal julle dit kan uithou? Ek glo nie.”
39“Ons sien daarvoor kans,” antwoord hulle vinnig.
“Dit is wel so dat julle ook die beker van smart soos Ek sal drink en soos Ek in lyding gedoop sal word,” antwoord Jesus hulle. 40“Maar Ek kan julle nie beloof dat julle aan weerskante van My sal kan sit nie. Dit is nie vir My om te besluit nie. God maak daardie plekke reg en Hy sal besluit wie sit waar.”
41Toe die res van die twaalf dit hoor, was hulle sommer die duiwel in vir Jakobus en Johannes. 42Jesus roep hulle toe bymekaar en sê: “Julle weet mos hoe dit byvoorbeeld onder die Romeine gaan. Hulle het leiers wat vir die mense sê wat moet gebeur en wat nie. Belangrike amptenare sit in die hoë poste en regeer die gewone mense van daar af.
43-44“Onder julle as Christene mag dit egter nie gebeur nie. As iemand onder julle belangrik wil wees, moet hy die onbelangrikste posisie onder julle inneem. Hy moet bereid wees om alles te doen wat die ander van hom vra en moet die hele tyd reg wees om die ander te dien, of dit hom nou pas of nie.
45“Selfs Ek, die Seun van die mens, het nie gekom sodat almal My moet bedien nie. Ek het gekom om ander te dien. Daarom het Ek my lewe gegee sodat baie mense daardeur weer God se eiendom kan word.”
’n Blinde kan weer sien
46Hulle kom toe by Jerigo aan. Jesus, sy getrouste volgelinge en ’n groot klomp ander mense was net op pad uit die dorp uit toe hulle by ’n blinde man verbyloop wat daar langs die pad gesit en bedel het. Dit was Bartimeus, die seun van Timeus. 47Toe hy hoor dat dit Jesus van Nasaret is wat daar verbyloop, begin hy hard skree: “Jesus, Seun van Dawid, het U nie asseblief ’n bietjie jammerte vir my oor nie?”
48Baie mense het kwaai vir hom gesê om stil te bly. Maar hy het hom nie laat afsit nie en het harder geskree: “Seun van Dawid, sien my asseblief tog raak en kry my ook jammer.”
49Jesus gaan staan toe stil en vra: “Gaan roep daardie man, asseblief.”
Hulle roep toe die blinde man en sê: “Dit is jou gelukkige dag. Kom, Jesus roep jou.” 50Die man gooi sy baadjie eenkant toe, spring op en kom na Jesus toe.
51“Wat wil jy hê moet Ek doen?” vra Jesus hom.
52“Ek wil asseblief graag sien, Meneer,” kom die antwoord.
“Jy kan maar gaan,” sê Jesus vir hom. “Omdat jy op My vertrou het, is jy nou gesond.” Die man kon dadelik sien en hy het daar en dan vir Jesus begin volg.

Currently Selected:

Markus 10: DB

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy